Hy is fisiek
‘n groot ou. So groot dat hy sy stoel voor die kamera in die televisie-ateljee vol
sit en die joernalis oorkant hom na ‘n dwergie laat lyk.
Hy was
kaptein van een van die bekende rugby-spelende lande. Daarom ook by reputasie
‘n groot man. Oor die wêreld het mense hom geken.
Hy was by
sommige opsienbarende insidente betrokke wat hom nog meer in die openbare oog laat uitstaan het.
Dapper het hy besluite geneem wat hom hoogs ongewild gemaak het, maar wat hy gedink het reg is.
Op die veld
het mense wat hom voorheen as held besing het, hom uitgejou en verneder. Maar
hy het sy man gestaan, by sy besluite gebly en vasgebyt. Later, sê hy vir die joernalis, het hy, al was hy innerlik angstig, besef dat sy besluite ter wille van ander se beswil ook was.
Wat hy
gedoen het, verduidelik hy verder, was om gedurigdeur ingestel te
wees om goeie verhoudinge met ander mense te onderhou. Dit het beteken dat hy
nie net sy eie belang moes soek nie, maar ook die belang van mense om hom. Vir
hom was die belangrikste dat ander mense hom moes verstaan. Eers dan sou hy met
sy lewe kon aangaan.
Die groot
man in die stoel, die ou van wêreldroem, vir wie die Ander eerste kom. Party
mense sal praat van ‘n klein hartjie.
Die gesprek
loop verder: Op die ouderdom van 36 jaar moet hy rugby groet. Hy tree uit.
Die
joernalis vra hom: hoe het jy gevoel toe die gordyn geval het en die ligte afgeskakel
is – toe al die dae van roem en eer verby is?
Ja, antwoord
die gewese rugby-kaptein, dis nou nie dat hy met ‘n skok daardeur oorval is
nie. Hy het eintlik die dag geantisipeer. Al sy vriende het na hulle uittrede
uit sport, al hulle loopbane en gesinne aan die gang gehad, het hy opgelet. Hy,
daarenteen, was nie so ver gevorder nie. Hy gaan ‘n onbekende niks-heid binne.
Vir hulle
was daar met hulle uittrede en toe hulle op sy ouderdom was, reeds ‘n nuwe lewe
aan die ontplooi. Hy, daarenteen, het geweet daardie dag van geen-kalklig kom
en dat hy dan in ‘n groot leegheid instap.
Nou hoe
hanteer ‘n mens so ‘n situasie? Met self-vertroue, maar sonder kordaat, vertel
hy hoe hy vir homself gesê het dat ‘n mens die dag kan vrees dat jy uit die
kalklig tree en dit kan jou verlamd laat.
Maar ‘n mens
kan ook ‘n ander houding hê: jy kan dat die vrees jou tot opwinding aanspoor. En
dit was die instelling waarmee hy die nuwe fase in sy lewe benader het.
Opgewonde oor wat wag, aan die uitkyk vir geleenthede, want daarmee sou hy ‘n
nuwe lewe bou.
Ek kyk na sy
rustige, volwasse houding. Hy sit met sy groot hande ontspanne inmekaar gevou, asof hy met
innerlike vrede sy lewenspad loop: dikwels het hy met die groot rugbybal in net
een hand die veld-in gebeur om die game te speel. Teen die tawwe spel in, het
hy kopgehou, volgens die reëls gespeel en wedstryde gewen.
Nou sit hy
voor die kamera, rustig en ontspanne. Hy is in 'n nuwe fase van die lewensspel.
Kyk, vertel
hy, ander mense in sy posisie, het agtergeraak, depressies beleef en uiteindelik die
handdoek ingegooi. So erg kan dit word.
Maar so wil
hy nie raak nie.
Later lees
ek meer oor sy lewe: sy ouers het hulle streng groot gemaak. Hulle het nooit
veel geld gehad nie. Eerlikheid, openheid en opregtheid was die groot deugde
wat by hulle ingedril is. In hulle huis was daar een goue reël en almal moes
daarby hou: as jy iets wil hê, vra jy daarvoor. Jy doen dinge eerlik, oop en sonder om draaie te loop.
Reeds van
kleins af dus, het hierdie man die reguit pad geloop van vra en goedkeuring. As jy die
lewenspad loop, is dit nie anders as in jou huis wanneer jy iets wil hê nie. Jy
gaan praat en vra.
Op jou lewenspad moet jy ook ander in ag neem. As dinge ‘n
ander koers inloop as wat jy voorsien het, moet jy gaan vra, gaan praat.
Diep ingebed
in ‘n mens se onderbewussyn word die reëls van die lewensreis. Dit kom van kleintyd
af daar lê.
Dink ons
ooit daaraan? Dat die mees gewone dinge in die lewe ‘n simpele huisreël,
die indril van eerlikheid en integriteit, baie later, iemand kan orent hou, moed kan gee en rustig kan maak wanneer die waters troebel en die onweer dreigend raak.
Elke dag,
elke oomblik is iets van die toekoms in ons hande.
Ondenkbaar: uit die kleine, die ongerekende, kom die sagte, stil hart en 'n rustige lewe. Volwassenheid en integriteit is die vrug van die klein, kosbare dinge.