Friday, March 15, 2013

Die onortodokse Jesus. Oor radikale vernuwing (5)



Delacroix is in sy uitbeelding van die kruis deur Rubens beïnvloed. Dit is 'n donker uitbeelding wat die afgryslikheid van die kruis na vore bring.



Die rower aan die kruis, dink ‘n mens, is gelukkig: op die einde, net voor hy sterf, glip hy, ‘n geswore, veroordeelde kwaaddoener, die paradys in. So soos by die agterdeur.

Sommige denkende, gevoelige mense, destyds en ook vandag, is hierdeur gepla: soos die arbeiders wat die hele dag in die wingerd gewerk het en toe moes toesien hoe die een arbeider wat op nommer nege-en-negentig ook hand aan die ploeg geslaan het, van die baas van die plaas dieselfde loon kry as hulle bloedsweet-betaling (Mt. 20:1-16).  

Of: soos daardie woedende ouer broer wat buite in die donker, verdwaasd, kyk hoe sy pa saam met sy jonger, spandabelrige en immorele broer partytjie hou. En al die tyd het hy, getrou en gehoorsaam, die regte paadjie geloop en ‘n voorbeeldige bestaan gevoer.

Daar is, menslik gesproke, geen fout in die ontevredenheid van sulke mense nie. Kwaaddoeners kan immers nouliks begin dink dat hulle na ‘n slegte lewe vinnig vergifnis sou kon kry. Waarom kan mense nie verantwoordelik vir hul ongure en slegte dade gehou word nie?

Dit is die gevestigde, aanvaarde en ortodokse manier van dink. Niemand moet daaraan karring nie. As ‘n mens dit begin bevraagteken, torring ‘n mens die tekstuur wat die samelewing stabiel bymekaar trek, uitmekaar.

Die misdadiger aan die kruis weet te goed dat hy in die lig van al die aanvaarde norme van sy tyd, skuldig is. Daarom vra hy bloot dat Jesus aan hom sal “dink” in sy koninkryk. Ook hy weet dat ‘n mens vir jou onverantwoordelike en misdadige dade tereg veroordeel word.

Juis om hierdie rede bly dit hoogs opsienbarend dat Lukas se evangelie bly vertel dat die misdadiger van Jesus te hore kry dat Jesus hom saamneem in die paradys.

Lukas se Jesus kyk nie na mense bloot net vanuit ‘n bloot menslike hoek en in terme van die ortodokse, konvensionele oortuigings nie. Jesus kan op ‘n radikale manier bestaande menings bevraagteken.

Dit is nie die eerste keer dat Jesus so optree nie. Die reaksie van Jesus op die misdadiger laat ‘n mens dink aan Lukas se ander merkwaardige uitspraak dat ‘n  mens jou vyand moet liefhê (Luk.6:27). Ook hierdie opvatting loop teen die grein van alles wat as “normaal” en “vanselfsprekend” beskou word. 

Jesus kan radikaal wees: slaan iemand jou op die wang, draai jy die ander wang. Dreig iemand jou, gee jy vir hom dubbel wat hy van jou vra.

Radikaal.

Jesus het later, ook aan die kruis, self gedoen wat hy aan ander oor vyandsliefde geleer het toe hy heel onverwags vir die vergifnis van die mense wat Hom gekruisig het, gebid het. In daardie gebed kom sy liefde teenoor hulle wat hom haat na vore.

Wanneer Jesus die misdadiger van sy teenwoordigheid verseker, bevestig Hy dat Hy die vyande van God, hulle wat steel en roof en doodmaak, ook kan liefhê.

Wanneer Jesus op al hierdie radikale maniere die konvensionele opvattinge van sy tyd en sy samelewing op sy kop keer, reflekteer dit ‘n insig van besondere mistagogiese waarde, sou ‘n mens kon redeneer:  Ons weet immers hoe ons gejaag kan word deur ons eie begeertes om uit te styg, om die beste te wees en te besit en deur on vrees om nie deur ander geag te word nie. Niks is so sleg vir ‘n mens, wil Jesus op die manier te kenne gee, wanneer jy jou lewe met die oog op ander se menings en op jou bure se lewensstyl voer. Jy behoort immers te weet: Jy gaan dikwels dikmond rondloop as jy jou oog op die gelukkies en ontkominge van mense rondom jou hou. Jy kan nie brommerig leef omdat ander wat nie so fluks en so ordentlik soos jy is, skynbaar beter daaraan af is as jy nie. En net so sal jou lewe maar suur en somber wees as jy toelaat dat ander mense se opinies jou van jou lewensvreugde beroof.

Deur mense te leer om hul vyande, hul vervolgers, hul teenstanders met al hul gespot, geweld en geskinder te vergeef, bevry Jesus hulle. Hy maak met sy lewe en sy voorbeeld die las op mense se skouers ligter: wees vry genoeg om te weet dat niks of niemand van buite af jou innerlike waardigheid en vryheid kan wegneem nie.

Jesus deel met hierdie radikale insig ‘n ou menslike wysheid: Die stoïsyne en die sinici het almal geleer dat ‘n wyse man nooit deur die hatighede van sy opponente onrustig gemaak sal word nie. Dit weet ‘n mens uit die skrywes van Seneca en Epiktetus.

Nog meer, Jesus deel dit ook met die Ou Testament waar gedeeltes soos Exodus 23:4-5, Spreuke 24:29, 1 Konings 3:10; Jona, en Deuternonomium 10:18-19 van vyandsliefde praat.

Maar hierdie insig is nog lank nie voldoende om die episode van die misdadiger aan die kruis te begryp nie. Dit is waar dat dit ‘n radikale gebaar van Jesus was om die misdadiger nie op sy verdienste te meet nie. Dit is ook waar dat Jesus die oortuigings van al die magtige leiers van sy tyd uitgedaag het. En dit is sekerlik ook so dat Jesus hierin 'n ou wysheid deel - al is dit by hom anders gemotiveerd en gerig.

Deur jou in te leef in die kruisverhaal, kan ‘n mens nader daaraan komom te besef hoe anders Jesus se optrede was: tevrede hoor die leiers van die volk dat Jesus ‘n misdadiger vryspreek. Hulle sou dit as ‘n bevestiging sien dat hulle goeie rede gehad het om Jesus uit die weg te ruim. Hierdie Jesus is ‘n vriend van misdadigers en sien nie die boosheid van hul dade raak nie.

Die verhaal van die misdadiger lyk maar net op die oppervlakte asof Jesus hom maklik tot die paradys toelaat. Daar is ‘n dieper moment aan die verhaal wat dit in ‘n totaal ander lig te staan laat kom. Jesus se onortodokse, radikale optrede teenoor die misdadiger gebeur nie ondanks sy sondige verlede nie. Dit gebeur om ‘n heel, heel ander rede. 

Die vraag is dus: waarom is Jesus so radikaal en anders? 

Later meer hieroor.

Blog Archive