Sunday, March 31, 2013

Geel, wit en blou: die bindende vuur van die Gees kom in oorvloed






Die ikoon wat ek vandag raakloop op Erik Buys se webwerf is populêr geteken, 'n maklike uitbeelding van Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou.

Ek sit en wonder waarom dit my aandag dadelik trek.

Miskien is dit omdat ek sy blog geniet - en die genot oorspoel op die hoogs interessante illustrasies wat hy dikwels gebruik.

Miskien is dit oor die ligte, sagte kleure van hierdie Japannese "ikoon" (soos hy dit noem). Ek hou van die komplementêre kleure van geel en blou met al die verskillende ryk skakerings daarvan. 

Helder son-kleure vorm die agtergrond en gee warmte aan die verhaal oor die ongewone gesprek tussen Jesus en die vrou in Johannes se Evangelie. Schneiders het op 'n heel kreatiewe manier die trefkrag van hierdie gedeelte uitgelê as die roeping van 'n vrou tot apostel. 

Dit het van die Samaritaanse vrou 'n unieke sleutel-figuur, gemaak: mense, ook vroue, die "besittings" en "ondergeskiktes" van hul mans, kry ook deel aan die Evangelie-woord en - meer nog - kan dit verder gaan uitdeel. Die aanraking van die mistieke Christus-ontmoeting sou haar en ander se lewens onherroeplik omkeer en omvorm. Hulle kry 'n plek in die son. Die son van geregtigheid laat ook aan hulle reg geskied.

Maar die skildery is vir my ook boeiend oor die manier waarop die helderwit van Jesus se kleed 'n balans vorm met die wit rondom die vrou se kop. Die twee figure is in die wydheid van die wit vir altyd aan mekaar verbind: die Joodse Messias en die Samaritaanse Vrou. Die samebinding van ou aartsvyande, geswore opponente,  vertel van die die werking van die Gees wat nie meer vasgepen kan word in tempels in Jerusalem of Samaria nie. 

In Hom sou die Gees alle grense en plekke oorskry en alle mense in 'n intieme verhouding saambind. In die skildery deel Christus die Gees met die vrou. Een in die Gees, een in Liefde en Waarheid. In die vrou se hand is daar die emmer, ook wit, waarmee sy kom Water haal het. Die emmer van die dorstige vrou is gevul met geesvervulde woorde. Wit, so suiwer, so skoon, so insluitend en omsluitiend is die werking van God.

Uiteindelik is daar die blou van die vrou se rok. Haar blou klere smelt saam met die stromende blou waters wat so oorvloedig is dat sy en Christus, mistiek, halflyf, selfs, daarin staan, of byna daarop sweef.  Die Woorde wat dors vir ewig les, omhul, saam met die warmte van die gesprek, die twee figure. 

Die groot bruin put bring ons aarde toe en anker die toneel in die werklikheid: hier in Samaria, die plek van die vyand, het Hy op 'n keer ingegaan en die vyand tot volgeling geroep in 'n mistieke oomblik wat daardie plek en daardie dag ver en verreweg getransendeer en oortref het. 

Tydloos gee Jesus vir haar, en dus vir alle mense, deur sy oop handpalm dit wat sy in daardie put gaan soek het. Sy kry van Hom woorde, Woorde, die Uitnodiging en, daarmee, die Liefde. Hy neem haar weg van die aardse, na die Verborgene, na wat ewig is en alle kortstondigheid besweer. Hy deel met haar die krag van die Gees. En, ewe mistiek, stroom, in 'n vloed, die waters van sy woorde om hulle.  

Ek dink tog dit is Paassondag en die wonder van die dag wat my tot die skildery trek. Die skoonheid van hierdie Paas-evangelie, die sterkheid van die lewe oor die dood, van die liefde oor die haat, sou op die dag so duidelik na vore kom in 'n episode - ook uit Johannes Evangelie - in die Tuin waar Hy begrawe was:

Toe het Hy, na die harde lyding verby is, so gewoon gelyk, so vroegdag-rustig rondgewandel dat die ander vrou van betekenis in sy lewe, Maria, gedink het hy is die mens wat in die tuin gewerk het. So nuut, maar so gewoon was die nuwe lewe! 

Dit het net een woord, haar naam, gekos om haar uit die tranedal op te trek. Hy het ook met haar bloot net gepraat, maar in die gepraat ook weer onthul wie Hy werklik was en hoe koel, lewegewend sy woorde was

En soos destyds in Samaria met die Vrou-sonder-naam, het Maria vir die mans gaan vertel Jesus lewe. Woorde van die lewe, wat die dors van hulle skok en smart sou les, het sy aan hulle bedien.



Blog Archive