Tuesday, August 07, 2012

Liefde as vriendskap: oor dit wat 'n mens gelukkig maak

In Johannes 15 vra Jesus dat sy dissipels mekaar sal liefhê. Hy sê aan hulle dat Hy hulle as vriende beskou wanneer hulle in ooreenstemming met sy versoek sal optree.

Dan voeg Jesus by: Niemand het groter liefde as dit nie: dat sy haar lewe vir ‘n vriend aflê.

Liefde kan ‘n niksseggende algemeenheid word. Maar liefde as vriendskap is baie konkreet en spesiaal. Mense wat vriende is, het alles feil vir mekaar. ‘n Egte vriend, sê ons altyd, kan jy herken in tye van nood wanneer jy hom/haar nodig het. Dit is iemand wat bereid is om op te offer ter wille van ander.

Dit is egter nie die opoffering wat tel nie. Dit is nie ‘n las om uit vriendskap van jou self te vergeet en na ander uitreik ten koste van jou self nie. As iemand naby aan jou seerkry, wil jy by so ‘n persoon wees en vergeet jy maklik van alles wat normaalweg vir jou so belangrik is. Dan word dit selfs ‘n voorreg en ‘n bron van diepe blydskap om jou eie dinge agter te aat en te sorg dat dit goed gaan met die een wat ly.

‘n Mens besef dat daar niks groters en beters is as om vriendskappe te hê. Dit is ‘n voorreg om te weet ander mense is naby aan jou, is lief vir jou en gee om vir jou.

Dit wys alles op ‘n belangrike geestelike saak: ons leef nie vir en uit onsself nie. Ons is gemaak vir die ander en ons egte geluk vind ons wanneer ons kosbare verhoudings met ander kan opbou.

Jesus moedig daarom sy dissipels aan: Hulle moet wel in Jesus se liefde bly (Joh. 15:9), maar hulle moet ook weet dat Jesus vir hulle vra om mekaar lief te hê (Joh.15:11). Hy weet immers: mense vind egte geluk waar hulle hulself vir ander gee.

Blog Archive