Wednesday, August 08, 2012

Egte vreugde


Met die Olimpiese Spele voluit aan die gang, tref die blydskap van die wenners ‘n mens. Hulle is behoorlik uit hulle vel uit. 

En die verloorders loop met verslae, treurige gesigte van die wedlope af.

‘n Mens kan dit verstaan: dit is sekerlik ‘n spesiale ervaring dat ‘n mens na jare se uitmergelende oefening die vrug van die oorwinning kan pluk.

Maar dan kry jy daardie mededinger wat uit ‘n arm land kom en weens gebrek aan fasiliteite, fondse en afrigting nie ‘n medalje kry nie: Dankbaar vertel sy hoe bly sy is dat sy net kon deelneem. Die omgewing, die skare, die ervaring, die opwinding maak alles die moeite werd. ‘n Mens hoef nie goud te wen om bly en dankbaar te wees nie.

Vreugde kom nie net na ons omdat ons sulke spesiale mense is nie. Die wete dat ‘n mens deel is van ‘n gemeenskap, van ‘n familie, van ‘n vriende-kring, van die skepping, kan ‘n mens uitlig uit ‘n donker bui en jou met blydskap vul. Dit kan jou dinge laat raaksien wat jy maklik miskyk.

Daar is slegte tye en ‘n mens ervaar teleurstellings en verliese. Maar selfs in sulke ekstreme tye kan ‘n mens bly wees by die gedagte aan goeie dinge wat selfs in sulke tye na jou kant toe kom. 

Paulus, in die tronk, in allerslegste omstandighede, roem in die blydskap: hy, in sy barre plek van alleenheid, kan ‘n brief van vriendskap en blydskap skryf wat oor eeue heen mense inspireer. Want in sy situasie het hy geloofsgenote gehad wat hom in herinnering gehou het. En, veral, God wat by hom in sy donker nag gebly het. In sy put van ellende was hy nie alleen nie. Sy verhoudinge met ander, selfs oor verre afstande, bring hom by vreugde.

Dit is vreugde: om in alle tye altyd weer dankbaar te kan weet hoedat ‘n mens nooit regtig sonder die goeie is nie.  Selfs al is daar nie ‘n goue medalje nie, is daar die voorreg om deel te wees van die sportstadion van die lewe. Net om daar te wees, om te kan ervaar, gee al blydskap. Selfs in sy tronk het Paulus geweet hy is nie alleen nie.

Blog Archive