Thursday, June 04, 2009

Oor stilte, inkering en 'n wêreld wat tot inkeer kom

Ek het so pas Jan Heunis se boek klaar gelees oor sy ervaringe van die jare met die oorgang na ‘n demokratiese bedeling in ons land en die uitgerekte grondwetlike onderhandelinge met die ANC. Dit is ‘n boek oor, met erkenning aan Cussons, “die noodsaaklike besigheid van die wêreld”, oor “ons heil” wat die politici vir ons uitwerk. Destyds het die boek nogal opslae gemaak, maar ek het dit nou eers kon lees.

In hierdie “noodsaaklike besigheid van die wêreld” was Heunis soos ‘n bergklimmer wat ‘n skynbaar onoorwinlike berg op is om dit te oorwin, om ‘n vlag op die kruin te plant en breëbors vir ‘n foto naas die vlag te poseer. Hy was ‘n regasadviseur van die regering by die grondwetlike onderhandelinge. Hy skryf dat hy later die belangrikste adviseur was en met die opposisie se regsverteenwoordiger op ‘n stadium sleutel-tekste deur die nag geskryf het. Hy vertel met oorgawe oor sy belangrike, uitputtende werk tydens onderhandelinge oor ‘n nuwe grondwet, oor “die noodsaaklike besigheid van die wêreld”. Hy vertel van al sy ervaringe in al die hoë poste wat hy beklee het en met watter van die groot name hy gedurigdeur te doen gekry het, van al hulle skete, dwarstrekkery, geheime ontmoetings, dreigemente.

Ek het van die boek bewus geword toe ek toevallig op name van my studente afgekom het wat saam met hom student op Stellenbosch was en wat later kollegas van my geword het. Ek het die boek daarom met meer as gewone belangstelling gelees, omdat ek hierdie mense baie goed geken het en verras was oor Heunis se inligting oor hulle. ‘n Mens ontdek soms onthullende inligting (in hierdie geval: jare later) wat onverklaarbare dinge skielik in hul plek laat val, hoewel ‘n mens altyd weer destyds iewers iets vreemds in die lug voel hang het – maar nooit die vinger presies op die pols kon sit nie. Hy vertel onder andere van die georganiseer deur senior akademici en predikante op Stellenbosch om die studenteraad (!) aan die “regte” kant te hou. Onder hulle is die name van predikante met wie ek dikwels te doen gekry het en akademici wat my direkte kollegas aan die universiteit op Stellenbosch was. Hy het ondere andere ‘n vertelling van hoe die Ruiterwag die verkiesings onder leiding van die akademici en predikante beplan het en wie almal hulle kandidate was.

(Dit laat my so bietjie aan die onthullings in daardie dekade in die Engelse sondagkoerante van name van teoloë op Stellenbosch wat aan die geheime Afrikaner organisasie behoort het. Een of twee van hulle was in meer progressiewe kringe hoog aangeslaan as on-tipies van die gemiddelde N.G. dominee en teoloog. Die verslaentheid was groot destyds toe hulle bewonderaars agterkom selfs hierdie vermeende verligtes vergader in die geheim en voorsien die stutwerk vir die politieke bedeling van destyds. So groot was die ontnugtering dat hierdie vermeende verligte lede van die geheime vereniging spoedig daarna waardiglik vertel het dat hulle besluit het hulle moet eerder bedank uit die organisasie. Sal van die dakke verkondig word....)

Was sal ‘n mens sê van al hierdie dinge? Die sake wat “agter die skerms” gereël is. Die groot posisies waarna sommiges destyds so kennelik gesmag het. Die besoeke van studente aan Groote Schuur by die eerste minister (sowaar), by oom John, of P.W., of by oom Chris. Die harde, meedoënlose gekibbel. Die baantjies vir boeties (die sussies was toe nog grootliks uit, in die huishoudkunde departement of by die skoolmusiek-departement). Ek lees van ministers wat woedend by vergaderings uitstorm, van getekende ooreenkomste wat summier ondermyn word, van fondse wat misbruik word. Is dit dan hoe die “noodsaaklike besigheid van die wêreld lyk”?

