Saturday, March 02, 2013

Gewetenswroeting in die lydenstyd: oor die feilbaarheid van gelowiges





Die Russiese skilder, Nikolai Ge (sien die blog van eergister), het in 1891 hierdie skildery gemaak wat ‘n mens met die eerste oogopslag in die hart gryp.

Veral nou met die lydenstyd.

Dit is ‘n skildery met ‘n doodgewone toneel. Dit is van ‘n persoon wat in die nag buite op ‘n pad staan en staar na ‘n klompie mense wat ‘n ent weg van hom aan die wegloop is.

In my leeswerk oor die skildery kom ek af op ‘n beskrywing van die kunsbeweging in Rusland in die tyd toe Ge sy werke geskilder het. Daar was naamlik ‘n groep studente wat weggebreek het van die gevestigde Akademie van Kunste (in 1863) omdat kuns na hulle mening sy band met die gewone lewe verloor het. Die kunstenaars wou gewone mense, gewone landskappe en die Russiese geestelikes van hulle tyd teken en nie die ou tema’s van verhewe, klassieke en bekende helde en hul doen en late nie.

Ook hul godsdienstige kuns sou aardser, konkreter, mensliker word.

Ge se siening op sy godsdienstige tema’s sou sekerlik deur so ‘n houding ingrypend bepaal word. Teen buitengewone, tradisionele, verhewe en opgeblase skilderye met godsdienstige tema’s nie. Eerder: die aardse, die werklike, die konkrete – sodat die kyker daarmee resoneer en daardeur aangespreek word.

Dit het ook duidelik met Ge gebeur. So aards en konkreet en anders het hy sy skildery dat die kerk dit gesensor het en dat die reproduksie daarvan verbied is.

Hierdie skildery is al op sy eie ‘n stuk wat ‘n mens opval. Des te meer wanneer ‘n mens die tema daarvan besef. Nikolai Ge noem dit “Judas” en nog veelseggender, voeg hy “gewete” by.

Judas word in die geskiedenis as die groot verraaier, die Monster van alle monsters uitgebeeld. Terwyl die oudste evangelie (Markus) nie veel oor hom skryf nie, vertel die latere tekste in die Nuwe Testament in allerhande gruwelik detail van sy dood en hoe hy na sy self-doding geval en met uitgepeulde ingewande tot sy einde gekom het.

Dit is ‘n gruwelike uitbeelding wat in die kunsgeskiedenis by herhaling voorkom. Hieroor het Richard Beck in sy (origens) boeiende blog insiggewend geskryf met voorbeelde van sulke skilderye: http://experimentaltheology.blogspot.com/2010/03/reflections-on-judas-part-3-judas-in.html

Ge is deur Rembrandt beïnvloed, veral met sy ewe merkwaardige spel van lig en donker. Hierdie intertekstuele gegewe is vir my ‘n deurslaggewende sleutel om die impak van die skildery op my in woorde om te sit: Die hele skildery is deurtrek met ‘n diepe, oewerlose, intens tragiese donkerte. Dit is ‘n pikswart nag wat hier geteken word. Daar is geen sterre te sien nie. Die toneel is vernietigend koud en uitsigloos.

Regs in die skildery, op die kant, is daar ‘n klein raam waarin daar lig is met ‘n paar figure daarin geteken. Dit is, word vertel, Jesus wat deur die soldate weggelei word na sy gevangeneming en na sy verraad deur Judas. Daar is ‘n al groterwordende kloof wat Jesus  van Judas skei.

Links met ‘n helder, maar bleek lig op sy rug, staan Judas. Dit is ‘n koue, grou, lig wat hard op hom en op die klipperige pad val. Verlatenheid, alleenheid, op sy eie, in die donker, omgewe met kilheid van sy eie verraad staan Judas met die besef van wat hy gedoen het. Hy beweeg nie, hy kan maar net die gevolge van sy duister daad van ontrouheid staan en ervaar.

 ‘n Mens kan nie Judas se gesig sien nie. Dit is in donkerte verhul, asof dit die donkerte van sy innerlike ontnugtering wil uitbeeld.

In die tradisionele skildery van Judas is hy meestal in heldergeel geskilder as kleur wat gierigheid uitbeeld, terwyl daar ook immer ‘n geldsakke in sy hand geteken is.

Hier is daar niks daarvan te sien nie. Judas trek sy mantel styf om hom vas terwyl hy duidelik agter Jesus aan staar.

Richard Beck skryf: In Ge's painting we see, in the upper right corner, Jesus being taken away in the fading torchlight of the soldiers. Judas stands clutching himself (not a moneybag), now alone, without Christ, in the darkness. Judas looks like a figure of profound desolation and isolation. Who did Judas betray? Jesus? Himself? Regardless, Judas needs no further judgment. He has cast himself into the outer darkness where there is weeping and gnashing of teeth.

Vergelyk hierdie toneel van Judas met die tonele wat in die tradisie sy einde uitbeeld. Ge beeld eerder 'n menslike Judas, verlate in verraad, uit: so sien sy kykers vir Judas. 

Herkenbaar? Die ek-Judas?

Vir my wil ek die skildery nader bring as blote jammerte vir Judas, of as nadenke oor sy verraad as veral verraad aan homself, of as sy straf  as ‘n donker, kwellende alleenheid.

Judas herinner my aan ‘n mens se verhouding met God: telkens weer is daar die goddelike toewending, die intieme nabyheid en die lig van liefdevolle omgee. En telkens weer die besef van die duisternis waarin ‘n mens leef: Jesus wat ‘n mens op soveel berekende en onberekende maniere prysgee terwyl ‘n mens die geestelike weg bereis.

Laat ‘n mens die gewete byhou: telkens weer jou innerlike toets aan die donkerte wat so vlak onder die oppervlakte broei en so hewig van God wil wegbreek.

Kyk maar na die wegstappende Jesus: saam met die soldate, op pad na sy einde, verraai deur ‘n vertroueling, sien jy, met Ge se skildersoog, die lig van die soldate se fakkel rondom die wegstappende Jesus. Maar dit is ook ‘n helder, warm lig wat, opvallend, veral op sy hoof val. Die pad is verlig, dus, met veel meer as net die lig van ‘n fakkel. Dit is die Lig wat bly skyn en wat in skrille kontras staan met die weg van die donker pad van verraad wat net in donkerte eindig.

Die gewete kan uiteindelik en immers net belig word deur die helder lig van die Christus-figuur – trou tot die dood, wandelend in die goddelike Lig. 

Die lydenstyd is die tyd om die gewete te ondersoek. Tyd vir gewetenswroeging: oor hoe selfs die mees getroue tot val kom. 
 

Blog Archive