Rembrandt en Rubens se drie kruise
(3)
In
my tweede deel oor Lukas se vertelling oor die twee rowers aan die kruis het ek
so bietjie gekyk na die verlange wat daar in die “goeie” rower se vraag aan
Jesus is om aan hom te dink wanneer hy sy koninkryk binnegaan. Op hierdie
oratiewe oomblik in die teks volg die kontemplatiewe toesegging van Jesus. In
Jesus se belofte dat hy saam met Hom sal wees, kry ‘n mens op ‘n mistieke
manier die verwerkliking van God se teenwoordigheid. Vir Lukas is Jesus se
woord die teken dat God daar in die donker en duister, misdadige en
verstikkende atmosfeer van die kruis en van lyding is.
As
Jesus praat, leef God in daardie woord. Dit is ‘n oomblik waarin die coram Deo
onthul word.
Tog
bly ‘n mens verwonderd dat Jesus skynbaar so maklik oor die rower se smerige
verlede kan beweeg. Hier word ‘n man wat deur die owerhede swaar vir sy
misdadigheid gestraf word, deur Jesus vrygespreek en met ongekende rykdom
beloon.
Hoe
gebeur dit?
Om
sinvol hieroor te dink, moet ‘n mens verdere, byna versteekte dimensies in
Lukas se vertelling uitlig.
Daar
is naamlik in die verhaal ‘n sekere fokus-punt waaroor ‘n mens nogal maklik
heen kan leers.
Hierdie
fokus-punt gee ‘n verdere insig in Jesus se ongewone vryspraak van die rower.
‘n
Meditatiewe omgang met die teks ontsluit hierdie fokus-punt en bring ‘n mens
tot die dieper, spirituele vlak van die teks.
Waarom
is Jesus so goedgesind teenoor die man? Waarom luister Jesus na die man se
versoek dat Jesus hom moet onthou?
Daar
is nie net een rede nie. Lukas se verhaal is baie eenvoudig en helder geskryf.
Maar woorde en sinne in sy narratief is gelaai met betekenis en dieper
spirituele insigte.
Dit
kom ‘n mens agter aan die subtiele verskuiwing in die dialoog. In verse 39-41
lees ‘n mens in Lukas 23 ‘n dialoog tussen die twee misdadigers. Hierdie
dialoog vind plaas te midde van ‘n toneel wat Lukas in die voorafgaande verse
beskryf het: om die kruis is ‘n malende, oproerige skare. Die Joodse leiers lag
Jesus uit en wys aan Hom sy “magteloosheid” uit (vers 35). Die soldate bly nie
agter nie. Hulle bespot Jesus en gee Hom suur wyn (vers 36). Die lasterende
rower is die derde “karakter” in die verhaal wat Jesus bespot.
In
hierdie raserige rumoer praat die “goeie” rower met die lasterende een. Hy “wys
hom tereg”, staan daar. En dan, as die klimaks van die verhaal oor die twee
rowers, praat hy direk met Jesus. Die verhaal beweeg dus na ‘n hoogtepunt. In
al die rumoer van mense wat Jesus openlik verag en verwerp, kry ‘n mens nou die
finale toneel net voor Jesus sterf van ‘n veroordeelde mens wat die
buitengewone swaar straf van kruisiging vir sy misdaadgeskiedenis kry wat met
Jesus self praat.
Die
leser sit vorentoe: wat gaan hy nou vir Jesus sê? Die verhaallyn ontvou na ‘n
punt van hoë spanning.
1.
Heel eerstens moet ‘n mens die baie bedekte, maar belangrike punt raaksien dat
hierdie “goeie” rower iets van Jesus “bely” wat al die rumoerige mense om die
kruis met hul lasterlike gespot ontken.
In
die vorige verse het die leiers spottend vir Jesus uitgedaag dat Hy, as hy die
Messias is, homself moes red. Toe het die soldate gevolg en hom ook uitgedaag
om homself te red as hy “die koning van die Jode” is. En nadat hulle dit
uitgeroep het, herinner Lukas sy lesers aan die opskrif bo-aan die kruis: Dit
is die koning van die Jode.
Die
gang van die verhaal tot op daardie punt was dat die mense om die kruis Jesus
as die Koning-Messias verwerp en bespotlik maak.
