Wednesday, June 03, 2009

Die Ab Praat. Oor Sheila Cussons en die mistiek

Sheila Cussons skryf die volgende gedig in haar Die Sagte Sprong (1979)

Die ab praat


Niks bedrieg so
waar die siel haar engte
wil oorstyg nie soos ‘n oorspanne gemoed,
berugte oorsaak van stemme
en visioene en rare verrukkinge:
moenie God hardkoppig
deur ‘n oordrewe askese wil dwing nie,
my seun: daarin is meer van trots
as nederigheid: wat baat
ontsegging, ontbering, die haarkoord selfs
en die hart is nie rein nie?:
want daar is gebreke so subtiel versteek
en wat so stil lê soos bont spinnekoppe
teen die bont bas van ‘n boom, dat slegs
daardie blik deur ons bestendige blik
hulle vir ons kan ontwaar –
Wees nederig dan, wees klein,
die nietigste, wees niks, soet niks
so soet onselfbewus, want só, wanneer
die siel haar greep aan eie-dunk
en elke begrip en beeld loslaat, en sy
gewigloos slegs één liefde, één aandag is,
en Hy dit wil, sal sy in matelose vervloeiing
weggly in haar Heer – Maar soos yster
wat in vuur deurskynend vuur word, nooit
soos dan so wesentlik yster is, sal sy
telkens na sy besoek en tot Hy weer kom
swaar en koud en smagtend die vuur begeer.
Hy vir wie die engele sien in daardie
intellektuele lig wat uit Hom in hulle straal
mag ons slegs momenteel en rakelings
besoek, uit deernis met ons vlees,
maar o, besóék, want daar is vir sy verlange
na ons, om óns ontwil, geen woorde
in enige taal.


Ek het hierdie mistieke gedig na aanleiding van my nadenke oor die mistieke ervaring (sien baie ander dele in hierdie blog) heel voorlopig op die volgende manier verstaan. Ek moet nog verder daaroor nadink, maar hier is die eerste poging.

Die ab
‘n Ab is die leier van ‘n monnike klooster of orde. As senior en ervaarde leier, begelei hy mense wat die asketiese lewe soek en vir wie die mistieke ervaring van God ‘n brandende begeerte is. Hulle sonder hulle in ‘n klooster af om eenheid met God te beleef. Sy groot rol is mistagogies: die geestelike begeleiding van die mens in die soeke na God. Hier praat die ab, die meer ervare leier wat oor jare heen die pad geloop het en verstaan hoe teer die geestelike reis is. Hy verstaan ook hoe maklik die geestelike soektog kan ontspoor. Hierdie gedig is sy “praat” met sy mede-reisigers, met “sy seun”, die nuweling as askeet.


Egte mistiek
In die mistiek word baie vertel van mistici wat allerhande ekstatiese ervaringe het en dit met hart en siel soek. Sulke ervaringe word dan ‘n teken van God se aanraking. Dit sluit in visioene van God. Vele mistici sal nooit oor sulke ekstatiese ervaring praat nie. Hulle hou dit vir hulleself. Daar is egter argwaan onder mistici teen sulke uitsonderlike ervaringe. Hierdie gedig staan in die teken van daardie kritiek. Die ab waarsku dat ‘n mens jouself maklik kan bedrieg deur sensasionele ervarings. Die gelowige mens moet onderskei tussen egte en onegte mistiek. Onegte mistiek word in hierdie gedig verbind met “oordrewe askese”, “hardkoppigheid”, “trots”. Die siel wil haar “engte” oorstyg, wil uit haar beperkte terrein uitbreek in menslike krag en gedryf deur menslike inspanning.


Onderskei en beproef (discernment)
Om onegte mistiek te herken, om “subtiele” “gebreke” in die geestelike reis te herken, vra, soos die mistieke tradisies ook sê, ‘n onderskeidende gees. ‘n Mens kan die onegtheid net deur “daardie blik,” “die bestendige blik” “ontwaar” (beautiful!). Met ander woorde soos iemand versigtig gaan kyk en ontleed dat daar ‘n bont spinnekop op ‘n bont boom sit, so gaan ‘n mens die gebreke in die inspanning tot vroomheid, die askese uitken. Egte askese kom uit ‘n rein hart (reël 11). En ‘n rein hart wil nie vir God probeer “dwing” nie (reël 7). Sulke askese is ‘n menslike greep op God, dit wil God voorsê, beheer, manipuleer, in God se plek in skuif. Die mens luister nie, wag nie, maar wil heers en beheer, mag uitoefen, die besluite neem, voorsê. Hier is geen dialoog met God nie, of, eerder, God se dialoog met die mens nie, maar eintlik ‘n menslike monoloog. Die ab praat: wag op God, laat God toe om na jou te kom wanneer die tyd reg is. Wag totdat God dit wil (reël 23).


