Mens-wees is om te kies.
Anders as met ‘n masjien, gebeur dinge nie sommer
met ‘n mens nie. Telkens kom daar wendinge in jou lewe waarop jy reageer of
waarop jy jou voorberei.
Orals, daarom, “besluit” mense oor wat om te
doen, wat om te dink en wat om te sê.
‘n Mens doen min dinge so baie soos wat ‘n mens
besluite neem.
‘n Belangrike vraag by volwasse persone is daarom
juis hoe om goeie, sinvolle en deurdagte besluite te neem.
Baie raad word daaroor gegee. Maak ‘n lysie van
voor- en nadele en weeg dit dan teenoor mekaar op. Dink oor die gevolge voor jy
‘n besluit neem. Raadpleeg ander mense. Lees meer oor ‘n saak voordat jy kies.
Dit is nie anders in ‘n mens se geestelike lewe
nie. Vir gelowige mense word dit soms ‘n saak van gebed om die regte keuses te
maak.
In die kerklike lewe word daar ook “besluite”
geneem. Die leiers van ‘n gemeente en van ‘n groter geloofsgemeenskap dink na
oor ‘n saak en kies dan wat gedoen moet word.
Maar hoe dink ons oor hierdie “besluite”?
Ons taal gee nogal heelwat van ons innerlike
ingesteldheid weg.
Ons “kies” en ons “besluit”. Ons lys die opsies
en wys die beste een uit.
En dit terwyl ons eintlik goed weet dat dit nie
regtig so werk nie. Die ou wysheid leer dit eintlik vir ons: Die mens wik, maar
God beskik. In ‘n nog persoonliker konteks het vele mense in ouer tye altyd
gepraat van, “so die Here wil, sal ek…”
Sulke uitsprake wys dat ‘n mens nie sommer net
met “besluite” alles kan afhandel nie. Ons kan wik en weeg, maar daar is ‘n
gang in ons lewe wat nie altyd so vanselfsprekend is nie, wat ‘n mens nie kan
beheer nie en wat ‘n mens steeds weer in jou besluitneming in ag moet neem.
Wees dus maar bewus van die voorlopigheid van al jou keuses, leer ons.
Maar, by nadere beskouing weet ons ook dat
besluite steeds deur ons beperkte insig oorskadu word. Wat vandag na ‘n goeie
besluit lyk, kan môre as ‘n ramp beleef word. Die loopbaan wat ‘n mens vandag
kies, is môre ‘n las en ‘n gesleur. Die vrou met wie ek kies om te trou, blyk ‘n
jaar later net maar goed vir ‘n egskeiding te wees. Nie alles wat ‘n mens
besluit, is vir jou goed nie, of is lewensintegrerend nie.
‘n Mens moet dus nederiger wees, meer bewus van
die kleiner rol van jou “besluite”.
Dit het ons geestelike voorouers te goed begryp. Hulle
het ons soeke, ons pelgrimstog beleef as ‘n weg vol duwweltjie, afdraaipaaie,
valleie en donker tye. Jy moet waaksaam wees, versigtig, steeds weer ingestel
om die regte keuses te maak. En, kennelik, kan jy dit nie op jou eie doen nie. In
die kerklike tradisie vanoor die eeue is “onderskeiding” daarom een van die
belangrikste geestelike oefeninge. Jy kies en jy besluit nie: Jy onderskei! So
het hulle oor besluit-neming gepraat en daarmee die mens se besluite in ‘n veel
groter raamwerk ingebed.