Ons lewe is vol van baie dinge waaroor ons keuses
moet maak. Dit geld ook van ons geestelike lewe.
Maar dit gebeur min dat ons oor die besluite en
keuses nadink. Ons doen dit sommer net, asof dit gedoen moet word.
Hoe besluit ons oor geestelike sake? Hoe dikwels
kom die vraag op?
Hier is enkele voorbeelde van dringende vrae
waarmee ons te doen kry:
Hoe dink ons na oor die verhouding wat God met mense aanknoop? Wanneer
is dit ‘n verhouding wat lewe vernietig (Galasiërs) of wanneer word dit ‘n
verhouding wat mense opbou (1 Korintiërs 13)?
Wanneer omvorm God mense tot ‘n nuwe lewe (Paulus en die Damaskus-pad)?
Of hoe gebeur dit dat God ‘n verhouding met mense aanknoop en dit loop uit op
‘n ontrouheid (Petrus se verraad)?
Wat gebeur konkreet in mense se lewens wanneer hulle omvorm word? Hoe
bepaal ‘n mens die uitwerking van hierdie omvorming (die vrug van die Gees).
Hoe kom ‘n mens tot die besef dat sekere kruispaaie in jou lewe op ‘n
doodloopstraat kan uitloop? En hoe, as jy so by ‘n kruispad uitkom, kies jy die
weg wat tot God loop?
Hoe besluit ‘n mens sodat jou keuses werklik opgeroep is deur ‘n aanraking
van God en nie maar jou bedekte begeertes verteenwoordig nie? Hoe gebeur ‘n
Moeder Teresa?
Hoe luister ‘n mens na die Heilige Gees?
Hoe bid ‘n mens vir insig om tot die regte besluit te raak?
Hoe kry ek dit reg dat my begeerte om by God te wees, vervul word? Op
watter maniere kan ek by God uitkom?
Dit is alles "kritiese" vrae wat ons
gedurig oor die geestelike reis vra.
En, wanneer ‘n mens hierdie vrae bedink, kom daar
onmiddellik een oorheersende gevoel by ‘n mens op: daar is nie maklike
antwoorde nie. Ek sal nie hieroor kan besluit nie. Die keuses is nie in my
hande nie.
Iets anders moet gebeur as om te besluit wat ‘n
antwoord is: ‘n mens “onderskei” eerder wat God wil. Die ek-vraag van die mens
verdwyn van die toneel. Die fokus is veel eerder die groter wêreld en werk van
God waarby ‘n mens moet inskakel. Die mens se horlosie moet op God se tyd
ingestel word. Dit is ‘n soekende, vraende taak wat nie sommer net antwoorde
optower nie.
En dit is dan die proses van onderskeiding wat
moet plaasvind. Gedurig moet 'n mens onderskei wie God is, wie die mens is, wat
transformatief is, hoe God mense omvorm. En altyd weer moet jy dit in die
teenwoordigheid van God doen, luisterende na die Stem wat van buit tot jou kom
en wat nie verwar moet word met die baie stemme in jou nie.
Onderskeiding is dus 'n kritiese bepeinsing en
nadenke oor God se wil vir 'n mens en geloofsgemeenskap se lewe en weg. Die
vrae wys dat daar nie ‘n dag verbygaan dat ons nie gekonfronteer word met vrae
oor God se wil nie. Bewustelik of onbewustelik is ‘n mens gedurig besig om na
die dieper dinge van God te vra.
Onderskeiding is die hart van die geestelike lewe
en reis. ‘n Mens kan die so sterk stel: sonder onderskeiding is spiritualiteit
onmoontlik.
Dit is eintlik angswekkend wanneer ‘n mens begin
dink oor watter rol onderskeiding in mense se lewens speel. Hoeveel weet ons dan nou uiteindelik van die
eeu-oue praktyk van onderskeiding? Hoeveel ken ons van daardie deurwinterde
spirituele oefening van onderskeiding? Trouens, die armoede van die geloofslewe
kan meestal gekoppel word aan die onkunde van of traagheid tot hierdie
lewegewende spirituele oefening.
Dit is die ironie: oor onderskeiding, die hart
van ons geloof, praat ons prakties nie meer nie.