Friday, August 17, 2012

Die Boek van die Lewe maak 'n verskil tussen lewe en dood. Oor die Bybel en die geestelike lewe


Hoe lees ‘n mens die Bybel?

In vele huidige kommentare en Bybelstudies sal ‘n mens ‘n horde inligting kry oor die skrywer, ontstaanstyd, die konteks, die lesers, die inhoud en die vorm van Bybelboeke. Trouens, dit lyk asof daar nooit ‘n einde kom aan al die informasie wat in sulke tekste aan Bybellesers gegee word nie.

Die veronderstelling is dat ‘n mens die Bybel beter verstaan as jy soveel as moontlik inligting daaroor het.

Vir lang tye was Bybelkenners hierop ingestel: hulle wou veral informasie oor die Bybel meedeel.

Dit was belangrik om dit te doen. Daaraan moet nie getwyfel word nie. Want vroeër jare het mense die Bybel oopgeslaan en misbruik sonder om te besef dat in die proses word die boodskap van die Bybel verdraai deur dit uit konteks te lees.

Hoe meer inligting ‘n mens oor die Bybel het, hoe beter kan ‘n mens sulke foute vermy.

‘n Mens merk hierdie tendens ook in vele preke: baie aandag word bestee om ‘n goeie uitleg te gee van die Bybelboek in sy tyd.

Maar hierdie informatiewe lees van die Bybel is net die halwe waarheid en net die begin van die proses van verstaan.

Die Bybel self wil nie bloot inligting meedeel nie. Dit is in die eerste plek en veral ‘n boek wat ‘n verskil wil maak.

‘n Mens kan alles oor die  Bybel se uitsprake weet en baie inligting daaroor kry sonder dat dit iets aan jou doen.

Die Bybel wil juis iets aan mense doen: dit is ‘n boek wat op metamorfose ingestel is – op ‘n gedaanteverwisseling, op ‘n oorgang van die tydperk van die vlees na ‘n lewe in die Gees, van ‘n lewe wat op oppervlakkige dinge ingestel is na ‘n lewe wat dieper soek, wat verlang na die Verborge dinge van God. ‘n Mens het nie met ‘n geskiedenis of met inligting te doen nie, maar met die Waarheid.  

 Om die Bybel op die manier te verstaan, verander ‘n mens se lees daarvan. ‘n Mens se lees van die Bybel is dan nie bloot net op feite ingestel nie, om meer van dinge in daardie tyd te leer nie.

Dan lees ‘n mens die Bybel om agter te kom watter verandering dit in jou lewe as leser bewerkstellig.

‘n Mens lees die Bybel steeds weer op soek na dieper dinge: wat is die verandering wat in ‘n Bybelteks van my gevra word? Hoe werk die Bybelteks en die wêreld waarvoor dit geskryf is, in op my wêreld en op my plek in daardie wêreld.

Op die manier stel jy jou oop om meer te word as wat jy is. Daarom kan die Bybel alleen vrugbaar wees vir mense wat weet hulle is maar net mense, hulle weet ook maar net tot op ‘n punt, hulle het leiding nodig, hulle moet uitvind wat die lewe die moeite werd maak want hulle weet dit nog nie regtig nie.

Die Bybel is nie geskryf vir mense wat wil uitblink in Bybelvasvrae nie.

Dit is verskriklik dat die oersonde juis is dat mense dink hulle weet alles. Ongehoorsaamheid aan die verborge betekenis van die lewe word dan dodelik.

Ons lewe is ‘n gedurige soeke en verlange om meer te weet. Ons bestaan is deurtrek met antwoorde wat ons elke dag vind op dinge wat ons konfronteer.

Te min gaan sit ons terug en vra: maar hoe behoort ek te verstaan? Wat is op die spel in my soektog na ‘n lewe vol sinvolle antwoorde? Hoe ken ek op ‘n goeie manier hierdie wêreld en my plek daarin begryp?

Dit is waarom epistemologie gaan: die vraag na ons kennis. En dan word dit ook ‘n vraag na die rol van die Bybel in ons soeke na sin. Gou-gou kan die Bybel te intellektueel, te eensydig, bloot as ‘n inligtingsboek gesien word = ‘n boek wat ons nuuskierigheid bevredig.  

Die Bybel is ‘n boek vol geestelike reisverhale van vele helde van die geloof wat oor eeue heen geworstel het om die sin van die lewe in die lig van hul verhouding tot God te verstaan. Elke keer weer moes hulle ontdek hoedat God hulle lewens getransformeer het en gestuur het in rigtings wat hulle nooit kon voorsien nie. Abraham, Moses, Jona, Jesus, Petrus, Johannes en vele ander is deur God op ‘n lewensavontuur geneem.

Die egte geloofshelde was altyd oop vir wat God wou doen, vir die dieper dinge. En hierin het hulle uitgeblink. Daarom is hulle verhale in die Bybel opgeneem en het hulle vir ons ‘n voorbeeld geword van ons eie geestelike reis: Ons pak die reis aan met die gesindheid wat na vore gebring is in die outydse woord van ootmoed: ons weet, maar ons weet ook nie. Laat die Gees ons neem, vir ons intree, dinge vir ons duidelik maak en vir ons rigting gee. Want dit is die weg na die Waarheid en die Lewe, hoe steil, moeilik en gevaarlik ook al. Dit is die weg van die groot lewensavontuur.

Die Bybel is nie ‘n nuttige ensiklopedie nie. Dit is die Woord van God, die Woord van die Lewe wat die verskil tussen lewe en dood maak. 

Blog Archive