Die nuwe pous het trein gery as hy op besoeke in sy gemeente gegaan het.
Die nuwe pous en die voetbalklub
Die nuwe pous, Franciskus 1, se bedaarde, vriendelike en spirituele oomblikke op die balkon gisteraand was duidelik nie 'n filmster-verskyning nie.
Ek lees dat hy na die vorige verkiesing van pous Benedictus, toe hy die tweede meeste stemme gekry het, in 'n onderhoud vertel het dat hy bly was dat hy dit nie gemaak het nie.
Hy hoort in Buenos Aires, vertel hy. Daar, in sy gemeente, is lewe. As hy na die Vatikaan moes verhuis, sou dit sy dood beteken.
Ek verwonder my hieroor. Dit klink vir my reg. Sy lyftaal van eenvoud praat op daardie balkon saam met so 'n uitspraak.
Die man is nie beïndruk deur die roem en luister van die Vatikaanse mag en rykdomme nie.
Waarom sou hy wees? Elke keer as ek na die enorme magstrukture en aardse vertoon kyk, hoe "mooi" die kuns en die argitektuur ook al, wonder ek onwillekeurig waarom die kerk so blink moet wees.
Maar, word ook gerapporteer, hy is 'n ferm man wat goeie besluite kan neem. En die kardinale was beïndruk met sy visie vir die toekoms van die kerk.
Toe ek gisteraand my eerste, goeie indruk van hom verwoord het, maar ook 'n negatiewe berig oor hom oorgeneem het, was dit omdat ek verbaas was dat 'n bekende Britse hoofstroom koerant soos die Guardian 'n uitgebreide berig geplaas het waarin, lank voor gister se verkiesing, gewys is op Franciskus 1 se donker verlede en sy moontlike samewerking met die berugte, moorddadige junta in Argentinië.
Dit was nie lekker leesstof nie. Juis in die week was daar, met die dood van Dirk Coetzee, weer opnuut berigte in ons media oor ons eie moorddadige verlede toe hy en Eugene de Kock mense op gruwelike wyse geskend, vermoor en verbrand het terwyl hulle braaivleis gehou het. Ek onthou soos gister toe die Vrye Weekblad daardie onthullinge gepubliseer het en watter diep, treurige skok dit was: die kyk in die donker hart van apartheid en die monster-agtige dade van moordenaars was traumaties.
'n Mens wil nie hoor dat 'n geestelike leier van wêreldformaat in geselskap van junta's en moorddadige regimes moes wees nie.
Daarom kyk ek vandag uit vir verdere inligting hieroor. Ek sien in vanoggend se New York Times die volgende paragraaf:
In a long interview with an Argentine newspaper in 2010, Cardinal Bergoglio defended his behavior during the dictatorship. He said that he had helped hide people being sought for arrest or disappearance by the military because of their political views, had helped others leave Argentina and had lobbied the country’s military rulers directly for the release and protection of others.
Ons weet dat daar vele priesters in Suid-Amerika was wat die meedoënlose militêre bewind van verskeie lande dapper teengestaan het. Onder hulle was Oscar Romero (sien 'n vorige blog). 'n Mens kan dus op geen manier "die kerk" verdink dat "die kerk" kompromieë met sulke regimes gesluit het nie. Daarvoor was die situasie te kompleks.
Ons weet ook dat dit dikwels nodig was om met sulke militêre leiers direk te onderhandel. Oscar Romero het dit ook gedoen. En die reaksie van sy outoriteite op sy versoeke laat vandag nog koue rillings langs 'n mens se ruggraat afloop. Dit is 'n moeilike taak, wat dikwels volwasse leierskap vra. Daarom is dit nie opsienbarend dat die nuwe pous met die diktatuur van sy dae moet onderhandel nie.
Deur alle tye is die stryd teen boosheid nooit enkelvoudig nie. Dit word op verskeie fronte gevoer. Sommige verset hulle op 'n harde, konfronterende manier. Ander weer soek om in 'n magstryd met oorreding en bestraffing te werk. Party wil "van binne" werk. Ander weer glo openlik verset is die eerlikste en op die lang termyn die effektiefste.
Hoe sal 'n mens weet waar Franciskus 1 inpas? Behalwe dat mense feilbaar is, dat die beste leier donker kante het, dat sake veel meer kompleks is as wat 'n mens dikwels van buite kan oordeel, is dit eenvoudig so dat 'n mens in 'n gewetensbeslissing verskriklik eensaam is. Onderskeiding is 'n saak tussen die soeker en God. Wie biddend, elke dag, soek om God se beeld uit te dra, ook in tye van intense krisis, kom dikwels tot 'n besluit wat vir ander minder wys lyk. Altyd weer moet 'n mens egter daardie onderskeiding respekteer.
Niemand het die reg om 'n ander te veroordeel nie.
"Maar" 'n mens kan daaroor praat. Jy moet.