'n Gedenkplaat in Louisville (oorgeneem van Spiritual Travels).
In die lydenstyd, by die bepeinsing van die kruis en die betekenis daarvan, loop ek vandag 'n vreemde beginpunt raak.
Ek sien onverwags 'n foto van 'n plek in Amerika waarvan ek nou al 'n paar jaar bewus was. Dit het te doen met 'n beroemde verhaal uit die lewe van Thomas Merton, een van die bekendste spiritualiteitskrywers van die vorige eeu en 'n bekende mistikus.
Merton se
lewe het ‘n groot wending geneem na ‘n doodgewone gebeurtenis in die besigste
deel van ‘n groot Amerikaanse stad.
Op 18 Maart
1958 was hy op straat, tussen mense, toe hy skielik oorval is deur ‘n
uitsonderlike ervaring wat hy en vele mense as ‘n mistieke oomblik beskryf.
Die gevoel
wat hom oorval het, beskryf hy as volg:
“In Louisville, op die hoek van Vierde
en Walnut-straat is ek skielik oorweldig deur die besef dat ek al die mense om
my lief het, dat hulle myne is en ek hulle s’n, dat ons nie vreemd vir mekaar
moet wees nie, al ken ons mekaar nie. ...”
Hy het op daardie oomblik ‘n oorweldigende, spesiale gevoel vir die ander mense in die straat om hom heen.
Dit laat hom selfs radeloos voel, want hy kan nie vir hulle almal naasteby vertel hoeveel hy vir hulle omgee nie. Daar
is geen manier dat hy vir hulle kan vertel dat hy dink dat hulle vir hom is asof hulle soos die son skyn.
Merton se
ervaring vertel iets belangriks van die mistiek in die algemeen: hy was al 17
jaar lank ‘n monnik wat in een van die strengste godsdienstige gemeenskappe
in sy kerklike tradisie gaan woon het na hy hom weggekeer het van sy wilde, vernietigende lewe.
Met die
mistieke openbaring het hy besef dat die geestelike lewe nie in afsondering van
die wêreld bestaan nie. Daar is eerder ‘n interkonneksie van die mistikus met
die hele wêreld en met ander mense. Die
geestelike wêreld loop nie weg uit die wêreld nie, maar deur die weg van die wêreld
en gerig op die wêreld.
Hy ontdek met ander woorde sy eie menslikheid, die menslikheid van ander om hom en die besonder band wat daar tussen alle mense bestaan.
Skeppingsvreugde, mistieke ekstase oor wat God aan mense gee en oor die beeld van God wat 'n mens in die wêreld kan ontdek.
Wat so
boeiend is, is dat daar vandag in die baie besige stadskern van Louisville ‘n
monument is op die plek waar Merton sy ervaring gehad het. Mense onderneem
pelgrimstogte na die plek. Hulle het gehoor van Merton se lewensveranderende
oomblik, kom kyk waar dit gebeur het en praat op daardie besige, raserige
straathoek oor die dinge van God. Hier, midde in die stadsrumoer, vier hulle die eenvoud, maar ook menslikheid as 'n goddelike gawe.
Eensklaps op 'n dag kom daar 'n dieper ervaring van die God wat altyd in 'n mens se lewe woon. Hierdie God bind jou aan ander, skep in jou, wondergawe, 'n aangetrokkenheid tot mense om jou. Op 'n dag dryf iets (Iemand) jou om ander te herken as mense
wat jou menslikheid met jou deel.
Jy word deel van die mensdom.
Die vreugde,
het 'n ander spiritualiteitskrywer, Nouwen, geskryf, wat dit by jou wakker maak is die vreugde om saam met ander
te wees as ‘n vriend, ‘n metgesel, ‘n medereisiger. “Dit is die vreugde van
Jesus, wat Immanuel is – God met ons”!
Wat het dit met die lydenstyd te doen?
Lang paaie kan 'n mens hier loop: oor die Jesus wat aan die kruis vir 'n mens onthul wat menslik is tussen die dierlike: by sy eie slagting, is hy die bidder (vergewe hulle), die gasheer (jy sal saam met my in die paradys wees), die dorstige met al die te menslike behoeftes (ek het dors), die angstige mistikus met sy gebed as mistieke antifrase (waarom het U?), die getroue (dit is volbring) en die vertrouende (In U hande). Elke keer weer reik hy uit, wys hy God se gesig in die rumoer van verwerping om hom. Maar hy is ook die een wat mense se verbintenis met mekaar onderstreep. Seun - daar is jou ma. Ma, daar is jou seun. Aangewese op mekaar, verbind in 'n intieme verhouding - dit is die wens en die woord van die kruiseling.