Dit
is teen hierdie fyn verweefde tekstuur van motiewe oor Jesus die Messias-Koning
dat ‘n mens nou besef waarom dit een misdadiger ‘n “goeie rower” is.
Terwyl
almal rondom hom Jesus as die gesalfde koning, die een in wie se lewe God aan
die werk is (deur God uitverkies – vers 35)
ontken, begin hierdie naamlose man, self ‘n verworpene, iemand aan die
onderkant van die sosiale leer, met Jesus praat oor sy binnekoms in die
koninkryk! “Jesus dink aan my wanneer U in U koninkryk kom.”
Hy
twyfel nie. Hy vind niks belagliks aan die Man langs hom nie. Hy noem eerder
Jesus op sy naam en praat met Hom as die Koning, as die Een wat mense met hom
sal saamneem waar Hy sy koningskap gaan uitoefen.
Hy
weet die man is “Jesus” – soos hy hom aanspreek in vers 42. Wanneer die lesers
dit hoor, dink hulle aan Lukas 1:31-32 waar die engel vir Maria sê om haar seun
“Jesus” te noem. “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem
word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee en Hy sal as
koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal
daar geen einde wees nie.”
In
die oratiewe oomblik “bely” hy dus wat almal om hom ontken. Ten spyte van die
kruis, van die sterwende Jesus, die onaansienlike en veragte Man, sien hy dus
‘n Koning.
‘n
Mens sou kon sê: vanweë die kruis, sien hy die Koning van alle ewigheid. Die
lyding is vir hom nie die bewys van God wat in Jesus se lewe afwesig is nie. Jesus
aan die kruis herinner hom aan ‘n koninklike teenwoordigheid.
Trouens,
die diepte van hierdie verhaal is dat die misdadiger begryp dat die lyding aan
die kruis is die lyding van ‘n Onskuldige. Hy weet: die man ly omrede van die
mense om hulle, die spotters en die loënaars.
Meer
nog: hy wys nie net profeties op Jesus as Koning nie, hy druk sy begeerte uit
om saam met Hom te wees. Dit is sy verlange in sy sterwensoomblik: om in die
teenwoordigheid van die bespotte Kruiseling te kan wees. Hy wil Jesus volg tot
in alle ewigheid…
Die
rower is ‘n bidder, ‘n profeet, ‘n dissipel!
‘n
Mens sou hierdie verhaal op vele maniere in ons tyd kon betrek: een dimensie
van die verhaal kan ‘n mens verbind met die proses van onderskeiding. In die
verhaal sien ‘n mens drie diskoerse wat teenoor mekaar staan: daar is die
religieuse, Joodse diskoers: die “raadslede”, die “slimmes” en “ingeligtes” dink
hulle weet dat God nie aan Jesus se kant kan wees nie. Aan hulle kant is daar
ook die spottende misdadigers, die sarkastiese lydendes, hulle wat in hul
ellende vasgedraai het: hulle ook wil liewer magsvertoon hê. Die tweede
diskoers is die diskoers van die Imperiale mag van die Romeine: die soldate
spot oor sy Joodse koningskap. Hulle sien ‘n magtelose misdadiger met groot
pretensies. Hulle bring wyn na hom toe.
Dit
is twee diskoerse waarin mense nie verby die oppervlakte en verby uiterlik mag
kan kyk nie. Dit is diskoerse wat op magsvertoon
gefokus is. Dwingende mag tel vir hulle. In hulle geslote wêreld is daar nie
ruimte vir mag wat ‘n mens innerlik sterk maak nie of wat ‘n mens dring tot
liefde nie.
Maar
in die derde diskoers – die diskoers van die geloof, sien ‘n mens verby
oppervlakkige dinge. Jy kyk, soos die misdadiger, en, eintlik, as ‘n rower,
dieper as skyn en word aangeraak deur wat ware mag is. Jy sien ‘n koning waar
ander bespotlikheid uitwys. Jy merk onskuld waar ander oordeel. Jy getuig
openlik in die kring van die vyandiges. Jy bestraf die spotters en bely
goddelike mag. 'n Mens kry selfs die genade om in die oomblik van barre lyding om die teenwoordigheid van God te herken.
Dit
gaan om geloof in die dwaasheid van die kruis, Paulinies gestel.