Monday, March 18, 2013

Voluit leef. Om nie die gawe van die lewe te mors nie.


Die vele mense wat fortuinsoekers opsoek en wat rubrieke soos "Die sterre voorspel" lees, is nie almal besig met onskuldige pret nie.

Sommige is ernstig om geheime uit hulle toekoms te ontdek. 

Asof dit moontlik is!

Oor een ding is 'n mens seker: niemand weet iets sekers omtrent die toekoms nie. 

Maar dit is ook weer nie heeltemal waar nie. Daar is ritme en patrone in ons lewens wat ons in ons toekoms besig hou. Ons weet maar te goed hoe ons die volgende paar dae gaan besig bly: hier sal wasgoed gedoen word, daar sal vir 'n toets geleer word, nog een sal in die werk wees. 

Behalwe hiervoor en die sekerheid hiervan, is daar niks wat 'n mens oor die geheime of onsekerhede van die toekoms kan weet of doen nie. 

Wat om te doen in die lig van 'n verborge toekoms?  

Die antwoord is heel konkreet: 'n Mens se energie moet op die hede toegespits wees. Wat saak maak is of 'n mens voluit en met vervulling leef. Dit is al 'n manier om die toekoms in te gaan.

Wanneer 'n mens so voluit leef en met vreugde die uur en dag van nou beleef, is 'n mens reeds met jou geestelike reis in die toekoms besig. Wat tel is om nou die pad te stap, om in die oomblik van die hier en die nou te vorder.    

Dit is lewenswysheid: om te wandel in die lig wat reeds op ons pad skyn sonder om heel futiel te probeer ontsyfer wat verder in die pad op ons wag.

Die lewe is heeltemal te kosbaar, en ook te spesiaal, om dit op leë bespiegelinge te mors.  

Blog Archive