Showing posts with label Onderskeiding.. Show all posts
Showing posts with label Onderskeiding.. Show all posts

Tuesday, March 05, 2013

Nederig oor 'n mens se keuses.


Mens-wees is om te kies.

Anders as met ‘n masjien, gebeur dinge nie sommer met ‘n mens nie. Telkens kom daar wendinge in jou lewe waarop jy reageer of waarop jy jou voorberei.

Orals, daarom, “besluit” mense oor wat om te doen, wat om te dink en wat om te sê.

‘n Mens doen min dinge so baie soos wat ‘n mens besluite neem.

‘n Belangrike vraag by volwasse persone is daarom juis hoe om goeie, sinvolle en deurdagte besluite te neem.

Baie raad word daaroor gegee. Maak ‘n lysie van voor- en nadele en weeg dit dan teenoor mekaar op. Dink oor die gevolge voor jy ‘n besluit neem. Raadpleeg ander mense. Lees meer oor ‘n saak voordat jy kies.

Dit is nie anders in ‘n mens se geestelike lewe nie. Vir gelowige mense word dit soms ‘n saak van gebed om die regte keuses te maak.

In die kerklike lewe word daar ook “besluite” geneem. Die leiers van ‘n gemeente en van ‘n groter geloofsgemeenskap dink na oor ‘n saak en kies dan wat gedoen moet word.

Maar hoe dink ons oor hierdie “besluite”?

Ons taal gee nogal heelwat van ons innerlike ingesteldheid weg.

Ons “kies” en ons “besluit”. Ons lys die opsies en wys die beste een uit.

En dit terwyl ons eintlik goed weet dat dit nie regtig so werk nie. Die ou wysheid leer dit eintlik vir ons: Die mens wik, maar God beskik. In ‘n nog persoonliker konteks het vele mense in ouer tye altyd gepraat van, “so die Here wil, sal ek…” 

Sulke uitsprake wys dat ‘n mens nie sommer net met “besluite” alles kan afhandel nie. Ons kan wik en weeg, maar daar is ‘n gang in ons lewe wat nie altyd so vanselfsprekend is nie, wat ‘n mens nie kan beheer nie en wat ‘n mens steeds weer in jou besluitneming in ag moet neem. Wees dus maar bewus van die voorlopigheid van al jou keuses, leer ons.  

Maar, by nadere beskouing weet ons ook dat besluite steeds deur ons beperkte insig oorskadu word. Wat vandag na ‘n goeie besluit lyk, kan môre as ‘n ramp beleef word. Die loopbaan wat ‘n mens vandag kies, is môre ‘n las en ‘n gesleur. Die vrou met wie ek kies om te trou, blyk ‘n jaar later net maar goed vir ‘n egskeiding te wees. Nie alles wat ‘n mens besluit, is vir jou goed nie, of is lewensintegrerend nie.

‘n Mens moet dus nederiger wees, meer bewus van die kleiner rol van jou “besluite”.

Dit het ons geestelike voorouers te goed begryp. Hulle het ons soeke, ons pelgrimstog beleef as ‘n weg vol duwweltjie, afdraaipaaie, valleie en donker tye. Jy moet waaksaam wees, versigtig, steeds weer ingestel om die regte keuses te maak. En, kennelik, kan jy dit nie op jou eie doen nie. In die kerklike tradisie vanoor die eeue is “onderskeiding” daarom een van die belangrikste geestelike oefeninge. Jy kies en jy besluit nie: Jy onderskei! So het hulle oor besluit-neming gepraat en daarmee die mens se besluite in ‘n veel groter raamwerk ingebed.

Wednesday, April 04, 2012

God se wil bevraagteken selfs ons sekerhede


Ons soek God se wil vir ons lewe. Dit is vir gelowiges 'n belangrike taak.

Maar dikwels bepaal die lewe wat ons lei hoe ons God se wil verstaan eerder as wat God se wil ons lewe lei.

Soms gebeur dit op ‘n hoogs onbewuste vlak.

