Thursday, August 16, 2012

Om 'n mens se lewe deur God te laat toets.


Transformasie is ‘n sleutelwoord in Spiritualiteit.

Die Bybel vertel dikwels dat God steeds weer soek dat die mens hartgrondiglik tot ‘n lewe van sin en vreugde gevorm sal word.

Dit gaan om die mens se metamorfose.

Woorde soos bekering, wedergeboorte, hoop, geloof, regverdigmaking, genade vertel dat God nie opgee nie, dat situasies nie verlore is nie, dat ‘n mens nie sonder hoop leef nie.



God sien dus in elke vaal papie die vlinder raak en verlang daarna dat hierdie vlinder vry sal kan vlieg en fladder.

In Spiritualiteit is daar dus ‘n sterk bewussyn van wat die mens is teenoor wat die mens kan wees. Daarom word die mens gedurig getoets: sy/haar huidige situasie word bekyk en geweeg vir wat dit eintlik kan wees.

God wil skil - die oue wegskil, die nuwe as die verskil laat uitbot: God wil die mens tot volwassenheid bring.

Dit alles beteken dat ‘n mens op pad is na ‘n bestemming wat God vir jou vasgelê het.

God onderskei daarom wat werklik saak maak.

Dit is waarom die geestelike lewe gaan: om in God se wil bevind te word. Dit bring die hoogste vervulling.

Van God vertel Psalm 7:10 dat God die een is “wat die mens deur en deur toets”.  Versigtig, deeglik weeg God, ondersoek en meet God wat in die mens se lewe aangaan.

In Jeremia 12:3 word uitgeroep: “U ken my, Here, U sien my en toets my gesindheid teenoor U.” (Kyk ook Jer.6:27-30).

Hierna verlang die mens. Die Psalmis se gebed in Psalm 139:23 is vol gevoel: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie. Lei my op die beproefde pad!” 

Daar is by mense hierdie wete: ‘n mens vind rus net wanneer ‘n mens die diepste bedoeling van jou lewe ontdek het en daarin tot rus kom. Dit word 'n verlange dat God die oue sal wegskil en die nuwe sal laat uitbot.

Dan kom daar hierdie gebed van iemand wat weet dat sy of haar lewe ‘n goddelike sin het en wat smag om dit met God se hulp te ontdek.

Dit is nie altyd maklik nie. Omstandighede kan ‘n mens desperaat na God laat roep. Wanneer alles om jou jou lewe ontwrig en jou uitsig op God verduister, kan dit pynlik word. In so ‘n situasie van swaarkry en vervolging kan die soeker uitroep oor sy of haar eie onskuld:  “As U my sou toets, my selfs in my slaap ondersoek, my deeglik sou keur, sou U niks verkeerd in my vind nie” (Ps. 17:3).

Die toetsing is ander kere nie ‘n maklike proses nie. Dit word ‘n loutering. In Spreuke 17:3 gebruik die skrywer ‘n bekende beeld om die proses van toetsing te beskryf: “Silwer word in ‘n smeltkroes gelouter en goud in ‘n oond, maar dit is die Here wat die gesindheid toets.”

Dit is ‘n proses wat die mens deur vuur neem: “Ek sal die derde met vuur louter soos silwer gelouter word” (Sag.13:9).

God maak skoon, soms deur vuur heen. En uit die as verrys die nuwe, die Skone. 

Dit alles beteken dat ‘n mens gedurig na jou eie lewe moet bly kyk met God se oë: wat is daar wat in die pad staan van wat God wil? Hoe kan ek bewus bly van dinge wat my geluk in die pad staan? Wat keer die metamorfose in my lewe, hou my vas aan die donkerte, ketting my vas in ou boeie van slawerny?

Deur sulke toetsvrae leer ‘n mens om met God se oë na jou lewe te kyk, om God toe te laat, soms baie pynlik, om jou na die waarheid oor jou lewe te bring.

As ‘n mens dit biddend doen, in afwagting, in vertroue, in oorgawe, sal die vryheid nie wegbly nie. En dit bring ‘n mens tot volle vreugde. 

Blog Archive