Monday, August 20, 2012

Waarom 'n mens jou deur jou liggaam geestelik inoefen. Oor die doel van geestelike oefeninge.



Geestelike oefeninge is dikwels gewone, konkrete, liggaamlike dinge wat ‘n mens gedurig doen om geestelike verdieping te ervaar. 

Vele mens ken geestelike oefening op ‘n liggaamlike vlak. Vir hulle bestaan geestelike oefening veral uit oefeninge wat ‘n mens aan en met jou liggaam doen omdat dit jou geestelike welsyn aantas of beïnvloed.

Wat ‘n mens met jou liggaam doen kan jou hele mens-wees bepaal. Dit laat ‘n mens dink aan die Romeinse spreuk dat ‘n gesonde gees woon in ‘n gesonde liggaam. Mens sana in sano corpore.

Deur jou liggaam in te oefen, kan ‘n mens geestelik groei en volwasse raak. Liggaamlike oefening op sy eie kan ‘n mens doodgewoon gesonder laat voel. Hierin het dit ‘n transformerende effek: deur jou liggaam te oefen kan jy ‘n hele metamorfose ondergaan.

Die Sewendaagse Adventiste skryf byvoorbeeld voor dat hul lidmate nie koffie of tee drink omdat dit stimulante bevat. Maar daar is ander sulke voorbeelde in die Jodedom, die mormone, die Boeddisme en in Islam. In vele godsdienste word begryp dat mense wat nalatig oor hulle liggame is, ‘n hoë prys daarvoor betaal.

Maar geestelike oefening is meer as om net mooi na jou liggaam te kyk sodat jy gesond kan voel.

In Spiritualiteit gaan dit om oefeninge wat ‘n mens self doen om sodoende in liggaam en gees ontvanklike te word vir die teenwoordigheid van God.

Dit is die geheim van geestelike oefening: dit dien ‘n mens se geestelike lewe. Dit word gesoek om ‘n mens se geestelike verhouding met God sterker te maak.

Die bekendste van hiervan is onthouding van voedsel, afsondering van geraas, opgee van vleis of drank en weiering om skadelike stowwe soos alkohol en dwelms te gebruik. Ten nouste hang hiermee saam ‘n opoffering van jou eie belang: ‘n mens eet minder, slaap minder, soek stilte op, trek sober een eenvoudig aan, gee ‘n weelde-bestaan op, skeer jou hoof, deel jou besittings met ander, trek spesifieke soorte klere/linne/katoen aan. Daar is baie, baie verskillende manier om jou lyf te tem sodat ‘n mens geestelik sterker kan word.

Daar is nog iets diepers: die doel van al hierdie oefeninge draai nie om jouself nie. Trouens, dit is juis teen jou eie belang gemik Dit is om die oorheersing van jou eie-ek en die fokus op jou eie behoeftes te verminder: soos jy op die geestelike weg vorder, word jou eie geluk en vreugde minder belangrik.

Al hoe meer begryp jy dat dit die vreugde van ander mense is wat jou bly maak en jou lewe vul. Jy raak sensitief vir dinge wat werklik saak maak, vir die wêreld en vir allerhande realiteit wat wag op jou goedgesindheid en ontferming. Deur allerhande oefeninge waarin jy ontslae kan raak van jou eie belang, ontdek jy die weg na ander mense se harte en blydskap. Die groot realiteit van ‘n wêreld wat deur jou ontferming mooi moet word sodat jy ook goed kan leef, word vir ‘n mens al hoe sterker.

In al hierdie dinge word 'n mens dan beelddraer van God, wat deur self-prysgawe die heil van mense soek.

Deur jouself in te oefen, jou behoeftes reg te kanaliseer, jou liggaam in te perk en fiks te maak, word ‘n mens volwasse deurdat jy, soos die Skepper, ingestel is op ander, op hul behoeftes en op hul seënryke teenwoordigheid in jou lewe.

Al hoe meer besef jy hoe selfgesentreerd ‘n mens leef en hoe negatief dit op jou inwerk. Jy wil, selfsugtig, dinge na jou toe bring, onder jou beheer laat kom, domineer.

Hoe meer jy dit doen, hoe meer wil jy dit doen.

Deur geestelike oefening soek ‘n mens om hierdie selfsug te bestry. Al hoe meer begin jy besef: Wat baat dit ‘n mens dat jy ingestel is hierop? Wie sy siel soek, sal dit verloor.

Die Jesus-woord dat ‘n mens net wen as jy alles kwyt raak, is nog meer as ooit tevore vir ons waar. Wanneer ‘n mens op ander ingestel is, wanneer ‘n mens jouself vir ander gee, ontdek ‘n mens wat werklik saak maak.

Wanneer ‘n mens jouself uit die pad kry, is daar ‘n ryk, vol lewe en wêreld wat in al sy oorweldigende goedheid en mooiheid in jou lewe kan inkom.

Om soos God te wees, om soos God jouself te gee, om soos God 'n teenwoordigheid in ander sy lewens te wees - dit is waarheen geestelike oefening 'n mens wil lei.

Die pad na vervulling loop langs die pad van ‘n Ek wat verdwyn. “Hy moet meer word….” Dit, egter, kom maar net as ‘n mens jouself gedurig inoefen in jou geestelike weg. Elke dag weer, opnuut en opnuut, moet ‘n mens oefen sodat hierdie besef in jou ingeskerp kan bly.  




Blog Archive