So sou ‘n mens nog baie ander dinge kon byvoeg, veral as jy eers bedink hoedat Heunis se boek net ‘n klein kykie gee in die destydse samelewing. Ek onthou byvoorbeeld hoe ek in daardie tyd op Grahamstad, waar ek destyds deur ‘n kennis in die plaaslike gemeente uitgenooi word (ongevraagd) om ‘n bybelstudie by te woon. Maar toe was ek in die teologiese fakulteit ook betrokke by baie vergaderings en byeenkomste in die universiteit. Omdat daar ‘n noodtoestand was en openbare vergaderings verbied was, is ons pragtige kapel in die allermooiste en sierlike tuin by teologie dikwels vir dienste en protesbyeenkomste gebruik. Ek was Hoof en is gewoonlik gevra om die dienste te lei. Dit was onvoorstelbaar: die singende, dreunende massa’s wat hul opgekropte emosies die lug in laat skeur het met aanhoudende liedere, diep gekleur deur sterk vrouestemme en begeleidende bas-stemme. “Wat het ons dan gedoen....” het hulle, diep verwond, skor en meesleurend gesing... By geleentheid was 6 000 mense in en rondom die kapel as ‘n massa bymekaar, voordat ons deur die strate ‘n optog gehou het (dit was die tweede wettige optog in die land, die eerste een was die beroemde een by die St George’s katedraal in Kaapstad, gelei deur aartsbiskop Tutu). Ek het destyds graag hierdie verantwoordelikheid op my geneem, want dit was ons klein, ongerekende protes teen apartheid. En ek het gehoop ek doen dit met integriteit en as ‘n teken van my verlange na ‘n regverdige, oop samelewing. In hierdie tyd het ek egter lidmaat van die kerk gebly, my kinders was in die Afrikaanse skool en ek was nooit skaam vir my Afrikaansheid nie. Ek was so “vanselfsprekend” lidmaat, en so tuis in die gemeente, dat ek, naïef, gedink het daar is wederkerigheid in hierdie “behoort” van my aan die kerk, die gemeenskap van heiliges, waar ons voor God een is en in liefde aan mekaar verbind is. Maar - terug by die Bybelstudie: toe ek die aand daar opdaag, sit een van die twee predikante van die gemeente ook daar. Dit het my nie gesteur nie, trouens, dit het die gesprek interessant gemaak. Maar later, veel later, hoor ek toe wat werklik daar gebeur het. Maande daarna kom dit toe uit: die man wat my genooi het, het ook die dominee gevra om maar liewer ook te kom (toe ek die uitnodiging aanvaar) om te keer dat ek hulle met onBybelse opmerkings indoktrineer en mislei. ‘n Piepklein insident. Skaars werk om vertel te word. Dit is ook nie die “wantroue” wat seker hier uitstaan nie. Maar dit is daardie “agter die gordyne” optrede, weggesteek, verborge in die donkerte van nie-weet nie, wat ‘n mens agterna onthou. Ek het eers later verder gehoor dat my gasheer en sy kerklike konneksies boonop ook aan dieselfde verborge organisasie behoort het.

Sulke inherente angs roep diep medelye by my op. ‘n Mens wil uitreik na mense wat so onseker leef. Moenie. Wees vry in die Here. Laat gaan. Die Here stel nie teleur nie. Selfs in die troebel tye, kan jy rustig, soos Hy, slaap.

Ek het vyf jaar later my kennis wat my uitgenooi het, se predikant geword (dit is ook ‘n ander verhaal). Ons het daarna op baie vlakke saamgewerk en vriende geword. En ek het baie jare later sy ma begrawe. Onlangs nog het hy my gebel, 10 jaar nadat ons uit die dorp weg is, net om weer te gesels.

“Die noodsaaklike besigheid van die wêreld.” Ons is vasgevang in die aarde wat hel geword het: vooroordele, politiekery, manipulasie, blindheid, botte verharding in ons denke, onbekeerbaarheid, verwerping van mekaar. Maar ook veel subtieler: ons weggesteekte huiwering, ons bedekte afwysing, ons aangeleerde doofheid, ons afskerming, ons vrees.

