Na
die diens, draf ek vanmiddag ‘n bandelose 12 kilometer al langs die seepad. Ek
het min aan die oefen gekom. Die lyf smag dus om gebrei te word. Die
instelling op die diens het immers ook tyd gevra. Mens pluk nie so iets uit jou
mou nie. Dan bly die gewone dinge agter.
Ek
is dus hart en siel in my draf-tydjie verlore – asof in ekstase.
Dit
is Maartmaand. Hier en daar steek die Maart-lelies hulle koppies al flink bo
die grond uit. Net twee blaartjies. Groen, groen en petiet lê hulle platore op
die gras. Binnekort sal die bloedrooi lelie, net een blom, tussen die blare
opkom en kortstondig, sommer net, so sonder rede, uit pure oorvloed, God se
skepping verryk. Kortstondig sal dit ook die Herfstyd mooi maak. En dan, binne dae, sal hulle weg wees. Om ‘n mens
daaraan te herinner: dit is herfs, die seisoen om oor die oorgange in die lewe na te
dink.
Dit
is die Goeie Vrydag-gedagtes wat by my op die vroeë herfsdag langs die see opkom:
die kom en gaan, ook van die lydenspad, altyd intens, maar steeds weer voltooi en
afgerond in ‘n laaste dag, die finale oomblikke, die volbring van die goddelike
wil.
Die
stilheid en soberheid van die dag is in die lug: Die Goeie Vrydag op ons
geliefde kuier-plekkie is hierdie jaar die hele dag deur bewolk. Reënwolke pak
so af en toe saam, maar deur die dag wil-wil die son homself laat voel. Ek swem
vanoggend na die diens. Die water is lekker, die see, na die volmaan-nag, ongewoon laag.
Enkel-diep kan ‘n mens byna diep-see instap.
Maar die goedheid van die natuur bly sing ‘n mineur-ondertoon: God treur.
My
draffie al langs die seepad, is vol betowering: die see is ‘n herfse diep-blou,
maar so helderblou dit ruk aan jou hart. En kus-langs breek die branders juis
teen die horison van die blou witter as ooit tevore. Dit is asof die wit ‘n
mens se gedagtes vir ewig wil laat stilstaan. En jou wil laat vashou, in die gedagtes
wat in jou spoel, aan die beswering van kortstondigheid, aan die trou van God
wat oor eeue heen bly – soos die wit-spoel van die golwe wat gedurig en altyd daar is - keer op keer, dag na
dag, seisoen vir seisoen.
Goed
is God se skepping en die trou van God wat dit bly onderhou. So goed soos die
liefde wat op hierdie dag tot die uiterste beproef en bewys is.
Maar
die dag is laat-aand so stil. Daar is nie ‘n trekkie in die lug nie. Net die
see wat op ‘n afstand raas, maar ook maar net, amper huiwerig-stil, asof dit ‘n
mens se aandag van die dieper dinge nie wil wegneem nie.
So
stil is hierdie aand soos dit was vir Hom nadat hy op hierdie dag sy lewe gegee het.
Die Een wat God met eerbied en ontsag gedien het (Heb.5:7) se lyding is
uiteindelik verby. Vir altyd is dit oor, is die taak volbring, is die liefde vas geborg, is
die ewigheid in ons midde. Want hoe kan die Liefde ooit gepeil word? Eeue sal
‘n mens daarmee besig bly. Seisoene sal dit neem om daarin te woon en daarin
bly te wees.