Tuesday, August 28, 2012

'n Stil gewete kan 'n kwade saak wees. 'n Goeie gewete is van God.


In ons tradisie word nie veel gemaak van jou gewete nie. Ook nie as ‘n geestelike dimensie van ‘n mens se geestelike reis nie.

‘n Belangrike geestelike oefening is om bewus te wees van en ingestel te wees op die stem van jou gewete.

‘n Mens, skryf Johannes Klimakos, moet begin wonder wanneer jou gewete jou nie meer pla nie.

Wanneer jy nie meer die stem van jou gewete hoor soos dit jou aankla nie, kan jy maklik onder die waan leef dat jou gewete “skoon” is. Jou gewete is stil.

Met so ‘n “stil” gewete dink jy dat alles in orde is en word jy deur niks gekwel nie.

Hier moet ‘n mens oplet: ‘n Gewete kan stil wees wanneer dit stilgemaak is deur ‘n oordaad van kwaad en van sonde. So hard kan ‘n kors om ‘n mens se gewete raak dat ‘n mens nie hoor wanneer dit jou aankla nie.

Wees dus nie te gerus wanneer jou gewete gesus is nie. Inteendeel. 

Iewers ander skryf Johannes: ‘n Goeie gewete is ‘n gewete wat steeds weer reg is om ‘n mens vinnig te veroordeel wanneer ‘n mens skuldig is.

‘n Goeie gewete is ‘n gewete wat altyd weer aktief beoordeel of ‘n mens se dade “goed” is.

‘n Stil gewete is iets anders as ‘n goeie gewete. ‘n Stil gewete kan dood wees. Of dit kan ‘n gewete wees wat ‘n mens onder die verkeerde indruk bring dat alles in jou lewe netjies in orde is. 

Blog Archive