Friday, March 22, 2013

Goeie Vrydag: In ontsag voor God.




Die laaste week van die lydenstyd lê voor. “Heilige week”, lui dit, vir ons nog bietjie taai op die tong, maar glad in sy Engelse “Holy Week.”

Ek is dankbaar dat ek op Goeie Vrydag kans gaan hê om te preek, want in vele opsigte is die dag vir my ‘n hoogtepunt in die kerklike jaar en ‘n impuls om oor die sin van geloof na te dink. Op die dag draai ‘n mens by die hart van die Evangelie.

Ek gaan oor die twee rowers aan die kruis praat. Maar, anders as in die vyf blogs wat ek daaroor geskryf het, wil ek net oor die mees essensiële boodskap van Lukas 23:39-43 nadink. Ek wil besin oor wat die punt van die verhaal is, oor dit waarsonder die gedeelte eintlik inmekaar sal val.

Om dit te kon vasstel, is ek onmiskenbaar gelei deur wat goeie navorsing oor Spiritualiteit skryf. Die boodskap van Lukas oor die rowers raak die hart van spiritualiteit. Kees Waaijman sonder vier kernwoorde uit wat die inhoud van spiritualiteit die beste weergee. En dit is hierdie woorde wat my lees van ‘n teks dikwels stuur en bepaal.

Die eerste van die kernwoorde is ontsag vir God. As ‘n mens oor die geestelike reis, oor die groot wendinge in ‘n mens se lewe, oor die diepste sin van alle dinge nadink, begin ‘n mens by ontsag vir God. Dit is die beginpunt, die saak wat aandag kry.

Dit is die woord wat my getref het toe ek in die lydenstyd oor die gedeelte van die twee rowers dieper begin nadink het.

Wanneer die “goeie” misdadiger deur ‘n sterwende Jesus in die teenwoordigheid van God verwelkom word, gebeur dit juis in die konteks van ontsag vir God as die kernwoord vir spiritualiteit.

Ontsag vir God is die hart van alle dinge. Die geestelike lewe draai om God: die mistieke oomblik is wanneer ‘n men voor God staan en jou lewenssin in ‘n intieme, nou vereniging met God ontdek.

Wanneer Jesus die rower die paradys inneem, onthul hy deur Lukas aan mense van die Evangelie die hart van God. Die hele verhaal kom tot rus by die punt waar Jesus en die mens in die vredestyd, die koninkryk, die paradys sal wees. Vandag nog.  

Daarmee word ons behepthede met soveel ander dinge in die geloofslewe totaal opgehef. As ons na ons lewens in die geloof kyk, sou ‘n mens maklik kon vra: Wat kan tog ooit groter wees as ‘n goeie lewe, ‘n lewe wat vir God aangenaam en goed is?  Wat is beter as dat mense vir hul ondankbare kwaaddoenery gestraf word en vir hul dade verantwoordelik gehou word? Wat is mooier as getrouheid, goedheid, dankbaarheid, heiligheid en vele ander kenmerke van die gelowige mens en sy/haar goeie lewe?

Daar is ‘n antwoord hierop en dit het ook te doen met die rowers aan die kruis.

Die antwoord kan ‘n mens by baie punte begin. Maar die rower het my, intertekstueel, laat dink aan Jesus se gelykenis oor die arbeiders in die winger.

Jesus vertel die gelykenis en skaar hom skynbaar aan die kant van daardie werkers wat net ‘n uur of wat gewerk het. Maar dit is fout. Die gelykenis wil nie op die werkers konsentreer nie.

Jesus neem ‘n mens na die grotere, die betere: Met die gelykenis wil Hy die soeklig op die Baas van die plaas laat val.  Daar is in die Baas, soos by God, iets Onpeilbaars skoon en goed. Dit is ‘n eienskap wat alle verstand te bowe gaan en alle konvensies deurbreek. God, wil Jesus sê, is groter as geregtigheid, as moraliteit, as ‘n goeie lewe. In die Ou Testament hoor ‘n mens gedurig hoe God nie vashou aan allerhande godsdienstighede nie – nie die offer en die kultus is belangrik nie, maar die liefde vir ander.

