Monday, March 11, 2013

Wanneer 'n Woord die dors les. Oor ‘n verrassing aan die kruis (4)

-->
 
Niks oorweldig ‘n mens meer as wanneer jy van iemand goedheid ontvang wanneer jy eintlik ‘n koue skouer verwag het. Des te meer as dit oorvloediglik aan jou gegee word.

Die rower aan die kruis het, volgens Lukas 23:41 geen hoë dunk van homself nie. Hy weet hy en die ander misdadiger sterf “regverdiglik” aan die kruis: hulle verdien immers die straf wat hulle gekry het. 

Dít is hoe hy homself sien. As daar een is wat ‘n goddelike koue skouer verdien, was dit hy en die ander rower.  

Hy vra nietemin aan Jesus om aan hom te dink wanneer Jesus in sy koninkryk kom.

Dit is ‘n kort vraag. In sy kortheid is dit tegelykertyd ‘n waagstuk, maar tog ook weer nie gewaagd genoeg nie.

Hy is, soos die ander rower, ook op sy eie behoeftes ingestel. Hulle albei vra iets vir hulself. Maar die “goeie” rower vra dit van Christus as ‘n verlangende versoek. Hy waag baie: hy, die skuldige, wat uitreik na die onskuldige (soos hy Christus self beskryf het). Dit is asof die teken van onskuld hierdie woorde uit hom aantrek.

En tog is daar ook ‘n terughoudendheid. In ‘n sekere sin faal hy in sy uitreik na Christus. Die lasterende kwaaddoener het Jesus spottend uitgedaag om hulle te red. Die tweede rower se versoek is eenvoudig net dat Jesus aan hom “dink” wanneer Hy in sy koninkryk kom. Dit is ‘n verleë, stamelende woord wat hy versigtig uitspreek. Dit is die Verlore Seun-ingesteldheid: ek is nie werd om U seun genoem te word nie. Juis in sy feilbaarheid, sy huiwering kom sy verlange, sy eie skuldbewussyn en sy berouvolheid na vore.

Dit sal genoeg wees as God net aan hom dink. So, beskaamd, praat hy met die Onskuldige wanneer hy waag om Hom aan te spreek.

Dan kom daar die onverwagte wending. In sober, eenvoudige woorde laai Lukas die verhaal met ‘n klomp simboliek - gelaai met oorvloed en rykdom.

Jesus se woord gee die rower veel meer as wat hy ooit verwag het: Jesus antwoord dat Hy nie net aan die man sal dink nie. Hy sal saam met Jesus in die paradys wees.  In die teenwoordigheid van Christus sal hy leef.

Dit is die kontemplatiewe oomblik in die teks: om in God se teenwoordigheid te kan wees (Open.22). Dit word aan die rower geskenk, onverdiend.

In hierdie vers kom twee oomblikke in die lectio divina saam: daar is die oratiewe moment – die verlangende, stotterende begeerte van die dief dat Jesus hom nie sal vergeet nie.

In daardie verlangende oomblik hoor hy Jesus se verlossende beloftewoord. Terwyl hy bloot verlangend vra om in ‘n toekoms onthou te word, kom die ryke weerwoord dat hy by Hom sal wees, in sy teenwoordigheid sal bly - ver verby net blote herinneringe aan hom.

Nog sterker word die genade uitgedeel:  Die  “saam met” Jesus wees sal “in die paradys” wees. Hy is meer as net in die goddelike gedagtes. Die ryk metafoor van die tuin van God, waar mense sonder sonde en lyding by God sal wees, neem hom in by God. Hy word volledig, genadiglik, saam met Jesus en ten spyte van sy verlede, in die goddelike ruimte van vrede opgeneem.

Maar daar is nog meer. Jesus se toesegging aan die rower is helder en onmiddellik: “vandag” sal sy verlangens vervul word. Voor die aand sou aanbreek, gouer as wat hy ooit kon dink, sal hy daar wees waar hy weet egte lewe is. 

Drie keer, oorvloediglik, kom die helende woord tot die man.

Wat maak hierdie deel van die rowersverhaal so inspirerend? Hier hang twee rowers en ‘n onskuldige man aan die kruis. In die ellende van hul lyding, in die brutaliteit van gespot, gehoon en verraad, is twee van hulle in ‘n gespek van heling. Hulle reik na mekaar uit en in goddelike woorde gee hulle aan mekaar die allermenslikste, maar tegelykertyd die allergoddelikste troos denkbaar: wat tel is nie waar hulle nou hang nie. Wat tel is dat daar ‘n Onsigbare Verborgenheid is wat hulle berg en borg. Hulle rykheid lê in hul omgee en uitreik na mekaar. In die hel van die dood wat hulle van alle kante omring, praat hulle  met mekaar koninkrykwoorde, paradystaal.

‘n Mens kan die toekoms vier – die “vandag” van goedheid wat as inhoud ook aan selfs die geringste mense geskenk word.

Maar nooit moet ‘n mens die krag van hierdie “Woord” miskyk nie. Verruklik is dit dat iemand wat in duisternis woon, vrywillig, omrede van ander, nog kans sien om aan ‘n woord van die lewe uit te deel.

Immers, het Jesus kort tevore aan sy dissipels gesê: dink aan my, altyd, wanneer julle die maal vier. Maar die anamnese is gelyk mistiek: want in julle dink, ontvang julle die liggaam en brood, wat, mistiek, my teenwoordigheid in en by julle is. 

Dit is die brood, die liggaam, die bloed, die wyn, wat uitgestort word om die wat nouliks nog wil vra, se brandende dors te les.

Dit is oorweldigend – hierdie goedheid wat as goddelike woord tot vandag toe nog weerklink. Want, net om dit te kan hoor en lees is al genade.

Blog Archive