Daar
is soveel te sê oor mense wat dink dat hulle tye van swaarkry en lyding die
gevolg is van iets wat hulle verkeerd gedoen het.
Sekerlik
is dit so dat ‘n mens soms slegte dinge doen en die gevolge daarvan moet dra.
Maar in die Evangelie is die gedagte van ‘n oog om oog deur Jesus radikaal
deurkruis.
Maar
hoekom dink gelowige mens nog so? Dit is die gevolg van hulle beeld van God:
Mense sien God as die “Regter” wat “kom om te oordeel die wat nog lewe en die
wat gesterf het. Hulle ervaar God as Iemand wat net reg staan om ‘n sondige
mens te straf. Wanneer iemand vir God dien, en iets negatiefs gebeur, is hulle
“logiese” afleiding hieruit dat hulle “gestraf” word.
In
die afgelope paar dae dink ek na oor die volgende gedeelte in Hebreërs 5:7:
Hy (Jesus) het in sy lewensdae
gebede en smeekgebede met harde krete en trane gebring na Hom wat Hom van die
dood kon red, en Hy is verhoor vanweë sy dieper onderworpenheid aan God.
Anders
gesê: In die dae van sy liggaamlike bestaan (ἐν ταῖς ἡμέραις τῆς σαρκὸς αὐτοῦ), was dit vir Jesus ‘n
tyd dat hy die dood en dus verganklikheid in die oë gestaar het. In die opsig
was hy “tipies” mens, soos Hebreërs 5 impliseer.
Oor
‘n mens se bestaan op aarde hang dus immer die skadu van jou sterwe. ‘n Mens
beleef kortstondigheid en dit bring lyding, vrees en akute angs met hom mee. Jy
is op reis deur die “dal van doodskaduwee” soos Totius dit assonantief en
digterlik uitgedruk het.
‘n
Mens kan dit baie swart sien – soos baie mense hulle lewens as ‘n “aardse
tranedal” beskou en as niks beters nie.
Maar
dinge begin anders lyk wanneer ‘n mens ‘n ander beeld van God vind en vanuit ‘n
ander hoek na Jesus kyk: Jesus se “lyding” word in die kerklike jaar veral met
die kruis verbind. Lydenstyd is die tyd waarin Jesus se weg na die kruis
bepeins word.
Maar
dit is, soos ‘n mens hoog sou sê, heeltemal te reduksionisties. Dit “verskraal”
die lydenstyd van Jesus sodat ‘n mens ‘n totaal “arm” beeld daarvan het. In Hebreërs sien ons die meer realistiese
gesig van lyding: dit is met die menslike toestand gegee. Wie mens is, staar
die dood in die gesig. Die “lyding” van Jesus kan lank nie net tot die kruis
verskraal word nie. Trouens, ‘n mens sou amper kon sê dat ons verskraalde
siening van lyding as die kruisiging word hier fundamenteel bevraagteken. In
die oë van die skrywer van die Hebreër-brief is Jesus se “aardse” lewe ‘n tyd
van lyding, van akute angs en daarom van volhardende gebed.
So
lyk ‘n mens: iemand wat smekend voor God staan, angstig oor sy of haar
lydensbestaan.
In
die lydenstyd, in die heilige week, is dit wat Hebreërs eerste van alles wil
onderstreep: lyding is nie jou lot omdat jy sondig is nie. Dit kom nie oor jou
as straf nie. Dit is nie iets wat tussen jou en God hoef te staan nie.
God
staan in die midde van die menslike lydensverhaal.
Juis
die insig dat Jesus se aardse, liggaamlike lewe in die teken van doodsangs
staan maak, vreemd genoeg, ‘n troosgebaar na die mens se kant: elke oomblik dat
ons bewus raak van die dinge wat ons nie kan beheer en wat ons moed van ons
wegneem, weet ‘n mens dat dit ‘n tipe bestaan is wat Christus ook gehad het. Hy
ken dit.
Ons
moet dus in die lydenstyd Christus-gelykvormig dink. Ons moet hierdie
transformasie tot gelykvormigheid aan Christus as ‘n wesenlike moment in ons
geestelike reis beleef. En gelykvormigheid aan Christus beteken dat ons die
liggaamlike bestaan wat ons as genade ontvang, steeds weer realisties sal beleef:
laat niemand daaroor illusies hê nie. Dit is deurdrenk met die donker tye.
Christus se lewe herinner immers hieraan, vertel Hebreërs 5:7. Dit was deel van
sy menslike bestaan, soos, by implikasie, dit ook van alle mense waar is.
Dit
is ‘n “gebroke” werklikheid – so het ons altyd van die wêreld gepraat. Hoe
anders? Dit is tydelik, verganklik, eindig, beperk, voorlopig en dit maak
dikwels baie seer – want die dood werk daarin en bring dit tot ‘n einde. Niemand,
hoe vroom ook al en hoe toegewyd aan God, kan hieraan ontkom nie.
Laat
die mens dus realisties oor die lewe dink. En veral nie te triomfantalisties
nie, asof alles net halleluja en loof die Heer is.
Dit
is troos, konkrete troos, dat Jesus hierin aan die mens gelyk was: dit
impliseer immers dat God wat ons in die lewe geroep en as mens geskep het, ook
intiem by die gang van die mens se aardse lewe betrokke was. God ken die
menslike bestaan nie net van “buite” af nie. God ken dit van “binne” uit.
Maar
daar is ‘n baie dieper oomblik aan die feit dat die aardse bestaan in die skadu
van die dood staan. Angstig treur Jesus sy lewe lank oor die onvolmaaktheid van
die menslike bestaan. Dit is, vertel Hebreërs 5:7, nie wat God wil hê nie. God
soek nie straf nie, gebruik nie die dood nie, verlustig God nie in lyding nie.
Verlangend,
smekend, maar ook met innerlike sekerheid gee Jesus onmiskenbaar die boodskap:
wees realisties, maar wees nie tevrede nie. Want anderkant die aardse bestaan
met al sy harde realiteite, het die hart van God vir die mens die Grotere, die
Verborgene berei in die wete: die dood is nie die einde nie. Iemand is sterker.
Hebreërs
5:7 wil die mens nie met ‘n aardse tranedal versoen nie. Die dieper waarheid is
dat die teks ‘n mens aanmoedig om juis te midde van die aardse tranedal te weet
en te bid tot God wat groter en sterker is.