Ek lees Heunis se boek en ek dink terug aan al die troebel tye, die noodtoestande, die woedende betogings, vroue en kinders wat op strate doodgeskiet word, die angs van mense wat in tronke sterf, in Vlakplaas vermoor word, seuns wat aan die grens sterf, derduisende mense in ballingskap, bomontploffings op die strate, sporttoere wat ontwrig is, die vervaardiging van kernwapens en ons magtige wapenindustrie. Dit groot geraas van die groot, “noodsaaklike besigheid” van ons destyds klein, afgeslote, onvry en bang jare. Watter goue jare kon dit nie gewees het nie! As ons maar ons heil elders gaan soek het as in hierdie mislukte, jammerlike jare. 34 jaar lank, die goue jare van my eie akademiese loopbaan, het in hierdie tyd ingegaan, opgesluk deur jaar na jaar se angs, onvryheid en verlange na wat mooier en skoner kon gewees het.

Maar hóé sou dit anders kon gebeur het? Wat sou dit anders kon gemaak het? Wat het my dan gebring by die punt dat ek met ‘n ander “hart” hierdie “noodsaaklike besigheid van die wêreld” van my familie, my vriende, my mede-landgenote bekyk het en iets anders beleef het?

Hoe dra ons die vrug wat werklik van die Gees is, wat opkom uit ‘n hart wat omgee, wat uitreik, wat vry is in die waarheid, ontlaai van angs en innerlike onsekerheid? Wat nie agter die skerms hoef te werk nie, maar van aangsig tot aangesig, van gelaat tot gelaat kan leef, eg, waar, lig, veerlig, kan leef?

Ons kry dit stilweg, mymerend, nadenkend, by die Here. “In die Heer” ontdek ons die ewige wêreld, sterf ons die ou wêreld af, die vroeëre aarde (Cussons).

Waarom wil ons vrug dra? Om van die aarde ‘n plek te maak wat ánders lyk, waar die strate stil is, die belangrikes van hul troontjies afklim, ons berge bestyg nie om te oorwin en vlae te plant op kruine nie, maar om by God in stilte te wees. Om op die bergtop te bly, na aan die hemel, waarons God van naby kan aanskou.

Waarom vrug dra? Om met ons harte mekaar raak te sien: van gelaat tot gelaat. Waar ons vir mekaar méns word. Waar ons nie meer die ander in ‘n magsgreep bedreig, doodmaak, wantrou, agter die rug praatjies maak nie.

Waarom is dit so seldsaam – hierdie liefdevolle blik wat ons mekaar verskuldig is? Hoekom is al ons drome oor ‘n beter aarde ‘n stukkie vergeelde papier in ‘n boek wat net per toeval weer gelees word – ‘n antikwariese boek? Waarom deformeer ons al hoe meer, in plaas van transformeer? Waarom vernietig ons hierdie kosbare aarde wat die Here aan ons gee om in stilte te geniet en as paradys met Hom te bewoon?

Om in die stilte van die tuin, God se paradys, te kan leef. Naak voor mekaar. Sonder skuld, verenig in liefde.

Wat my nou uitbring by Sheila Cussons se, “Op ‘n velletjie vergeelde papier in ‘n antikwariese boek” – met wie my skrywe hier in ‘n intertekstuele gesprek gegaan het. (Ongelooflik – die enigste rym in die gedig is in die laaste, skuinsgedrukte strofe – op die twee woorde wat die kern van die gedig uitmaak).

“Ja – dit, en dat, is die noodsaaklike
besigheid van die wêreld, maar
meer en meer voel dit vir my
dat ek die wêreld afsterf.

Laat die politici vir ons ons heil
uitwerk: hoe kan hulle weet: en
in elk geval, wie het my laat besef? –
daar is ‘n ander.

Daar is ‘n sien, ‘n soort sien –
waarom is dit seldsaam? – wat van
die hart is, eenvoudiger as oë
omvattend en ineens

maar daarvoor is baie stilte nodig ...
verbeel jou: ‘n wêreld wat tot
inkeer kom: stilte op straat en
ampstoele leeg:

‘n leier wat bedank om ‘n berg te klim,
sonder behoefte om ‘n vlag
op die kruin te plant. ‘En daar was
stilte in die hemel’“

Ek glip die velletjie weer in sy plek
“noodsaaklike besigheid van die wêreld”...
‘n Straaljaer êrens in die nag en in
‘n laboratorium die ligte aan tot laat.

Ek is die aarde: hoor my: maak stilte
In julle harte sodat ek deur julle
kan vrug dra in die Heer
want slegs so sal julle my, en ek myself
uiteindelik transendeer.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive