Monday, April 30, 2012

Wannneer 'n mens weer in vreugde glo...


Soms, skryf Henri Nouwen, is ons pyn en hartseer so oorweldigend dat ons nie meer in vreugde kan glo nie. Ons ervaar die lewe as ’n  beker wat oor­loop van geweld, verwerping, een­saam­heid, en ein­de­lose teleurstellings.

Sulke tye, voeg hy by, het ons vriende nodig om ons daar­aan te her­inner dat geparste druiwe uitsoekwyn kan voortbring. Dit is vir ons moeilik om te glo dat daar vreugde uit ons smart gebore kan word, maar as ons treetjie vir treetjie in die rigting beweeg van ons vriende se goeie raad – selfs al is dit vir ons moei­lik om te voel dat die dinge wat hulle sê waar is – kan ons die vreugde wat skyn­baar verlore was, herwin en vind dat ons smart draagliker word.

Ek lees hierdie stuk van Nouwen terwyl ek dink aan 'n insident wat ek onlangs beleef het. 

Ek sit naamlik 'n tydjie terug en gesels met 'n goeie vriend en wonder oor hoe ek die nuwe uitdagings wat op ons wag, sal hanteer. Dit is een van daardie fase's wat 'n mens binnegaan wat om onderskeiding van die geeste vra. 

Skielik, uit die bloute, vertel hy vir my van die trauma wat sy familie die afgelope jaar beleef het en waarvan ek nooit bewus was nie. Ek kan sien hy dra swaar aan die las. 

Maar hy wil my met sy verhaal nie belas nie. Hy wil bloot vir my vertel dat hy my wil ondersteun in my besluite en dat hy begrip het vir wat ek ook al besluit.

Ek is oor baie dinge verras: eerstens is ek verras om te hoor hoe swaar hy gekry het - en dit terwyl ek niks daarvan geweet het nie en hom nooit kon ondersteun nie. Ek verwonder my dat hy so 'n traumatiese situasie met soveel innerlike krag kon hanteer.

Tweedens is ek dankbaar dat hy soveel begrip en sensitiwiteit het. Dit raak 'n mens wanneer iemand besef hoe moeilik dit vir jou is om besluite te neem.

Maar uiteindelik raak dit my veral dat hy my in sy vertroue neem en iets wat slegs in hulle klein familie-kring bekend is, met my deel. Ek waardeer sy meelewing, ek is dankbaar oor die raad wat hy my gee, maar meer nog ervaar ek hoedat ons vriendskap hegter word. 

Daar is 'n stukkie vreugde daarin dat hy sy hart oopmaak. Daar is vir my 'n stuk blydskap dat hy my situasie begryp. En, uiteindelik, kom daar in my 'n brokkie vrolikheid op:  ek kan weer in vreugde glo. 

Ek besef skielik: Nouwen het dalk reg dat ons vriende se raad ons kan help om weer vreugde te vind. Maar soms is jou vriende se teenwoordigheid en jou vriende se innerlike volwassenheid al genoeg. Sonder dat hulle jou 'n enkele woord van raad aanbied, kan hul samesyn genoeg wees om jou bly te maak. 

Die afgelope paar dae, na ons gesprek, besef ek, is dit asof die groot besluite wat ek moes neem, nie meer so moeilik lyk nie. 

Blog Archive