Saturday, August 04, 2012

Gebed uit 'n liefdelose hart


Ek sien, Here, in U kruis U goddelike oordeel oor die kwaad. U, o Seun bewonder ek dikwels as die Styder teen ongeregtgheid ten dode toe.

Soms mislei die stryd teen die kwaad my, wil ek op my eie kruistog gaan, soek ek triomfantelik die uitwissing van die Bose. Dikwels, in my eie hart, woed die drang om vyande te oorwin en uit te wis. Dit word my een en al.

En tog, weet ek, is daar in U kruis eerder die diepere moment: U, gekruisigde, was die Een wat veral die lyding van ander onder die kwaad op u skouers geneem het. In die kruis herken ek u solidariteit met die pyn van mense wat deur die bose aangebring is. 

U was die Een wat omgegee het, wat U kon inleef in die ellende van hulle wat ly, ook onder u teenstanders. U was die Een wat barmhartig was teenoor hulle wat U verneder en gekruisig het. Boosdoeners wat U bespot het, het U in stilte verduur. Kwaaddoeners het U paradys toe geneem.

U het geweet hoedat u teenstanders hul mens-wees kwyt was, hul heiligheid vermink het in hul verwerping van God se liefde. In hul afwysing van U het hulle die oordeel oor hulle self laat kom.

Deur die sagte woord het U grimmigheid oorwin. Die gebalde vuis het U beantwoord deur ‘n Hand uitgestrek in Liefde. U het die kruisweg gevolg terwyl u vyande op ‘n kruistog was.

En, daarom, het U vir hulle gebid, om hulle tot op die bitter einde van die kwaad vry te maak.
Lei my in die goedgesindheid waarin U so tuis was, Lam van God en Vredevors. Laat hierdie Liefde my leer wat werklik saak maak, en laat dit my vry maak, sodat my verlange na vrede iets anders sal wees as maar net nog ‘n begeerte na wraak, as ‘n bedekte poging om kwaad met kwaad te vergeld.

Bo alles, Here, vra ek die onmoontlike: ek wil, soos U, solidêr word met hulle wat ly. Ek wil die genade ontvang om saam met hulle te kan rou en veral om hul lyding te verlig. Laat dit my begeerte wees in my soeke na vrede, in my verlange na ‘n wêreld sonder pyn, in my verset teen die kwaad.

Daarom bid ek dat U my nog nader as ooit tevore sal bring aan die lydende wêreld. Laat die pyn van ander my hart vul met pyn. Moet my nie in voorspoed wegneem van hulle wat om my in verwerping, swaarkry, siekte en onderdrukking moet leef nie. Laat U kruis my lei op ‘n pelgrimstog saam met ander wat in nood is.

Ek begryp, Here, U goddelike oordeel oor die kwaad kom nie voor en ook nie sonder die Liefde en Genade nie. Ek sien, Here, dat U uiteindelik die kwaad beveg deur die Goeie te doen, deur Self in te kom in ‘n donker, deur-kankerte wêreld. Wees by my ook, in al die kwaad wat my lewe vul, in u ondeurgrondelike liefde. Ontferm U oor my, die een wat graag saam met U in die paradys wil woon.


Blog Archive