Biddende verlange
Mistiek is immers in die eerste plek die biddende verlange na God: die bidder wag op God, soos yster “swaar en koud” (reël 28) die vuur “smagtend” begeer (reël 24) tot God dit wil om die mens te besoek (4e laaste reël). Niemand kan hierdie besoek van God (drie keer gebruik in die gedig), die “momentele”, “rakelingse” aanraking van God, afdwing nie. ‘n Mens moet biddend gereed wees en jou instel op God wat in ‘n mens se lewe inkom, besoek aflê.


God kom
Die mens kan maar net afwag. Maar die egte mistieke ervaring kom alleen maar wanneer God se teenwoordigheid en handeling in jou lewe op die voorgrond te staan kom (Waaijman!), wanneer, in die woorde van die ab, . God sal “weer” en “weer” kom na elke besoek en die askeet verander “soos yster wat in vuur deurskynend vuur word” (reël 27). Vir my is ‘n sleutel-oomblik in die gedig: “as Hy dit wil” (reël 23) en as Hý na die siel kom (reël 28).


Verrukking en ekstase
En wanneer God jou besoek, by jou opdaag en begin werk, vind die egte verrukking plaas (nie die “rare verukking” van die sensasionele, oordrewe askese nie, nie die stemme en visioene nie). Dan kom “die matelose vervloeiing” van die siel in God (reël 23). Die “weggly in haar Heer” (reël 24). ‘n Mens word sonder maat, onmeetbaar in die goddelike opgeneem. Die siel is nie meer op haarself ingestel nie, op haar eie presterende askese nie, maar op haar Here. Die verrukking is volmaak want dit het Iemand anders gevind. Die siel word gevul met die teenwoordigheid van die Heer. Hierdie verrukking is oorweldigend. Die aanraking van God skroei en bloei ons. Uit “deernis” vir ons “vlees” kan God die siel net aanraak, rakelings, vir ‘n oomblik (reël 32), as dit meer gebeur sal dit te veel wees. Die mens is te beperk om hierdie onmeetbare, matelose Liefde te kan verduur.


Nietiging
Dit beteken dat die siel haarself in God “verloor.” Wanneer ‘n mens in verrukking by God is, is jy terselfdertyd niks nie: Dan is jy, in Cussons se aangrypende beskrywing: “nederig.” Of in egte mistieke taal: “klein, die nietigste”. Die ab sê daarom, “wees niks, soet niks so soet onselfbewus”, so sonder “eie-dunk.” Dis amper uncanny: hierdie nietiging wat terselfderty as “niks so soet” beskryf kan word.


Passiwiteit en onmiddellikheid.
Die mens word passief deur God (as Hy wil!) beweeg, ontmoet en omhels. Deur God se besoek word die siel gereinig van eie dunk en dink. Die siel laat “elke begrip en beeld los.” Dit is lyding, passie, want die mens moet swaar leer om te wag en God te laat werk, nie om God te probeer dwing nie. En dit is nie maklik nie. Maar wanneer die siel so alles prysgee, wen die siel weer alles. God is daar! God werk onmiddellik, direk, sonder tussenkoms. Sonder woorde, sonder beelde, sonder begrip, sonder die mens se denke. Dit is nietiging van alles wat tussen God en mens staan, nie vernietiging van die siel nie. ‘n Mens, los van jouself en jou arrogante vroomheid, ervaar hierdie loskom van jouself as ‘n “soetheid” – eintlik ‘n verlossing. Uiteindelik bevry van alles wat jy so krampagtig vashou en gedink het dit maak jou gelukkig, ook van jou oordrewe askese. Laat dit gaan, laat dit gaan, wees net daar vir God. Dit is die weg van saligheid, van soetheid. Wees beskikbaar. Dis genoeg. Die tollenaar. Die man langs Jesus op die kruis.


