Wanneer
‘n mens die Evangelies vir die eerste keer lees, sou dit jou sekerlik opval dat
alles uitgebreid fokus op die gewelddadige dood van
Jesus aan die kruis.
Nuwe-Testamentici
het dit lank reeds as ‘n belangrike punt uitgelig. Beroemd is byvoorbeeld die Duitse Bybelwetenskaplike, Martin
Kähler se opmerking aan die einde van die negentiende eeu dat ‘n evangelie ‘n lydensverhaal met ‘n langerige inleiding is.
Lees
‘n mens die evangelie, dus, dan lees ‘n mens oor lyding.
In
die Evangelies, dus, is dit immer lydenstyd.
Dit
is wat die skrywers van daardie vier boeke wou uitspel. Die “blye” boodskap is
‘n lydensboodskap.
Daarom
lees ‘n mens die tekste van die vier skrywers van die evangelies met ‘n
groeiende bewussyn van Jesus se uitgerekte verhoor, lyding en uiteindelike
sterwe aan die kruis.
Vergelyk nou daarmee hoe kort
die verwysings na die opstanding is.
In
Markus, die oudste evangelie, word geen opstandingsverhale beskryf nie. Wanneer
Markus by sy slot aankom, hoor sy lesers net van die vroue se skok en vrees oor
‘n leë graf (Mk. 16:8). Niks meer nie.
Hieruit
leer ‘n mens dat die belangrikste inhoud van ‘n boek soms nie eers genoem of
bespreek word nie. Die Evangelies is lydensverhale, maar altyd weer teen die
agtergrond van die opstanding. Jesus sterf, menslik, ‘n wrede dood, maar, in
Markus se slot word Jesus aan die lesers bekendgestel as “die Seun van God”
(Markus 1:1) en dit is as Seun van God wat Jesus aan die kruis sterf (Markus
15:39). Hy is die Menseseun wat “op die wolke” sal kom (Markus 14:62). En af en toe sal Jesus in die loop van die Evangelie vertel dat die "Menseseun" oorgelewer sal word en op die derde dag sal opstaan (Mk. 8:31; sien ook 13:26; 14:62). Heel indirek en kort.
Die
beroemde kort slot in Markus 16:8 bevestig iets merkwaardigs in die verband. Die evangelie eindig daar met die vertelling dat die vroue van die graf in vrees en bewing gevlug het. Hier leer 'n mens: jy hoef nie ‘n
hele verhaal oor die opstanding te hê om deur die Verborge Teenwoordigheid van
God in die lydensverhaal oorweldig te word nie. Die “vrees” van die vroue sê
alles.
Markus
16:8 is dus die eintlike punt van die hele boek. Die kruis en graf is nie alles
nie. Dit is immers ‘n oop graf. En die oopheid van die graf laat 'n mens verby die graf kyk, in ontsag, selfs in vrees oor wat hier aan die gang is.
Totaal uit ‘n mens se sin (ekstasis) begryp
jy: hier is ‘n “vrees”-like ingrype van God.
Markus
is die boek wat handel oor die verskriklike en boeiende Verborgenheid – die
mysterium tremendum et fascinosum (aldus Johnson). Die mooiste voorbeeld hiervan is Markus
4:35-41. Die dissipels is met groot “ontsag” vervul toe hulle die stilmaking
van die storm beleef het. Dit is een van vele voorbeelde van “vrees” wat Jesus
by dissipels oproep. Bevrees vra hulle: wie is Jesus? En deur die Evangelie is Markus besig om vir hulle 'n antwoord op hulle ontsag te gee.
Ek
vertaal die woord “vrees” eerder met “ontsag.”
‘n
Mens lees van Jesus se lyding, sy kruis en sy dood teen die agtergrond van
ontsag. Gelowiges in Jesus se tyd het die boodskap oor Jesus so boeiend gevind
dat dit hulle lewens omvorm het. So, soos Hy, wou hulle wees. In sy
teenwoordigheid wou hulle wees. Maar hoe, sou hulle wonder, is dit om by God te wees? Wie is hierdie God?
Vir hierdie behoefte is die evangelies deur
mense na aan Jesus geskryf en deur gelowiges gelees.
Al
word daar soveel oor die kruis in die evangelies gepraat, gaan dit nie bloot om
die kruis en lyding nie. Dit gaan om meer te wete te kom van die ontsagwekkendheid van
die kruis, van die Verborgene wat in die kruis aan die werk is. Wat, dan, maak hierdie kruis so anders as die dood van vele ander
gekruisigdes in Jesus se tyd? Waar herken ‘n mens in die lewe van Jesus die
Verborge en ontsagwekkende teenwoordigheid van God?
Die
verhaal van die kruis is daarom die verhaal van die mysterium tremendum et
fascinosum: dit is die verhaal van Jesus se lyding wat ‘n mens tot ontsag
bring, maar terselfdertyd op ‘n boeiende manier 'n mens aanraak en omvorm.
Gelowige
mense in die eerste eeu wat deur die teenwoordigheid van God in Jesus aangeraak
is, het op ‘n dag ‘n evangelie gekry om te lees. Hulle leef in klein
geloofsgemeenskappe waarin hulle gereeld bid, saam eet, die nagmaal geniet, die
profete en die wet bestudeer. Hulle identiteit as geloofsgemeenskap is gevorm
deur die apostoliese boodskap oor die merkwaardige dade van God in Jesus.
Dit
was egter net die begin. Die apostels en hul volgelinge wou hierdie identiteit
dieper anker. Hulle wou vir die gelowiges herinner aan wie hulle werklik is. En
toe skryf hulle daardie boeke met die lang verhaal van die kruis – waarmee
hulle vertel het dat God op ‘n merkwaardige, boeiende manier teenwoordig is
waar min mense God herken – aan ‘n kruis:
As julle vol ontsag was oor die
opstanding van Jesus, sal julle in julle ontsag verinnig en verdiep word deur
Jesus se lyding en kruis.
Daarom is dit die hoogste doel van die evangelies: om
gelowiges in verwondering te laat bly oor wie God is.
Dit
is die agtergrond waarteen ek verder wil skryf oor daardie merkwaardige verhaal
van die twee kruiselinge wat saam met Jesus gekruisig is.