Wednesday, March 27, 2013

Wanneer ateïste soos gelowiges leef...

Hierdie brief het eergister in die koerant verskyn. Sedertdien bly ek daaraan dink.

 

Te meer so oor 'n ervaring wat ek onlangs het toe ek op besoek is in 'n plek waarvan die gemeente van bo tot onder vir of teen die predikant geskeur is. Die hare waai. Groepies raas en baklei met mekaar. Telefoonlyne gons van die kwaai verhale. Dreigende epos-briewe doen die rondte. Vingers word geswaai.     

 

Mense praat dikwels hieroor wanneer hulle daarop dat daar in so 'n geval nie veel verskil tussen 'n gemeente en die "wêreld" is nie.

 

Dis seker al erg genoeg. Al wat erger is, is wanneer 'n briefskrywer, soos hieronder, vertel dat die "wêreld"'n voorbeeld vir die kerk is.   

 

Hier is die brief:    

 

Gelowiges maak dit maklik om nié te glo

deur Epimetheus 2013-03-25 22:00 

Hoewel ek die nimmereindigende en met tye intellektuele debat oor geloof altyd met belangstelling volg, bly die interessanter aspek van geloof vir my die korrela­sie tussen gelowi­ges se daaglikse handel en wandel.


My werk-, kennis- en vriendekring bestaan uit ’n verskeidenheid individue van verskillende kerkdenominasies, asook ateïste. As iemand wat die lewe intens ervaar, is ek geneig om mense se optrede te analiseer. Dit is vir my dus opmerklik dat dié wat bely dat hulle nie glo nie, se optrede, emosies en lewensuitkyk baie meer ooreenstem met my verwagting van hoe gelowiges moet optree en kommunikeer in hul handel en wandel.


In die werk­lewe is dit opmerklik dat die gelowiges gereeld koud en ongevoelig teenoor hul medemens staan. Dit gaan net oor die self. 

Dit is die optrede van dié wat glo, wat dit vir my makliker maak om nie te glo nie.


Epimetheus
Durbanville

Blog Archive