Euronews
(kanaal 414) is ‘n interessante kanaal. ‘n Mens sien daarop nuusitems wat nooit
op ander kanale uitgesaai word nie. Boeiende berigte uit al die lande in Europa kom aan die buurt. Daar
is boonop nie advertensies nie.
As ‘n mens
ingelig wil wees oor wat in Europa aangaan, is dit die kanaal om te kyk.
Die kanaal
bedien alle nasies en volke en is, dit is duidelik, sekulêr in sy uitkyk en
benadering.
Tog het
hulle veel aandag aan die verkiesing van die pous gegee. Wat my opgeval het,
was die skalkse, half draakstekerige kommentaar van die omroepers. Hulle het op
allerhande fyn maniertjies so af en toe laat deurskemer wat hulle van die
skouspel eintlik dink. Nogtans het hulle dit ingeligd en goed gedoen.
Die dinge
het hulle egter ingehaal toe hulle die dag na die verkiesing die pous se eerste
mis uitgesaai het.
Terwyl die
ander kanale net uittreksels gegee het, het hulle nogal die grootste deel van
die mis bly uitsaai. En ook probeer om die pous se Taljaans te vertaal.
Dit is nou
hier waar die fan geslaan is.
Want terwyl
die pous praat het die omroeper, wat probeer vertaal het, lang tye stilgebly,
of hy het vinnig ‘n paar sinne in Engels kwytgeraak om dan, duidelik radeloos,
lank stil te bly.
Hy kon nie
uitmaak wat die pous eintlik sê nie.
Radeloos, na
‘n paar probeerslae, raak hy aan die verduidelik: die pous, vertel hy, byna
patroniserend, is besig om ‘n godsdientige toespraak te lewer. Hy doen dit in
tipiese kerklike taal wat eie is aan veral die Rooms-Katolieke tradisie. Vir
buitestaanders sal die toespraak nie altyd duidelik wees nie, want die taal van
die pous is gerig op die kardinale en geestelikes by die mis.
Dit is die
strekking van sy opmerkings.
Hy verstaan
doodgewoon nie wat die pous vertel nie. Hoe eenvoudig die pous ookal praat oor
die toewyding waarmee ‘n mens die weg agter Christus en sy kruis moet loop. Die
kerk-taal is bo die omroeper se begrip.
Ek besef skielik
wat hier gebeur: die kerklike taal met al sy vertroude simbole vir die
binnestaanders beteken vir die volledig gesekulariseerde mens min, indien nie
niks nie.
Dink ‘n mens
ooit daaraan dat selfs die beeld van die kruis vir ‘n moderne mens niks sê nie?
Of ook:
selfs die metafoor van die geestelike weg of die beeld van “Christus navolg.”
Dit
kommunikeer nie.
En dit terwyl
ek vanaand luister na van die mooiste Nederlandse geestelike liedere, ryk aan sy
beelde, metafore, sy meesleurende melodieë, met pragtige orrelklanke gesing met
oorgawe deur ‘n kerk vol mense. Dit is ontroerende oomblikke, vind ek, elke
week weer as ek na die program luister.
Ek wonder
vir hoeveel mense dit ontroerende is?
En dan: hoe
kan ‘n mens in ons tyd hierdie kerktaal en –sang vertaal sodat mense daarmee
kan resoneer?
Of selfs: hoe kry 'n mens begrip vir die binnestaander-karakter van jou eie kerklike taal?