Die rower aan die kruis sou ‘n mens ook vanuit hierdie perspektief kon bekyk: die man wat deur die agterdeur geglip het en vertel dat God nie volgens ons maatstawwe meet nie.

Dit is sekerlik ook reg.

Maar daar is ‘n dieper, mistieke dimensie aan die gebeurtenis – en daarmee wil ek hierdie reeks oor die kwaaddoeners aan die kruis afsluit.  Dit is ‘n dimensie wat te doen het met God, en, wat, daarom, wegkyk van die mens. Ontsag voor God. Geboeid voor God. Verwonderd en in eerbied staan ‘n mens in die teenwoordigheid van die Volledig Verborgene. Die weë van die Ewige is nie die mens se weg nie. God gee vir almal, onverdiend, oorvloediglik.

Dit help ‘n mens om die rower te verstaan. Sy “inglip” by die agterdeur gebeur sommer nie net nie. As ‘n mens dit besef, begin die saak veel anders lyk.

Die man se smeekbede en sy oratiewe aanspreek van Jesus verduidelik dit so ‘n bietjie, soos ons gesien het. Hy verlang na God. En in sy verlange is die vrysprekende praesentia realis Dei teenwoordig – ‘n mistieke antifrase. Hoe kan ‘n mens dan verlang as God nie op een of ander manier in jou lewe is nie?

Maar selfs dit is nog te min. ‘n Smeekbede kan selfsugtig wees, kan op jouself gerig wees, op blote ontsnapping aan lyding, wegkom van wat jou bedruk of van wat vir jou swaar is. Dit kan jou verlossing van die kruis wees.

Lukas se verhaal het nie so ‘n karakter nie. Dit vertel nie die gebed van ‘n desperate, beangste mens nie.

Dit ontdek ‘n mens wanneer jy jou inleef in die gesprek tussen die twee kwaaddoeners en by die punt van die verhaal uitkom:

“Vrees jy nie God nie?” vra die “goeie” dief – die een sonder naam aan die ander kwaaddoener. En dan volg sy verduideliking: hulle twee as die kwaaddoeners word gestraf vir wat hulle gedoen het – teenoor Jesus wat onskuldig aan die kruis hang. Die goeie rower weet te goed hy is skuldig en word regverdiglik gestraf. Hy sien al die kwaad raak waarmee sy lewe deurtrek is.

Dit is maar vir hom ‘n vertrekpunt na die Grotere, die Belangriker. Langs hom herken hy die goeie, die onskuldige en, meer nog,  die goddelike. Hy ontdek langs hom, in die modderpoel van sy eie kwaad, die Lig van onskuld en goedheid.  Trouens, dit is wat hom die kwaad laat raaksien. Die herkenning van Jesus bring hom tot self-verstaan. Want die ander kwaaddoener “sien” nie regtig vir Jesus nie en sien nie homself vir wat hy is nie.

In die teenwoordigheid van die Onskuldige, oorval dan die “vrees” die goeie rower.

Dit is tegelyk ‘n onstuimige onrustigheid oor God wat die kwaad nie kan verdra nie. Hy herken meteens in sy ellende die vernietigende lewensstyl wat sy lewe tot daardie punt, tot die kruis gebring het.

Maar dit is veel, veel meer as net angs oor wat hy met sy lewe aangevang het en hoe verskriklik dit is om sonder God te wees.

