Sunday, June 14, 2009

Om God in liefde te aanskou

Ek verbaas my elke keer as ek mense trou en hulle ervaring van so naby meemaak, hoe totaal hulle ingestel is daarop. Die vaalste mensie en die stilste muis, verander in sprokiesmense in die beplanning en ervaring van hul spesiale dag. Die groot oomblik, die verruklike dag doen iets onvergeetliks aan die bruid en bruidegom.

Dit is nie verniet dat die Bybel die verhouding tussen God en mens met ‘n huwelik vergelyk nie, soos byvoorbeeld in die geval van Hooglied. Bybelkenners maak baie daarvan dat Hooglied eintlik oor die huwelik en oor erotiese liefde gaan. Maar deur die eeue heen het baie lesers hierdie boek gesien as ‘n feesviering van die verhouding van God tot die mens. En as sommige geleerdes huiwerig is om Hooglied ook geestelik te lees, kan hulle gerus na Openbaring gaan, want daar word die gemeente as bruid van Christus voorgestel wat op pad is na die bruilofsmaal. Openbaring, die boek van aanbidding (kyk maar Openbaring 4-5) eindig in ‘n bruilof.

Kontemplasie is die mees intieme en besondere oomblikke in die mens se geestelike reis. Soos 'n troue vir jongmense, so is kontemplasie vir gelowiges. Ons lees die Bybel, bedink dit en word dan deur ons oordenking gebring tot ons gebede aan God. Maar nooit eindig die reis hier nie. Gebed is maar die deurgang tot daardie heel unieke ervaring dat ons vir God aanskou. Baie skrywers vergelyk hierdie oomblik van diepe aanskouing van God met ‘n bruilof: ‘n mens word oorweldig deur die intimiteit daarvan, met die vreugde en verrukking wat dit bring. Wat is tog ‘n beter beeld om hierdie spesiale oomblik uit te druk as God se wittebrood met die mens.

Paulus skryf in Romeine 1:20 dat die mens van die tyd van die skepping af al vir God kan herken uit God se werke. Mense “weet” dus van God, maar, skryf Paulus in Romeine 1:21, hulle eer en dank God nie.

Alle mense weet van God. Diep in alle mense is daar dus ‘n plek waar ons God ken. Dit is in die sentrum van alles wat ons is.

Maar wat belangrik is, is wat doen ons met ons kennis van God. As ‘n mens nie reageer op hierdie wete in ons dat daar ‘n God is nie, doof ons die lig wat in ons skyn uit. Dan word ons kennis van God uitgewis. God is dan vir ons “dood”. Ons het ons gevoel vir God laat sterwe.

Ons innerlike, ons “siel” verwelk en gaan agteruit totdat dit uiteindelik verdor en daar net hardheid, leegheid oorbly. Dit is verskriklik as dit met jou gebeur. Jy verloor jou menslikheid. Jy kan godsdienstig wees, uiterlik meedoen aan allerhande geestelike oefeninge, maar dit bly uiterlik. Dit raak jou nie, dit verander jou nie. En hoe langer jy onveranderd bly deur jou godsdiens, hoe groter jou geestelike verlatenheid en dorheid.

Maar as ons ons oopstel vir God se inwerking in ons lewens, as ons God se stem byvoorbeeld in Christus se lewe en woorde wil hoor en wil aanvaar, dan ontkiem daar in ons nuwe lewe. Diep in ons, waar niemand anders kan kyk nie, waar ons soveel hartseer, lyding en donker gedagtes wegsteek, waar ons dikwels nie eers onsself verstaan nie, daar wil God kom woon en nuwe lewe bring.

En as God die saadjie daar saai, en ons stel ons hart oop, en die Gees voed die saad in ons en dit ontkiem, is dit om in die Here weg te gly – in Cussons se woorde. Dit gebeur, veral as ons hard geword het, stadig. Dit is so 'n bietjie belangstelling wat in jou loskom, amper soos 'n bietjie van 'n lae noot verliefdheid: is hier nie dalk regtig iets wat my tot lewe kan bring nie? En op 'n dag, as die plantjie deur die harde kors breek, kom daar die verliefdheid. Die onbeholpe gesukkel, die gevoelens, deurmekaar, maar daar. Ons ken eintlik almal hierdie proses: ons praat van ons gewete wat ons pla, van die Gees wat in ons werk.

Hoe ongelooflik: God wat so hoog is, so buite ons bereik, wat die heelal geskep het, kom in ons diepste innerlike en kom woon daar - soms stil-weg, soms stadig, soms selfs huiwerend. Maar God is daar en ons verlange na God word meer en meer. Hoe ongelooflik dat ons met God een kan word op so ‘n intieme manier.

Hoe vreemd is dit ook terselfdertyd nie: ons kyk dikwels op, na die hemel, na die wye ruimtes. Maar einlik moet ons stil raak voor die groot wonder, dat God by ons is, hier in ons, naby ons, nader aan ons as wat ons by onsself kan wees. Ons moet rus vind in God se liefde wat so intiem na ons uitreik soos die liefde van ‘n bruid vir die bruidegom.

En dan, by hierdie punt dat ons in God se liefde wegsak, ontbreek die woorde ons. Ons is stom, sonder iets om te praat voor die aanskouing. En so moet dit wees, want hierdie veliefdheid, hierdie intimiteit kom daar waar ons gebede ophou. Hier gaan oratio oor in contemplatio. Ons geestelike reis moet dus verby gebed, by God eindig.

Maar ek loop vandag hieroor en dink: dat die teenwoordigheid van God ons stom laat omdat dit so gelaai is met liefde. Johannes 3:16 probeer dit weergee. Die Christus-beeld is die beeld van 'n liefdesgawe - dit is hoe God teenoor die aarde is. Daar, waar God in liefde teenwoordig is, is woorde nie meer nodig nie. Die geliefde weet, die geliefde is daar. Woorde is te arm om die volheid, rykheid en vervulling hiervan weer te gee. Ons hoef niks te begeer nie, na niks te verlang nie. Want God is by ons. Johannes 17: Die heerlikheid wat U my gegee het, het Ek ook aan hulle gegee....

Hoe ondenkbaar dat ons bang kan wees vir God!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive