Ons soek God se wil vir ons lewe. Dit is vir gelowiges 'n belangrike taak.
Maar dikwels bepaal die lewe wat ons lei hoe ons God se wil verstaan eerder as wat God se wil ons lewe lei.
Soms gebeur dit op ‘n hoogs onbewuste vlak.
Dink maar hoe het vroue van die vorige eeu gevra na God se wil. As hulle moet onderskei wat God van hulle vra vir hul toekoms, het vroue dikwels edelmoedig gekies om verpleegsters, onderwyseresse of maatskaplike werkers te word. Hulle het hulle dan “geroepe gevoel” om God in hierdie beroepe te dien.
Hulle het nooit gedroom om te dink dat God sou wou hê dat hulle ‘n predikant, dokter of ingenieur word nie. Onbewustelik en vanweë die sosiale rolle van die verlede was dit “onmoontlik” vir hulle om te dink dat God hulle sou roep om hulle vir daardie beroepe aan te meld. God se wil is dus gesoek net in soverre as wat die sosiale gewoontes en gebruike daarvoor ruimte gelaat het.
Vir vele vroue is dit vandag ondenkbaar dat God vir hulle tot sekere “vroue”-beroepe wil beperk en die invloedryke, groot werke en professies net vir mans bedoel. Hulle ervaar dit as vernederend en beledigend. Hulle kan nie dink dat dit God se wil is dat vroue op die manier verneder word nie.
Ons kan dus God se wil onbewustelik inperk tot wat ons samelewing bepaal. Dan word God ‘n gevangene van die sosiale reëls en afsprake van ons tyd.
Wanneer ‘n mens God se wil vir jou lewe wil soek, moet ‘n mens versigtig kyk na jou eie vooroordele en beperkinge. Dit kan nogal ‘n ingrypende ervaring word as ‘n mens insien dat God dinge van jou kan vra wat mense se wenkbroue sal laat lug en wat teen alle gebruike van jou tyd ingaan.
Jesus het iets hiervan weergegee toe Hy gesê het dat wie Hom wil volg, moet daarmee rekening hou dat dit kan beteken dat hulle vader en moeder verlaat (sien bv Mk. 10:39-40). God se wil vir ‘n mens se lewe kan baie van ‘n mens se sekerhede grondiglik bevraagteken.
Dit beteken dat die vraag na God se wil ook inhou dat ‘n mens self-ondersoek sal moet doen. Sal ‘n mens vir God toelaat om dinge wat jy as vanselfsprekend ervaar, te bevraagteken? Die groot vraag kan wees: watter vanselfsprekende, skynbaar onskuldige dinge is daar in my lewe wat in die pad van God se wil kan staan?
Paulus was so dapper gewees. Toe sy mede-apostels allerhande mooi, indrukwekkende argumente gebruik het om mense uit te sluit, het hy voet neergesit. Paulus het duidelik en omomwonde vertel dat dit nie God se wil kan wees om godsdienstige gebruike soos die besnydenis op mense af te dwing nie.
Maar dinge kan nog ingewikkelder raak. Sandra vertel my hoedat sy in haar werk beïnvloed is deur die manier waarop sy groot gemaak is. Jy het jou pa of jou ma en ander ouer mense se gedrag nie bevraagteken nie. Toe het sy begin werk en haar “goeie” baas het vir haar op ‘n vriendelike manier gevra om sekere inkomste in die boeke op ‘n manier in te skryf wat nie eerlik was nie. Sy het amper "verplig" gevoel om na hom te luister. Sy is egter grootgemaak om eerlik te wees en het gewoonlik in haar lewe hard probeer om die Bybelse opdrag tot eerlikheid na te kom. Die situasie het haar onder druk geplaas. Sy wou nie graag haar werk op die spel plaas nie en het dus oorweeg om na haar baas te luister. Maar gedurigdeur het sy geworstel met die vraag: wat wil God hê en het sy besef dat God se wil vir haar lewe beteken dat sy eerder haar werk moet verloor as wat sy oneerlik sal wees. Sy kon net nie sover kom om iets so belangrik soos eerlikheid te verloën nie.
God wil soms dat ons baie vanselfsprekende dinge in ons lewe bevraagteken.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.