Wednesday, March 06, 2013

Onderskeiding is nie om maar net God se wil te bevra nie.

‘n Mens is versigtig wanneer jy besluite neem. Juis omdat ‘n mens se keuses konsekwensies het, dink ‘n mens meestal na voordat ‘n mens ‘n sekere rigting inslaan. Om te kies en om besluite te neem is meestal net vir kinders ‘n impulsiewe daad.

Tog het ons vertroue in ons keuses.

Maar altyd weer kan ‘n mens vanuit ‘n geloofshoek nie oor die wil van God praat asof dit iets is wat ‘n mens maklik kan bepaal nie. Dit is ‘n mondvol, ‘n hele groot mondvol, sou ‘n mens waag om te vertel dat die “Heilige Gees” vir jou voorgesê het. Dikwels is dit mense se vroom manier om te kenne te gee dat hul eie besluite nie aanvegbaar is of bevraagteken durf te word nie.

Vanuit ‘n geloofshoek weet ‘n mens dat jy nie jou besluite en keuses te maklik met God se wil moet vereenselwig nie.

Juis daarom praat ons van onderskeiding as geestelike oefening: dit is ‘n saak van toewyding en tye waarin ‘n mens vra, soekende, na wat die dieper dryfvere agter ‘n mens se doen en dink moet wees.

Onderskeiding raak veral ‘n persoon wat nadink oor die wil van God, oor die groter goed vir sy of vir haar lewe.

Deur onderskeiding neem ‘n mens die voorafhouding in dat jy nie alles weet nie, dat wysheid nie altyd binne jou bereik te vinde is nie en dat jy buite jouself na groter insigte en dieper inspirasie moet soek wanneer ‘n mens rigting in jou lewe soek.

Jou wêreld is nie geslote nie, asof jy in beheer en heer is. Daar sit in onderskeiding ‘n openheid na wat buite jouself lê: ‘n mens hou bewustelik rekening met  ‘n ruimte wat jy nie volledig inneem en stuur nie.

Jy weet: daar is meer aan jou lewe as net jouself. Iets/ Iemand transendeer jou bestaan. En hiermee moet ‘n mens steeds rekening hou.

In die geestelike oefening van onderskeiding is jy nooit alleen nie. Jy is in die geselskap van die Verborgene, wie se wil tastend gesoek word. Jy is, mistiek, in die teenwoordigheid van God. 

'n Mens kan kies en besluite neem, vol goeie, verstandige self-vertroue en versigtigheid. 

Dit is nog lank nie wat onderskeiding is nie.  

'n Mens kan selfs vroom soek na God se wil. En dit is waarom onderskeiding gaan. Maar dit is nog lank nie om in God se teenwoordigheid vraend ingestel te wees op hoe God 'n mens sal lei nie. Onderskeiding is dus meer as om net na God se wil te vra.

Blog Archive