Wednesday, June 10, 2009

Trane van blydskap: Oor die aanskouing van God (kontemplasie)


Ek sit by haar nadat sy die nuus gehoor het dat haar seun se operasie ‘n sukses was. Maar sy lag nie vrolik nie. Sy huil. “Nellie, hoe dan?” vra ek onrustig. “Wat pla dan? Wat is fout?”

Sy kyk na my en glimlag dapper deur haar trane: “Ek huil sommer van blydskap,” sê sy.

Kan ‘n mens “huil” van “blydskap”? Dit is dan twee dinge wat vir ons teenoor mekaar staan?

Ons kan dikwels huil omdat God so ver van ons voel, al bid ons vuriglik (oratiewe dimensie) nadat ons die Here se woord oordink het (meditatio), gelees het (lectio) en ons ingestel het op die krag daarvan vir ons geestelike reis (die leeshouding).

Maar gebed is nie waar ons geestelik reis eindig nie, al voel dit vir ons dikwels so. So asof ons trane die laaste woord spreek en die blydskap uitbly nie. Ons geestelike reis vind sy hoogtepunt in die aanskouing van God – die kontemplasie (contemplatio). Alles wat ons doen, alles wat ons lees oor God in die Bybel, moet ons uitbring by die punt waar ons by God is, voor God staan en in God se teenwoordigheid aanbiddend leef.

Dikwels bid ons en bid ons. En dan kom daar nie antwoord nie. Sommige praat van “plafon-gebede” – ons gebede slaan teen die dak vas. Maar tog weet ons op ‘n punt dan wel iets het met ons gebeur. Party van ons praat van : my gebed het “berusting” in my gebring. Ek “vertrou” God. Ons voel God het gehoor, al praat God nie terug nie. Ons “voel beter” nadat ons gebid het. Dit is asof daar in ons gebede self al iets gebeur, iets diepers en verborge, wat ons tot innerlike rus laat kom. Ons hoef nie te wag totdat ons klaar gebid het en daar dan een of ander tyd iets gaan gebeur wat as antwoord op ons gebede na ons toe kom nie. Eintlik sê ons op hierdie manier dat ons gebed oorgaan in aanskouing van God.

In die gebed waarin ons tot God roep, praat God reeds met ons. Die feit dat ons kan bid, is reeds God se antwoord op ons. Dit is asof God sê: in jou gebed is ek reeds besig om aan jou lewe rigting te gee.

Die mens se innerlike verlange na God is baie sterk. ‘n Mens kan selfs in trane wees omdat jy roep na God en wag op God. Trane is dan ‘n teken van die pyn wat jy in jou omdra, ‘n teken van ons verlange na God se koms. Maar trane kan ook ‘n teken wees dat God besig is om ons te reinig: ons word skoongemaak van alles wat om ons vasgekoek het en ons in vuilheid vasvang. Dit is asof God sê: ek was jou, ek was jou in en deur jou trane. In jou gebed word jy “gereinig”, word jy uiteindelik van “menslike” gedagtes gesuiwer en kom jy by ‘n punt uit dat jy God vertrou met alles, waar jy in aanskouing van God leef.

Die vreemde, verborge is dat God juis ook in ons trane teenwoordig is. Wanneer ons na God roep, is dit asof God sê: as jy na my roep, is dit ‘n teken dat ek jou antwoord. Jou praat met my is nog skaars aan die gang, of ek kom na jou toe.

Dit is dan die dieper punt: wanneer ons bid, bring dit ons by ‘n punt waar ons God in kontemplasie aanskou. Wanneer ons bid, “voel” ons nie altyd dat God ons “antwoord” nie. Maar ons weet God stuur ons lewe in ‘n rigting. Ons gebede as verlange na God, is ook die manier waarop God ons lei.

‘n Mens kan dit, baie versigtig, met die volgende beeld illustreer. Ons mis ons ouers wat nie meer by ons is nie. Hulle is dood. En tog bly hulle gedurig in ons gedagtes. Hulle is dus “teenwoordig” by ons. Dit is anders met baie mense wat ons geken het en wat gesterf het, maar vir wie ons vergeet het. Ons dink nie aan hulle nie en hulle raak nie ons lewens nie. Maar met God is dit anders, selfs nog meer as met ons ouers. Wanneer ons tot God bid, verlangend, selfs treurend en die trane loop oor ons wange, dan is dit omdat God in ons lewe teenwoordig is. Ons kan nie vergeet van God nie. God is daar, selfs wanneer ons nie in verrukking is nie.

En, laastens, as ons so treur oor God wat ons nie gedurig en ekstaties in volle heerlikheid kan beleef nie, wil God eintlik vir ons iets groters sê: “Ek is nie altyd daar by jou nie. Soms is ek weg en afwesig in jou lewe. As jy trane stort, onthou jou trane is ‘n teken dat ek by jou is, in jou verlange woon. Tog, tog, moet jy onthou my afwesigheid in jou lewe is ‘n teken dat jy nooit nou al vir my ten volle sal ken nie. Daarvoor moet jy wag – totdat ons groot hereniging kom. Totdat ons anderkant alles wat jou nou vashou en seermaak, bymekaar sal wees. Die aarde is maar ‘n tentwoning. Dit sal afgebreek word. Maar in die plek daarvan kom heerlikheid. Daarom, laat jou trane, jou seerkry-trane trane van blydskap wees. Blydskap omdat ons op pad is na die nuwe, blink toekoms wanneer ons ten volle bymekaar sal wees.” Ja – ons trane is dan van blydskap ook, want terwyl ons treur omdat ons leef in ‘n plek waar God nie ten volle geken word nie, weet ons ons is op pad na ‘n plek waar ons God ten volle sal aanskou. Nou sien ek in ‘n spieël ‘n raaisel. Ek sien die verborgenheid, die mistieke. Maar eendag, skryf Paulus ook, sal ek van aangesig tot aangesig sien. Ons stort trane van blydskap.

Ons geestelike reis is soos 'n Maartlelie: ons kom by 'n punt dat ons hierdie verstommende mooi blom uit die dorre grond sien breek. Maar ons weet dat dit nog ten volle moet uitblom voordat ons dit in sy volle glorie sal kan sien. Ons is ongeduldig, haastig om dit te sien. Maar die blom laat ons wag,
vir die regte tyd....

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive