Thursday, August 02, 2012

Geestelike oefening: dit is God wat laat groei


Wanneer ‘n mens geestelik oefen, maak ‘n mens se instelling ‘n beslissende verskil:

Die bedoeling met geestelike oefeninge  is om ryker in ‘n mens se geloofslewe te word.

Maar hier is wysheid nodig: wanneer ‘n mens geestelike oefeninge doen, vra ‘n mens nie groei nie. Dit is nie waarvoor ‘n mens jou inoefen in die dinge van God  nie. Jy is nie ingestel daarop om te laat groei nie.

‘n Mens verloor jouself eerder in die oefening self. Jy gee volhardend dinge prys wat jou terughou of belemmer en stel jouself in op die dissipline van toewyding.

Wat saak maak is om te oefen. Dit is hierdie oefening wat tel.

In al die toewyding vertrou ‘n mens dat God die groei sal gee.

Paulus het dit in 1 Korintiërs 3:6 uitgespel: “Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het.”

Paulus het al sy dae met die Korintiërs gehad. Hulle was ‘n rowwe, bakleierige klomp mense. As hulle pastor het hy veel tyd in hulle belê. Hy vertel in die brief spesifiek van sy groot opofferings. Sy plantwerk was veeleisend. Maar steeds weer het hy daarin volhard. Dit was deel van sy toewyding aan die evangelie. Hy het nie, aanstellerig, gedink dat hy kan laat groei nie.

Uiteindelik, egter, het hy besef, kom die groei alleen maar van God. Alles wat ‘n mens doen, hoe toegewyd ook al, is futiel, voorlopig, totdat God die groei skenk.

Daarom soek ‘n mens nie groei nie. 'n Mens is eerder op die oefening as op groei ingestel. Dit, die groei, kan alleen van Bo kom. Van die mens se kant soek jy om te bly plant, om nat te maak, om in die lande te ploeg en te saai. Dit is al beloning genoeg.

Die res is in God se hande.

Blog Archive