Dink maar hoe het vroue van die vorige eeu gevra na God se wil. As hulle moet onderskei wat God van hulle vra vir hul toekoms, het vroue dikwels edelmoedig gekies om verpleegsters, onderwyseresse of maatskaplike werkers te word. Hulle het hulle dan “geroepe gevoel” om God in hierdie beroepe te dien.

Hulle het nooit gedroom om te dink dat God sou wou hê dat hulle ‘n predikant, dokter of ingenieur word nie. Onbewustelik en vanweë die sosiale rolle van die verlede was dit “onmoontlik” vir hulle om te dink dat God hulle sou roep om hulle vir daardie beroepe aan te meld. God se wil is dus gesoek net in soverre as wat die sosiale gewoontes en gebruike daarvoor ruimte gelaat het.

Vir vele vroue is dit vandag ondenkbaar dat God vir hulle tot sekere “vroue”-beroepe wil beperk en die invloedryke, groot werke en professies net vir mans bedoel. Hulle ervaar dit as vernederend en beledigend. Hulle kan nie dink dat dit God se wil is dat vroue op die manier verneder word nie.

Ons kan dus God se wil onbewustelik inperk tot wat ons samelewing bepaal. Dan word God ‘n gevangene van die sosiale reëls en afsprake van ons tyd.

Wanneer ‘n mens God se wil vir jou lewe wil soek, moet ‘n mens versigtig kyk na jou eie vooroordele en beperkinge. Dit kan nogal ‘n ingrypende ervaring word as ‘n mens insien dat God dinge van jou kan vra wat mense se wenkbroue sal laat lug en wat teen alle gebruike van jou tyd ingaan.

Jesus het iets hiervan weergegee toe Hy gesê het dat wie Hom wil volg, moet daarmee rekening hou dat dit kan beteken dat hulle vader en moeder verlaat (sien bv Mk. 10:39-40). God se wil vir ‘n mens se lewe kan baie van ‘n mens se sekerhede grondiglik bevraagteken.

Dit beteken dat die vraag na God se wil ook inhou dat ‘n mens self-ondersoek sal moet doen. Sal ‘n mens vir God toelaat om dinge wat jy as vanselfsprekend ervaar, te bevraagteken? Die groot vraag kan wees: watter vanselfsprekende, skynbaar onskuldige dinge is daar in my lewe wat in die pad van God se wil kan staan?

Paulus was so dapper gewees. Toe sy mede-apostels allerhande mooi, indrukwekkende argumente gebruik het om mense uit te sluit, het hy voet neergesit. Paulus het duidelik en omomwonde vertel dat dit nie God se wil kan wees om godsdienstige gebruike soos die besnydenis op mense af te dwing nie.

Maar dinge kan nog ingewikkelder raak. Sandra vertel my hoedat sy in haar werk beïnvloed is deur die manier waarop sy groot gemaak is. Jy het jou pa of jou ma en ander ouer mense se gedrag nie bevraagteken nie. Toe het sy begin werk en haar “goeie” baas het vir haar op ‘n vriendelike manier gevra om sekere inkomste in die boeke op ‘n manier in te skryf wat nie eerlik was nie. Sy het amper "verplig" gevoel om na hom te luister.  Sy is egter grootgemaak om eerlik te wees en het gewoonlik in haar lewe hard probeer om die Bybelse opdrag tot eerlikheid na te kom. Die situasie het haar onder druk geplaas. Sy wou nie graag haar werk op die spel plaas nie en het dus oorweeg om na haar baas te luister. Maar gedurigdeur het sy geworstel met die vraag: wat wil God hê en het sy besef dat God se wil vir haar lewe beteken dat sy eerder haar werk moet verloor as wat sy oneerlik sal wees. Sy kon net nie sover kom om iets so belangrik soos eerlikheid te verloën nie.

God wil soms dat ons baie vanselfsprekende dinge in ons lewe bevraagteken. 

Friday, December 16, 2011

By die vurk in die pad maak die verlange werklik saak…


By die vurk in die pad. N.a.v. Thomas Merton se beroemde gebed:




Lig van die wêreld,
Leidsman tot die Lewe,
ek weet nie waarheen ek op pad is nie,
ek is soos een wat die weg byster geraak het.