In ‘n oomblik dring dit tot hom deur hoe lyk ‘n lewe sonder God en hoe kontrasteer dit, so ‘n “goddelose” lewe, met ‘n lewe in God. Deur net links te kyk, na die Man in die middel, sien hy volmaaktheid. En dit transformeer, omvorm en maak hom Christus-gelyk: iemand wat sonde herken en konfronteer. Dus transformasie in herskepping en transformasie in Christus-gelykvormigheid. Sy hart reik uit na die Onskuldige, sy verlange verteer hom om saam met die Goeie te wees. En, selfs al is sy vrees vir God so onstuimig sterk, bring hierdie verlange hom om sy bewussyn van sy sonde te oorkom met ‘n hulpkreet na die Lydende.

Dit is wat Jesus, te midde van sy lyding sien en hoor: ‘n man wat God vrees, iemand wat in eerbied en verwondering voor die Onskuldige, die Seun van God staan.

Vir so iemand is daar troos: God se teenwoordigheid is juis beskore vir hulle wat, selfs in die vernietigende tye, weg van hulself kyk en hul vertroue in eerbied en ontsag op God stel. Getrou, sal God hulle onthou en hulle nadertrek in ‘n intieme omhelsing as ‘n geliefde kind.

Nikolai Ge, die Russiese skilder, het ‘n aangrypende skildery gemaak van Jesus en die Rower. Ge het die menslike Jesus uitgebeeld: ons sien nie ‘n serene, stil Velasquez-tipe Jesus wat in gestroopte lig aan ‘n kruis hang nie. Op die doek is ‘n afgryslike Jesus, uitgestreke arms: woeste hare, verbryselde lyf, sy liggaam steier onder die lyding. Hy kan skaars sy oë oophou.

‘n Mens sien hom soos die slegte rower hom sien: ‘n vernielde, magtelose mens, sterwend in bloederige hulpeloosheid.

Daar val tog ‘n sagte, veer-grote ligglans op Jesus se voorkop. Dit neem niks weg van die lyding wat so brutaal op die doek vasgelê word nie. Maar dit is daar, die stralekrans om die voorkop. In lyn met die Christelike tradisie is die “goeie” dief altyd aan Jesus se regterhand geteken. In die antieke tyd was die linkerkant immers steeds die “verkeerde”, ongelukkig en donker kant. Op hierdie skildery is Jesus se kop daarom effens na regs gedraai. Dit is ‘n intense gebaar: die lyding is so intens dat Jesus dit net-net regkry.

Maar onmiskenbaar kyk Jesus die rower in die oë. Daar is nie ‘n teken van ‘n glimlag op Jesus se gesig nie. Hier is net ‘n kruis-verhaal. Maar Jesus sien hom raak. En, al met die horisontale balk van die kruis loop daar ‘n heldergeel lig wat hierdie twee stukkende mense op ‘n mistieke manier met mekaar verenig.  Lig, lig, is die aanraking van daardie blik van die Sterwende. En in daardie lig herken die goeie rower die ontsagwekkende teenwoordigheid van God.

Selfs, dalk veral, in tye van ‘n kruis, in die oomblikke van angs, in ‘n uitmergelende lydensweg is daar die evangelie, die stil, breekbare momente van lig wat die donker weghou en die sterwendes in ‘n opstanding na God toe bring. Net daardie een oomblik in die verhaal van ons lewe syfer die lig deur: waar ons God herken, in vrees, maar ook in hartstogtelike verlange.

In die oomblik sien ‘n mens goedheid – sien ‘n mens die Een wat homself gee, die Een wat oorvloediglik gee, selfs vir hulle wat nie veel het om op trots te wees nie.

Op Goeie Vrydag, in die teenwoordigheid van die sterwende Christus, staan ‘n mens, verstelpt voor die ellendige lyding oor die ontsagwekkende nabyheid van God. Niks is groter as hierdie nabyheid, hierdie onskuld, die stil, sagte lig van ‘n oog, van ‘n liefdesblik, wat, terwyl dit breek, nog liefdevol kan kyk, kan uitnooi en kan bemin.  Ontsagwekkend.

Blog Archive