Saturday, March 30, 2013

Die dag toe die gordyn voor tempel en wêreld oopgeskeur is...



Die meeste Bybellesers weet dat Lukas-Evangelie veral beklemtoon dat Jesus vir die armes en verstotenes omgegee het. Lukas het veral Jesus se reputasie as Iemand wat uitgereik het na hulle wat min het en wat geminag word, beklemtoon.

Oor die eeue heen lees vele lesers byvoorbeeld Lukas 6:20b-23 met verwondering. Dit is ‘n teks waarin die ontferming van die Ewige oor die wat ongerekend is onmiskenbaar na vore kom:

“Geseënd is julle wat arm is, want aan julle behoort die koninkryk van God. Geseënd is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Geseënd is julle wat nou huil, want julle sal lag. Geseënd is julle wanneer die mense julle haat en julle verstoot en uitskel en julle naam vermy soos iets wat sleg is, alles ter wille van die Seun van die mens.

In meer onlangse tye vra uitleggers aandag vir ‘n ander aspek van die evangelie. Voorheen is ook onderstreep dat Lukas graag die lewe van Jesus in die groot geskiedenis van die volke van die wêreld plaas (bv. Lukas 4:1). Steeds weer, as ‘n ondertoon van albei sy werke, vertel Lukas van die plek van die Evangelie in die groter raamwerk van die Romeinse Ryk. Hier is Handelinge, wat eindig met Paulus se twee-jarige verblyf in Rome (Hand. 28), ‘n goeie voorbeeld. Wat Jesus begin doen het, het gevolge selfs vir die groot wêreldryk van die Romeine.

Dit sien ‘n mens in die lydensverhaal in die optrede van Pilatus en Herodes as Romeinse handlangers in Judea. Self by die kruis is die Romeinse Ryk teenwoordig. In Lukas 23:36 word vertel dat die Romeinse soldate Jesus hulle hou ingekry het en Jesus bespot het.

Dit is ‘n opvallende vertelling in die konteks van die kruis-verhaal. Die soldate se spot volg direk na die gespottery van die volk en hulle leiers. Die verwerping van Jesus is totaal: Jode en Romeine, die Joodse Raad en die Romeinse goewerneur Pilatus, beskimp Jesus.

‘n Mens sou kon sê: Jesus se eie mense en ook nie-Jode wys Hom af. Of, sou ‘n mens selfs kon byvoeg: Die volk van God en die volkere van die wêreld span saam in die verwerping van die heil.

Dat dit werklik Lukas se bedoeling was, word in Handelinge 4:27 duidelik gemaak. Petrus en Johannes is pas deur die Joodse Raad vrygelaat en bid dan saam met die gemeente: “Waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volk van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het.” Heidene en die volke van Israel is kop in een mus.

Waarom is dit vir Lukas so belangrik? Hy wil duidelik wys dat die teenkanting teen Jesus op alle vlakke van die samelewing voorkom. En dit terwyl Jesus die “Heilige Kind” van God is wat deur God “gesalf is.” Dit is groot aansprake wat Jesus as die buitengewone verteenwoordiger van die goddelike wil uitbeeld.

Die teenstelling word des te meer pregnanter omdat dit nie gaan om ‘n oorlog tussen godsdienstiges en “heidene” nie. Dit is veel meer kompleks: dit is ‘n teenstelling tussen egte godsdiens en godsdiens waar God nie meer teenwoordig is nie. Of nog meer toegespits: nie net is die heidene verduister in hul siening van God nie. Ook God se uitverkore volk ken nie meer vir God nie.

Dit is, dus, in Lukas se oë, nie sommer voor die handliggend dat ‘n mens God ken as jy gelowig is nie. Godsdiens waarborg niks nie. Wat eerder tel is ‘n godsdiens wat ‘n mens in die teenwoordigheid van God bring.