Ek is verdwaald,
aan die voortstrompel op ‘n pad
wat in nimmereindigende rondtes sirkel.
Ek weet nie waar alles sal eindig nie.

Alwyse Skepper, ek ken dan nie eers werklik myself nie.
En dat ek dink
ek is besig om U wil te gehoorsaam
beteken nog lank nie dat ek dit regtig doen nie.

Tog glo ek
dat die verlange in my om U bly te maak
wel vir U bly maak.

En ek hoop
ek behou hierdie verlange,
dat dit in my bly woon
in alles wat ek doen.

Ek hoop dat ek nooit iets sal doen
buite om hierdie verlange om U bly te maak.
En ek weet dat as ek so bly leef
U my op die regte pad sal lei
al ken ek die pad glad nie.

Daarom wil ek U altyd vertrou
al voel ek soms verlore,
al dink ek party keer
ek woon in die skadu van die dood.

Ek sal nie vrees nie
want altyd bly U by my.
U sal nooit van my wegloop
en my alleen verder laat reis nie.


Thomas Merton, Pax Christi, Benet Press, Erie, PA.

Sunday, November 27, 2011

Die verantwoordelikheid en vreugde om God se wil te onderskei


Tydens die byeenkoms by die AAR praat Elizabeth Lietert oor haar boek oor Discernment, of te wel, onderskeiding. Die vraag vir vele mense in hul daaglikse lewe is hoe om God se wil te onderskei.

Sy noem in ‘n enkele sin dat sy versigtig is om te praat van die “wil” van God.

Later, in Malta, merk my kollega daar op dat die woord ook vir hom ‘n probleem is.

Die woord lyk asof daar sekere vaste besluite omtrent ons lewens is wat God namens ons geneem het en wat ons moet ontdek as ons gelowige mense is. My kollega merk op dat die woord dus ‘n deterministiese betekenis gekry het. God bepaal van A tot Z die gang van die wêreld en almal moet daarby inval. Die mens word niks anders as ‘n masjien wat op vooruitbepaalde toere loop.

Lietert sê dat sy eerder die woord “roeping” verkies as die woord “wil” van God. God roep gelowiges om die weg van God te volg en om hul lewenstaak in getrouheid aan God se woord te verrig. In die proses is daar ruimte vir die mens se verantwoordelikheid.

Wat belangrik is, sê my kollega, is dat ons gedurigdeur moet onderskei watter dinge ons meer volwasse en heel maak teenoor die sake wat ons lewe fragmenteer en vernietig. Dit is immers wag God van ons wil: God wil dat ons steeds weer die beeld van God weerspieël. Dit beteken dat gelowiges soos God sin skep in hul bestaan, hul lewens inrig sodat dit ander kan dien en sodat hulle ‘n vervulde bestaan kan voer.

Wanneer ‘n mens dus in die geloof onderskei wat God se bedoeling vir ‘n mens is, sal daar altyd ook weer mislukkings en foute wees. Maar hierdie foute en mislukkings is nie noodwendig ‘n ramp nie. Ook uit ons foute, ons gebrek aan goeie onderskeiding, leer ‘n mens God se wil ken – al is dit net deur te ontdek wat nie God se wil is nie…

Onderskeiding is dus ‘n hoogs kreatiewe proses. Ons is nie masjiene wat eenvoudig moet uitvoer wat reeds tot in die fynste besonderhede bepaal is nie. Ons is vry mense wat in verantwoordelikheid moet soek op watter maniere ons die heel beste die beeld van God kan uitstraal. Dit maak onderskeiding so ‘n opwindende saak. 

Met vreugde ontdek 'n mens hoe God gelowiges vertrou om hul heil uit te werk. Saam met God word ons lewensreis 'n opwindende ontdekkingstog van ons vermoe om goed te kan leef. En op die manier is ons daarop gerig om God se roeping te gehoorsaam om ons lewe so te leef dat dit God sal verheerlik - in alles wat ons ook al mag besluit en doen.


Blog Archive