Rut
In
‘n artikel rapporteer ‘n
Ou-Testamentiese teoloog oor die uitkomste van haar navorsing oor Ignatiaanse
meditasie. Sy vertel hoedat hulle ‘n groep studente sover gekry het om deur die
meditatiewe bepeinsing van die boek Rut hulle eksistensieel in te leef in die
boek en in die wêreld van Rut.
Hulle
studente moes in hul verbeeldingswêreld vir hulle indink hoe dit vir Rut moes
gevoel het om op die koringlande graan te gaan pluk om te oorleef en hoe sy deur allerhande Leviraatsbepalings eintlik die besitting van haar familie was.
Deurdat die
studente hulle in die boek se verhaal inleef en agterkom hoe sleg Rut se situasie was, word hulle so aangeraak daardeur
dat hulle hul sienswyse oor vrouens verander.
Dit
is ‘n interessante artikel wat vertel hoedat die Bybel ‘n mens omvorm wanneer
‘n mens daarby betrokke raak. Maar dit gebeur alleen wanneer 'n mens die teks toelaat om jou in die ervaring agter die teks in te neem.
Lectio
Divina, die geestelike leesmetode, is ‘n manier van Bybellees wat hierdie
proses van omvorming wil bemiddel. Dit help om ‘n deurleefde ervaring van ‘n
teks te bemiddel.
Jy
kan baie mooi en vele eksegetiese truuks op die teks probeer. Maar die
aanraking kom wanneer jy in jou eie ervaringswêreld konnekteer met die ervaringswêreld
wat in die teks oorgedra word. Die lewe
van die karakters en die verloop van die verhaal kan ‘n mens se verbeelding dus
“aangryp” en jou eie lewensloop verander en stuur.
Deur
jou te verplaas in die innerlike dinamiek van die teks kry die teks ‘n kans om
‘n impak op jou lewe te maak. Jy word dan ingetrek in die dinamiese
ervaringswerklikheid agter die teks.
Hierdie
omvorming kom deur ‘n lang Bybelverhaal. Dit kan ook deur ‘n enkele woord
opgeroep word. Die belangrike is egter om oop te wees vir en om deel te raak van die teks.
Dit
is alles groot teorie wat met die volgende praktiese oefening geïllustreer kan
word. Dit is ‘n oefening wat aansluit by wat ek gister oor Markus se Evangelie
geskryf het en waarin ek gewys het hoe ontsag vir God die evangelie omraam. Dit
is ‘n Evangelie wat ‘n mens verwonderd laat staan voor die ontsagwekkende en
boeiende Verborgene.
Wanneer
‘n mens in Markus se Evangelie die verhaal van die twee rowers wat saam met
Jesus gekruisig is, lees, het een enkele frase die vermoë om ‘n mens in
aanraking met die Verborge krag van die teks te bring. Dit wil ek deur 'n lang omweg bespreek.
Aan
die kruis, vertel al die Evangelies ons (Markus 15:27-28, Matteus 27:38, Lukas
23:33 en Johannes 19:18) was daar twee rowers wat saam met Jesus gekruisig is.
Een aan sy regter- en een aan sy linkerkant. Johannes beklemtoon dat hulle aan
weerskante gehang het, deur te vertel dat Jesus “in die middel” was. Dit was die omgewing waarin Jesus gesterf het - sy uiteindelik lot: om tussen misdadigers te wees.
Die twee is kwaaddoeners (kakourgous) en dus skuldig genoeg om gekruisig te word. Dit sê
hulle boonop self in die vertelling. Hulle het geen illusies nie en probeer
hulle self nie verontskuldig nie. Hulle weet hulle verdien hulle straf.
As rowers het hulle ‘n harde
streep aan hulle. Matteus skryf byvoorbeeld dat albei van hulle Jesus bespot
het (Mt.27:44). Rowwe manne, hierdie rowers.
Dit
is die meester-verteller Lukas wat egter ‘n onvergeetlike narratief geskep het
wat ‘n merkwaardige resepsie-geskiedenis gehad het. Vele skrywers het in latere
tye nagedink oor die rowers. Hulle het vir die twee name gegee en hulle
lewensgeskiedenis gerekonstrueer – alles in ‘n poging om dieper in die verhaal
te delf. Sommige skrywers noem die berouvolle rower Titus, terwyl ander aan hom die naam Dismas of selfs Demas gee. In die Rooms-Katolieke kerk
word hy Sint Dismas genoem met ‘n feesdag op 25 Maart – nogal op dieselfde dag
as die feesdag van Maria se hemelvaart. Hy word in die tradisie as ‘n heilige beskou omdat
Jesus hom die paradys belowe het.
Die
Bybel vertel egter niks hiervan nie.
Lukas
se verhaal in Lukas 23:39-43 is vol allerhande ander boeiende inligting. Een van die misdadigers
“laster” (soos die Grieks lui) Jesus met die woorde dat Jesus as Messias
homself en hulle moet red.
Dan
kom die verrassing: Die tweede rower antwoord met ‘n teregwysing: “vrees jy dan
nie God nie?” Hieruit lei die leser af
dat die leser ‘n “goeie” karakter is. Hy wys die ander rower daarop dat Jesus onskuldig
is, terwyl hulle regverdige straf vir hul dade ontvang.
Hierdie
man, vertel die goeie rower, het niks verkeerds gedoen nie.
Lukas
gee dus vir ons ‘n kykie in ‘n dialoog tussen die twee rowers.
Stel
jou voor: twee rowers aan die praat oor Jesus terwyl Jesus langs hulle aan die
kruis hang en elke woord hoor wat hulle met mekaar praat.
Hulle gesprek met
mekaar is die meditatiewe oomblik: hulle “ontleed” vir die leser wat aan die
kruis aan die gang is. Terwyl die een rower misplaaste Messiaanse verwagtinge
artikuleer, gee die ander rower aan die lesers ‘n blik in Jesus as die
onskuldige wat sonder enige rede soos ‘n misdadiger verwerp en veroordeel word.
En
dan, praat die goeie rower direk met Jesus: Hy spreek hom heel veelseggend aan
as “Jesus” en nie as “Here” soos Jesus se dissipels nie.
Die
verhaal verdiep: Hy vra van Jesus iets. Sy versoek is eenvoudig: “Onthou my wanneer U in u koninkryk
kom.”
Dit is die oratiewe oomblik – die oomblik van gebed, waardeur hy uitreik
na Jesus en sy verlange om by God te wees uitroep. Dit is ‘n oomblik van
afhanklikheid.
Net
so duidelik is die kontemplatiewe moment: Jesus beloof hom met ‘n amen: “vandag
sal jy met my in die paradys wees.” Hy kry 'n goddelike belofte, gelaai met guns en ontferming.
Maar:
hoe is dit tog moontlik? Hoe kan hierdie rower, verlangend na ‘n intieme
nabyheid aan die Goeie, die Onskuld, deur Jesus eenvoudig die paradys ingeneem
word?
Dit
is die paradys-uitspraak wat Bybellesers deur die eeue geskok en betower het.
Die
prentjie is moeilik verteerbaar: ‘n Skuldige dief, regverdiglik gestraf met ‘n
kruisdood, wat deur Jesus in die paradys onthou word?
Die
verhaal hou nie hier op nie. Daar is in die teks byna verborge tekens wat ‘n
mens op die diepere betekenis van hierdie uitsonderlike handeling van Jesus
wys. Hieroor later meer.