Op drie maniere relativeer Lukas hierdie samespanning van die gelowige volk van God en van die wêreld-volkere teen die Lig en help hy die leser om die dieper sin van sy kruisverhaal te begryp:

Eers is daar die “goeie” misdadiger aan die kruis wat Jesus herken vir wie Hy werklik is. Dus, merkwaardig, daar is ‘n enkele Jood wat Jesus as Onskuldig uitwys en as Koning bely (41 en 42). Dit bly ondenkbaar dat hy boonop ‘n self-erkende midadiger is.  Een enkele getroue onder ‘n hele volk herken en betuig die Waarheid. En, in lyn met Lukas se fokus op die ongerekendes en armes, is hy juis die ongerekende, die verworpene, die arme en veragte wat Jesus herken vir wie Hy is.

En dan, na Jesus se laaste woord, word ‘n tweede getuie deur Lukas gebruik om te wys hoe lyk die weg na God: “Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig” (Luk.23:47). Die Romeinse offisier is ‘n simbool van die mense onder die volkere van die wêreld wat na Jesus wys as Lig van die wêreld.

Uiteindelik is daar ook die woord-lose reaksie van die skare om die kruis (Luk:23:48) wat hulleself op die bors slaan. Dit is ‘n teken, baie bekend in daardie tyd, van boete-doening, van skuld-besef en van rou.

Lukas wil met hierdie drievoudige perspektief sy boek Handelinge voorberei: reeds aan en om die kruis was daar die oorblyfsel, die klompie mense wat die verborge werking van God herken het. Selfs die Romeinse soldaat kon nie anders nie. Uit alle volke kom hulle - uit God se totale skepping.

Later, in Handelinge, sou daar meer en meer bykom – uit die Joodse volk, maar ook uit alle wêrelddele.

Die Jesus-verhaal het hierdie Romeinse soldaat en die samedrommende skare radikaal verander. ‘n Kort rukkie tevore het die soldaat nog vir Jesus geminag en vir Hom suur wyn gegee. Maar aan die einde “het hy God geprys.” Die teks beklemtoon dus dat hierdie soldaat in Jesus die werking van God raakgesien het. Hy is volledig verander en getransformeer.

Die hele wêreld, God se totale skepping, word deur die lewe van Jesus in ‘n nuwe rigting gestuur. Die herskepping is aan die gang.

‘n Mens kan Lukas se “kosmiese” perspektief op Jesus op baie maniere van naby bekyk en dit reduseer tot allerhande aktivistiese praktyke.

Maar dit is goed om bietjie terug te staan en die kosmiese implikasies van die evangelie vanuit ‘n ander hoek te bekyk: in Jesus word die skepping weer met die Skepper verenig. Dit beteken dat die mensdom nie ter wille van homself bestaan nie. Dit geld vir die Joodse volk, maar ook vir die Romeine. Dinge loop verkeerd wanneer mense in hul eie bestaan opgesluit word – skryf Waaijman oor deformasie. Dit is dan wanneer hulle op dinge begin vertrou wat nie die tyd sal oorleef nie.

Soms verstaan mense dat vertroue op voorlopighede futiel is: hulle sien met verwondering teenoor God dat Iemand soos Jesus in die aller-akuutste oomblik vol vertroue in God as “Vader” kan sterf selfs al het alles om hulle in duie gestort. Die verlies aan hul geliefdes en aan hul eie lewe is niks teen die groter voorreg om ‘n mens aan God toe te vertrou.

Iewers neem die wêreld in Lukas se oë al hoe meer kennis van die evangelie: die blye tyding dat God alle mense as God se skepping nooit agterlaat nie. Uiteindelik keer die skepping daarmee terug na die begin van alle dinge: die transformasie in herskepping, ook van die soldaat, is uiteindelik ‘n omkeer en terugkeer tot God. ‘n Mens leef vanuit die bewussyn dat ‘n mens aan God behoort, dat ‘n mens se eintlike tuiste by God is – die Een wat met die skepping alle begin het en dit altyd weer onderhou. Wie dit besef, ontdek die rykheid van God se goedheid.

Wat ‘n mens weer terugneem na Jesus se belofte aan die “goeie” misdadiger dat hy met Hom in die paradys sal wees. Die paradys as God se woonplek. Die volkere van die wêreld word gekonfronteer met God se herskeppingswerk. Die voorhangsel skeur oop. Die digte gordyn wat tempel en wêreld van God afgesluit is, is geskeur - God woon weer in die skepping.

Blog Archive