Ek en my huis, soos dit in Bybelse taal heet, sukkel dae lank om ons vorms vir ons belasting-opgawes in te vul. Ons versamel elke bankstaat en iedere kredietkaart-strokie. Ons hou daarvan dat ons bewyse vir elke eis kan voorsien.
Boonop sukkel ek nie met die Gaarder nie. Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, is myns insiens nie sommer net ‘n Bybelteksie nie. Dit is lewenswysheid. En ek glo daarin dat as almal belasting getrou en regverdiglike betaal, dit met ‘n gemeenskap net goed kan gaan.
Dus swoeg ons om alles presies reg te kry.
So gebeur dit dan dat my boekhouer uiteindelik al ons vorms ingedien het en uitwerk wat ons verskuldig is of wat ons gaan terugkry.
Na ‘n tydjie skryf die kantoorvrou vir my ‘n epos. Sy is ‘n dierbare, geduldige vrou, die getroue assistent. Nadat die groot breine die sommetjies gemaak het, neem sy oor, vat sy alles netjies saam en sorg dat dinge afgehandel word.
Dit vra ook maar werk van haar en antwoorde van my: Ons ruil dus eposse uit, vra en antwoord vrae en leer mekaar so oor ‘n paar jaar al ken.
Dit is sy wat toe enkele weke terug vir my skryf en navrae doen oor ‘n bedrag rente van die makelaarsfirma wat in my naam op die Gaarder se rekenaar verskyn het, maar nie in my opgawe gelys is nie.
Nee, skryf ek onmiddellik terug. Dit kan nie wees nie. Ek het die makelaar se vorm dan so netjies in my opgawe genoem en die dokumentasie ingedien. Dit is dus kennelik nie van my nie. Hulle maak ‘n fout. Ek sorg dat my sake reg loop.
Iets bly knaag aan my. Ek gaan, om seker te maak, terug na my makelaar se internet-bladsy en ontdek dat dit inderdaad ‘n bedrag is wat aan my betaal is en waarvan ek skoon vergeet het. Daar is twee vorms op die makelaar se webwerf, en ek het net een ingedien.
Ek is verslae en verleë. Ek sien in my gemoed die Gaarder se tante voor haar rekenaar sit en frons. Maar ek hou ook nie daarvan dat my boekhouer se mense nou met my fout opgeskeep sit en ook bietjie na my kant toe kan frons nie.
Onmiddellik stuur ek die nodige vorms aan en ‘n lang, lang verduideliking aan die kantoor-vrou.
Ek kry ‘n kort, gemoedelike briefie van haar terug. Met twee sinnetjies troos sy my: Sy maak die sakie reg, ek moet dit net in haar hande laat.
Dit is al klaar ‘n verligting.
Maar dit is haar volgende sin wat my ‘n lang tyd daarna nog bybly. Sy skryf naamlik: almal van ons maak foute, ons is mos maar net mense.
Dit is ‘n sinnetjie wat ‘n mens nie eintlik in so ‘n saaklike omgewing verwag nie. Met gemengde gevoelens wonder ek in die dae na ons briefwisseling waarom die sin so ‘n impak op my het. Haar begrip vir my menslike feilbaarheid word vir my ‘n vryspraak, ‘n daad van vergifnis, ‘n gebaar van pure menslikheid.
Die onverwagte begrip is ook nie maar net vir my ‘n verligting nie. Dit word vir my ‘n lewensles: soms, al wil ‘n mens, perfeksionisties, dinge presies reg doen, sal jy dit nie regkry nie. En dit, moet jy weet, sal ook met ander mense gebeur.
En dit is bevrydend om te weet ander verstaan dit, het begrip daarvoor en ag jou nie minder mens omdat jy ‘n fout gemaak het nie. Wat jy ontvang, gee jy ook graag terug deur ook met ander se gebreke vriendelik en met begrip om te gaan.
Nouwen het dikwels hieroor geskryf. Vir hom was dit belangrik dat ‘n mens rekening moet hou met jou eie feilbaarheid, dat jy nie te hard met jouself daaroor moet wees nie en dat jy jouself moet kan vergewe vir jou foute.
Trouens, skryf hy, deur dit te doen, en eerlik daaroor te wees, word ‘n mens ‘n helende teenwoordigheid in die lewe van ander. Want ‘n feilbare mens, bewus van eie beperkinge, wroeg nie oor sy/haar eie gebreke nie en sy/haar aandag is nie opgesluk deur sy/haar wroegings nie. Daar is niks was so afbrekend is soos ‘n self-ingekeerdheid nie – die oer-sonde, in Luther se oë.
En, nog meer, wanneer mense mekaar raaksien as volledig menslik, met fout-vratte en al, kan hulle beter met mekaar in ‘n verhouding tree. Ons deel almal die gevoel dat iemand wat weet wat ‘n mens ervaar wanneer jy misluk, beter sal verstaan.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.