Sunday, March 24, 2013

Om mens te wees en te ly. Oor die trane van Jesus in die lydenstyd

  ‘n Mens praat maklik oor lyding wanneer dit jou nie raak nie. Vele mense sal vertel dat hulle eers simpatie kry met ander se lyding as dit oor hulle eie pad gekom het en dit aan hulle eie lyf ervaar het. Net so  kan ‘n mens ander se lyding onderskat, of selfs geringskat.

Dikwels hoor ‘n mens ander sê: noudat ek dit self ervaar, verstaan ek ander soveel beter. 

Dit is daarom waardevol wanneer ‘n insig uit die Bybel ‘n mens help om die ervaring van lyding te herbedink en met nuwe oë te bekyk.

Dit gebeur deur die opvallende gedeelte in Hebreërs 5:7.

Wat ‘n vers!

Dit is ‘n vers wat relatief ongebruik is. Dit word nie dikwels, sover ek weet, in die lydenstyd as teksvers gebruik nie, hoewel dit besonder passend is.

Miskien ontsnap  die vers ‘n mens se aandag omdat dit deur minder bekwame vertalings van sy trefkrag ontneem word. 

So lui die teks:

Hy (Jesus) het in sy lewensdae gebede en smeekgebede met harde krete en trane gebring na Hom wat Hom van die dood kon red, en Hy is verhoor vanweë sy dieper onderworpenheid aan God.

‘n Mens kan die kern van die vers formuleer as : Uitkoms aan ‘n Jesus wat ernstig bid in sy lyding (let op die “sy”). Maar selfs  hierdie kriptiese formulering sny insiggewende momente uit die teks weg. ‘n Mens kan hierdie teks vanuit ‘n velerlei van perspektiewe bedink.

Ek wil uiteindelik by die sleutel tot die lydenstyd en tot hierdie teks uitkom deur eers ‘n ompad te loop. Die ompad begin deur aandag te gee aan die buitengewone menslikheid wat in die beskrywing van Jesus na vore kom. Maar selfs hierdie ompad verleen al diepsinnige insigte in die teks en in lyding.

Aan die een kant is daar die brute, byna té weerlose uitbeelding van die menslikheid van Jesus: Hy is die een wat met harde “krete” (Grieks), en nog meer, met trane uitroep, staan daar in die teks. Die worstelende gebede van Jesus word beskryf in terme van hewige emosies. Die begrippe is sterk: hy is huilende en skreeuende.

Daar is nie twyfel hieroor nie. Dat Jesus se weerlose menslikheid hier uitgebeel word, is nie ‘n glips nie. Die sterk “menslike” uitbeelding van Jesus se lewe is deel van die groter geheel van die hoofstuk: Die skrywer van die Hebreër-brief pas dit in in die groter gedeelte wat gaan oor die hoëpriester wat as mens uit die mense geneem word om vir hulle by God deur offers in te tree. Jesus, beklemtoon hy, is ook so ‘n hoëpriester. Hy het meegevoel met swak mense omdat hy self aan swakheid onderhewig is (verse 1-2). Die Griekse woord vir swakheid kan selfs as “tekortkoming” vertaal word.

In vers 8 kry ‘n mens dan daardie opvallende vers wat soveel eksegete al hoofbrekens gegee het: Jesus het “deur alles wat Hy gely het geleer wat gehoorsaamheid is.”

In die lydenstyd, herinner die teks ons, is ons in al ons eie swakhede bloot voor God. Dit is die tyd van weerloosheid, van uitgelewerd wees aan die onverklaarbaarheid van alles wat so donker oor ons lewens hang. Dit is die tyd wat ons herinner aan ons durende verlatenheid, aan die verduisterde uitsig op God, aan ons beperkte menslike visie op sin, betekenis en, nog meer, ons angstigheid oor ons gevoel dat God nie meer by ons is nie.

Dit alles kom na vore in die eintlike objek van die sin. Waarvoor bid en smeek en huil en skree Jesus?

Die antwoord kom indirek: Hy soek na redding. Die subtiele, “maar duidelike boodskap is verder nog meer menslik as wat ‘n mens jou kan indink: Jesus vrees die dood. Hy bid immers tot God wat Hom uit “die dood kan red.

In ‘n mens se swakheid is jy so swak, jy kan maar net bid. Al wat jy kan doen, is om aan God jou menslike krete te bring – dit, as hoëpriester, op die altaar as wierook neer te lê (Open.6).

Dit is hoe Jesus lyk: die een wat die dood vrees, wat die beker eintlik nie wil drink nie en wat smag dat dit by Hom verbygaan.

Dit is die rol wat God aan Hom toeken (vers 5). God maak Hom tot hoëpriester wat op ‘n eg menslike wyse biddend met sy doodsangste worstel.

Self het Jesus lyding ervaar – en daarom kan hy deernis hê (vers 2). Hy verstaan. Hy weet wat beteken dit om dag en nag, ‘n mens se lewe lank, met vrae, verlangens, onsekerhede, angstighede en tekortkominge te leef.   

Hieroor, en oor die eintlike punt van die vers, later meer.

Blog Archive