Vereniging
Die verrukking is ook ‘n vereniging. God en mens word intiem in liefde verenig soos vuur in ‘n yster intrek. Dis ‘n eenheid so lig, so lig, dit is veerlig: in Cussons se woorde is die mens (siel!) “gewigloos.” Geen swarigheid van die ou bestaan sonder God wat jou belas nie. Jy is losgesny van alles wat jou aftrek, die gesleur, die neerdrukkende donkerte van die daaglikse drek. Skuilend op die vlerke van die arend, by die arend, swewend saam in die veerlig heerlikheid van by-God-wees, met God een wees.


Aanskouing
Dit word dan die goddelike aanskouing: ‘n mens sink weg in die liefde van God. ‘n Mens begryp nie wat jy beleef nie – dit is verby elke begrip. Maar al begryp jy nie, is dit tog helder en klaar: jy aanskou God.


Inwoning van God
In die mistieke ervaring is die siel soos yster wat met vuur deurtrek is. God woon in die mens as die siel se Heer, “haar” Heer. En telkens weer kom God op besoek, want sodra God se besoek verby is, is die mens weer smagtende na die volgende besoek. Sonder God se inwoning kan die siel nie oorleef nie. Die mens is swaar en koud sonder God (reël 28).


Wederkerigheid
Hoewel die gedig die eenheid en inwoning van God sterk beklemtoon, gaan die eenheid selfs verder. Die siel, die mens en God word nou een, in “één liefde, één aandag” (reël 22). So, soos God lyk, so lyk die mens. Hulle is een in liefde en in aandag. Die yster wat in vuur deurskynend vuur word, is eers dan, wanneer die vuur in haar brand, “wesentlik” yster. Die vuur van God se teenwoordigheid dring deur tot die kern van die mens se wese. Die mens is nie God nie en God bly God. Maar hulle is onlosmaaklik aan mekaar verbind.

Dit bring ‘n mens by die verrassende, boeiende slot van die gedig. Die gedig begin met die monnik se oordrewe soek na God. Die gedwonge, krampagtige askese om by God uit te kom met al wat sensasie is wat daarby betrek word. Maar drie keer vertel die ab dat dit God is wat by ons “besoek” aflê. Aan die einde van die gedig word dit nog intenser. Dan speel die ab met die woord “besoek” en laat die klem op die soek van die besoek val. Ons sit en wag op God dat God na ons sal kom. Ons moet wag totdat God dit wil doen. Ons kan dit nie afdwing nie, selfs nie deur ons mooiste en vroomste “oordrewe” askese nie. Egte askese, gedoen in nederigheid en nietigheid kan nou juis geduldig wees. Want God se besoek is God se passie. Dis nie dat ons wag totdat God lus kry om na ons te kom nie. God soek aanhoudend na ons. Onbegryplik, onpeilbaar is God verlangend na ons op soek, terwyl ons op allerhande oordrewe manier by God wil uitkom. Die ab se woorde faal hom op hierdie punt van God se soekende liefde: “Daar is vir sy verlange na ons, om óns ontwil, geen woorde in enige taal.” God het hierdie verterende verlange na die mens. God wil te alle tye na ons kom. Ons moet dit afwag, deur gereed te wees om oop te maak, oop te wees, ingestel te wees, ons oordrewe magsgrepe en self-geding te laat los. Dit is asof God wag vir die regte ja van ons kant af. Ons moet uit die pad uitkom sodat God ruimte het waar God kan inkom.

As ons maar die verlange van God na ons kan herken! Dan sal ons, aangeraak, in matelose vervloeiing weggly in God. Dikwels, dikwels, is dit ons vroomheid, ons eie stiksienige oordrewenheid wat in God se pad staan.


Deurwerking
Die mistieke ervaring is iets wat die mens se lewe transformeer. Maar die mistieke ervaring is nie iets wat die mens ooit kan beheer nie. Daarom die ab se wysheid: in jou daaglikse lewe, in jou liefde vir God, bly maar nederig, klein, wagtend op God. “Wees niks, soet niks so soet onselfbewus......” Dit bring egte geluk.


Daar is nog veel in hierdie gedig om te bespreek. En in die bundel. (Kyk maar na haar gedig “Ab water en ab vuur” net twee gedigte vorentoe in die Sagte Sprong).

Versamelde Gedigte, p. 202.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive