Sheila Cussons, soos afgeneem deur Philip de Vos.
Vanmiddag woon ek by die Woordfees ‘n
bespreking oor Sheila Cussons by, aangebied deur iemand wat baie jare nou met
haar saamgeleef het. Op die manier leer ‘n mens, tweedehands, maar tog, die
digter van nader ken.
Dit word ‘n insiggewende rukkie, hierdie
uur in ‘n lesingkamer in die biblioteek op ‘n onnaspeurlik mooi laat-somerdag.
Eerstens is ek nie verras om te hoor dat
Cussons baie teologiese werke gelees het nie. Ek het juis die bespreking
opgesoek met die hoop om te hoor wie outeurs was wat sy gelees het – en daar
word ek met ten minste een naam gehelp. Cussons het met haar verkennende,
soekende gees teologie opgesoek en diep verteer. Dit was al vroeg reeds daar: Sy
is lank terug deur die proses van kategese in die Rooms-Katolieke kerk voordat
sy lidmaat geword het. Sy wou meer weet en deel kry aan die ryk tradisie van
die Katolisisme wat sy nie in haar eie konteks kon kry nie. Sy en Van Wyk Louw
het die kategese in Amsterdam saam gedoen, maar hy het nie by die kerk
aangesluit nie.
Maar haar teologiese insigte is nie net deur
daardie proses gevorm nie. Sy het nuuskierig bly speur na meer en meer. Deur
die jare het sy vele gesprekke met teoloë gevoer, ook in Suid-Afrika, maar
daarbenewens ook nog vele teoloë gelees, word vertel. Die gespreksleier onthou
spesifieke een naam – Karl Rahn, sê sy en strompel ‘n keer of twee oor die naam.
Maar ek wis dit moet Karl Rahner wees.
Uiteindelik kry ek ‘n spoor om te vat. Ek
sal Cussons nou ‘n bietjie anders lees. En, opnuut verwonder ek my oor hierdie
vrou: sy het net met die beste omgegaan. Want Rahner tel onder die grotes van
die twintigste eeu, boonop nie maklik om te verstaan nie.
Ek loop weg uit die bespreking met ‘n
gevoel van onvervuldheid: Nie een keer tydens die uurlange gesprek vanmiddag val
die woord mistiek om Cussons se werk en persoon te beskryf nie. Wat sal tog van
die vrou se oevre word as Rahner Rahn word en Teresa van Avila se naam
struikelend ter sprake kom? Hoe gebeur dit dat ‘n tydlose, klassieke digter
soos Cussons in ons land bespreek kan word sonder dat die mistiek (dink maar
net aan die Spaanse mistiek met Teresa van Avila en Jan van die Kruis)
indringend ter spreke kom nie – veral omdat Cussons nie net eksistensieel nie,
maar ook intellektueel diep betrokke daarby was.
Elke woord wat tydens die bespreking gepraat
word, gee tekens dat hierdie vroue-digter ‘n mistikus was: sy word beskryf as
iemand wat in bepeinsing wag, oratief, geduldig, aandag toegespits, totdat die
woord gegee word en die kontemplatiewe oomblik daar is, is tog pure mistiek. So
is haar gedigte gevorm, in ‘n proses wat ‘n mens onwillekeurig aan Lectio
Divina herinner. Sy het die proses plasties uitgebeeld: "Daar het 'n engel in my kop gekom," het sy vertel, wanneer sy alle afsprake afgestel en haar afgesonder het, "en ek moet wag op die woord wat die engel vir my gaan gee"!
Cussons, vertel die gespreksleier, het dikwels gepeins
(mooi woord voel ek nog steeds vir meditasie) terwyl sy haar gedigte geskryf
het. Sy wou nie aangaan met haar gedig as sy nie stil geword het nie, ingestel
was sodat die vonk van ‘n nuwe gedagte of woord in haar sou oorskiet het. Sy
was oortuig die woorde word vir haar gegee. Dit was nie sommer maar net dig om woorde te skep en te rangskik nie. Soms het sy selfs, bewus van die
inspirasie wat sy gekry het, belangrike woorde of frases wat sy na lange bepeinsing ontvang het
en neergeskryf het, met ‘n Spaanse woord gemerk (oje). Die woord het tot haar
gekom, die gedig het homself aan haar gegee. Die teks stuur haar.
Hoe anders as ‘n mens haar dagpatroon hoor.
Haar dag het die daaglikse rooster gevolg: gebed om 6 vm (vir ‘n halfuur), om 9
vm, 12 nm en dan weer saans. Sy het die Psalms gebid, en, gedissiplineerd, ook
die rosekrans. Nie om die gebede ontwil nie, eerder as om die verlange na God
se teenwoordigheid.
Daar is vele ander mindere meedelings, maar
tog tekens van ‘n vrou se bewustelike bestaan: hoe sy haar hare volgens ‘n foto
uit haar jeug laat sny het. Hoe sy haar oggende deurgebring het met ‘n
kuiertjie in die Tuine langs haar woonstel in St Martini Gardens waar sy bekendes
ontmoet het en met onbekendes gekuier het. Haar verblyf in Nazareth House,
later, juis om in die geestelike oefening begelei te word. Haar ligaamlike
skending – so totaal en pynlik oor haar hele lyf, wat sy as ‘n loutering van
God aanvaar het. Daar is ook haar kinderlikheid, haar pogings om die Katolieke
formuliere in Afrikaans beskikbaar te kry, die rampspoedige “komitee” waarop
sy, Edith Raidt, Karel Schoeman en Marthinus Versfeld gedien het en waar
niemand wou doen wat die ander een hom aangesê het om te doen nie (! – watter
name!), haar sterwe (“woorde – dankie God!), haar gereedheid om te sterf.
Hoe verstaan ek Cussons na die gesprek? Ek
onthou veral twee dinge:
Aan die een kant die indruk dat geloof vir
haar ‘n belewing was wat om God en die godelike teenwoordigheid gedraai het.
Vandaar die herhaalde opmerkings dat sy minder moes word (nietiging!) vir God
om meer in haar lewe te word. (Die verbranding was deel van die stroping, die
ruimte-maak vir God). En daarom ook die lang tye van gebed, bepeinsing en
afwagting vir God wat sy gesoek het. Dit is geestelike oefening, maar veral
instelling, voorbereiding, soeke na God en die verlange om God se
teenwoordigheid te ervaar.
Aan die ander kant is daar die verdieping
in wete, die meditasie, nadink, die teologiese, Die verstand wil nie agterbly
by wat die hart beleef nie.
Laat my dink: ons praat dikwels van die
wete wat in die hart moet insink. Maar hoeveel keer dink ons aan die teendeel:
dit wat mens in die hart raak, wil ‘n mens ook met jou verstand kan bedink, in
woorde meedeel – selfs al is dit net om te sê hoe ver dit verby woorde lê.
Mistiek, besef ek weer vandag, spreek soveel
tot die egter denkers van ons tyd, omdat dit die wonder van ons
kreatuurlikheid, die verlange van ons verstaan en die worstel met ons sekerhede
by ons wakker maak. En wie dit ervaar, word opgeneem in daardie ironie van
meer-wil-weet omdat en sodat ‘n mens jou min wete kan herken en oorwin – nie in
slimmighede nie, maar in die alwetende, alomteenwoordige en verborge God.
Sien ook: http://johanndelange.blogspot.com/2010/03/deur-eindes-na-opnuut-begin.html