Die predikant kom by die kerk aan en
sien so ‘n opgeskote seuntjie uit die gemeente staan en ontsyfer die name op die monumentjie van
die kerk vir die soldate wat in die oorlog gesterf het.
Hy groet die outjie, wat met ‘n
ernstige gesig en ‘n plooi op die voorkop al die name met sy vingertjie volg en
met ‘n geprewel uitspreek.
Hy weet die leergierige en
nuuskierig outjie is pas in die skool en het nou leer lees.
Die outjie, vol eerbied vir die
herder van die kudde wat so vriendelik met hom praat, vra afwagtend vir sy
predikant waarom die name op die plaatjie geskryf is.
Hy is nog vars in die
wêreld en wil weet.
Die predikant is nog uit die geslag
van mooi en deftig praat. “My boeta,” vertel hy plegstatig, “dit is die name van
al die seuns uit die gemeente wat in die diens dood is.”
Voor hy nog verder kan verduidelik, val die outjie 'n tree terug en vra benoud: “Was dit die oggend of aand-diens,
dominee?”