In 1930 skilder
Picasso hierdie hoogs engimatiese (en klein) skildery van die kruisiging.
Die skildery is op
die oog af eenvoudig: Met die eerste oogopslag sien ‘n mens ‘n doek vol helder
en geel kleure wat byna skril in toon is en ‘n besige, vol, krioelende indruk
skep.
In die middel van
die skildery, omraam deur die vele kleure, is daar ‘n kruis geteken met prominente
figure in die voorgrond.
Daar is geen
twyfel dat daar ‘n kruis is met ‘n kleinerige figuur op in die middel nie. Die
kruis staan sterk uit omdat dit net in swart en wit kleure geteken is.
As ‘n mens mooi
kyk, herken ‘n mens ander motiewe in die Bybelse kruisigingsverhaal: daar is ‘n
leer teen die kruis, geteken in helderrooi, waarop die Romeinse soldaat staan
en met spykers vir Jesus kruisig. Aan die linkerkant is ‘n figuur op ‘n perd –
ook ‘n soldaat wat Christus in sy sy met ‘n spies deurboor. Voor, in die
middel, werp twee soldate op ‘n drom die lot oor Christus se kleed wat die
soldaat aan die linkerkant onder sy arm vashou. As ‘n mens baie mooi kyk, sien
‘n mens heel links en heel regs twee piepklein t-vormige, leë kruise van die
twee rowers. Die twee rowers se opgefrommelde liggame lê links as ‘n klomp los
ledemate voor op die grond (Joh.19:28031).
Aan weerskante van
die kruis sien ‘n mens die maan en die son, weggesteek. Die son, aan die
regterkant, beweeg reeds in die donker, die blou in, soos dit verduister word.
Picasso wil ‘n geestelike boodskap uitdra, eerder as ‘n toneel van die
kruisiging weergee. Maar sy siening van die kruisiging het nie ‘n
godsdienstige, Christelike karakter nie.
Die boodskap word
visueel uitgewerk: Sy pynlik misvormde figure en die hoogs intense kleure
waarin hulle geverf word, is terselfdertyd sy totale verwringing van die
werklikheid. Daar is iets gewelddadigs aan hulle voorkoms. Hy teken die toneel
heel anders as hoe ‘n mens dit normaalweg sou waarneem. Hierdie wêreld is
deurtrek met misvormdheid. Trouens, wanneer ‘n mens die toneel nader bekyk,
sien ‘n mens meer van die verwringing raak: Voor die kruis staan
naamlik Maria, vol angs en smart oor die toneel wat voor haar afspeel.
Picasso wil deur die verwringing en die misvormdheid ‘n wêreld vol lyding
en pyn uitbeeld.
Hy neem daarmee
die kruis van die Christendom oor en spel die sentrale boodskap daarvan uit. Maar
terselfdertyd dekonstrueer hy dit: die figuur van die bul uit die kultuur van
bulgevegte staan lewensgroot aan die linkerkant as ‘n teenpool van die
Christus-figuur. En aan die regterkant van die kruis is daar ‘n grinnekende
kakebeen.
By Picasso is die
kruisigingstoneel nie eintlik ‘n godsdienstige tema nie. Hy sien hierdie lyding as ‘n
menslike kondisie. Die dood en die angs wat dit oproep, is die tema wat deur
hierdie teks loop.
Tog is dit nie ‘n
fatalistiese toneel nie. Picasso skilder
die doek om te wys dat ‘n mens deur kuns in die dood lewe kan skep: deur die
skildery te teken, besweer hy die dood. Terwyl die skildery uitdrukking gee aan
sy afgryse en skok oor die omvang van lyding, doen dit ook meer. Hy skep deur die
skildery ‘n indrukwekkende, samehangende stuk skoonheid: ryk aan
motiewe, aan intertekstualiteit, aan boeiende paradoksaliteit van kleure en aan
enigmatiese figure. Die kyker staan voor die skildery, verstom oor hoe ‘n mens
angs en lyding kan besweer deur skoonheid.
Soos iemand egter
skryf: ‘n Mens is beïndruk deur die skildery, maar ‘n mens sal nie daarmee saam
wil leef nie.
Ek is verwonderd
by my nalees oor die skildery, dat iemand skryf oor die feit dat Picasso die
skildery nooit verkoop het nie maar altyd in sy ateljee gehou het.
Kennelik was
hierdie skildery vir hom waardevol.
Ek wil oor die kruisiging op dieselfde manier, maar tog ook drasties anders as Picasso dink. In die Christendom is lyding ook angwekkend en sinloos. Die kruheid en hardheid van pyn word in Bybelse tekste nooit gesublimeer of onderspeel nie. Die dood van Christus aan
die kruis is ‘n daad van geweld en ‘n teken van die mens se angstige verwerping
van die goeie. Naas die kruis is daar, inderdaad die grynsende kakebeen en die
aantreklike, sterk bul van die kits-kultuur van ons tyd.
Picasso se meesterskap se meesterskap en die skoonheid van sy kuns dwing 'n mens se bewondering af.
Aangrypender egter, is dat daar
in die Christendom ook ‘n diepte-struktuur is wat die dood wil besweer, soos wat Picasso dit in sy skildery wil doen. Dit vind 'n mens ook in Bybelse tekste, want, naas die kruisiging, gejukstaponeerd, sal
‘n mens die paradoks van die opstanding plaas. Die dood spreek nie die laaste
woord nie. In die opstanding, die nuwe lewe, sien ‘n mens totale skoonheid. Dit is die skoonheid van die nuwe skepping, van 'n nuwe begin, van lewe.
Daar is nie 'n brawe, sterk, aandagtrekkende bul wat met die figuur van Christus kompeteer nie.
Heel eenvoudig, maar so sterk, is daar net 'n Lam wat Homself gee as 'n liefdesgebaar.
Daar is nie 'n brawe, sterk, aandagtrekkende bul wat met die figuur van Christus kompeteer nie.
Heel eenvoudig, maar so sterk, is daar net 'n Lam wat Homself gee as 'n liefdesgebaar.