Marguerite Porete, die Franse mistikus wat van 1255 tot 1310 geleef het, het in 1300 ‘n boek (Die Spieel van Eenvoudige Siele) geskryf wat rasend populêr oor die hele Europa geword het, nie net in haar tyd nie, maar veral ook in latere tye.
Hierdie gewilde boek is vir baie eeue anoniem versprei nadat Porete se naam as outeur geskrap is. Eers in 1946 is finaal aangetoon dat sy die skrywer was.
Wat dit so skrynend maak is dat sy in 1310 op die brandstapel gesterf het nadat sy vir 18 maande in ‘n tronk opgesluit is voordat sy deur 21 hoogs gerespekteerde en geleerde teoloë aan kettery skuldig bevind is. By haar brandstapel het die hoog geleerde menere wat haar veroordeel het, die verbranding gestaan en bekyk terwyl die eenvoudige mense wat verwonderd was oor die kalmte waarmee sy haar dood tegemoet gegaan het, gestaan en huil het.
Sy het gesterf as ‘n verworpe en verstote mens: haar boek is verban, verbrand in die openbaar en enige iemand wat dit besit het en versprei het, is uit die kerk gesmyt en geëkskommuniseer.
Dorothee Söllee haal vir Marguerite de Navarre, die suster van koning Francis van Frankryk aan wat eeue later die volgende van die anonieme skrywer van die Spieel geskryf het: “Die skrywer was so passievol gevul met die vuur van liefde, dat liefde en liefde alleen haar enigste ywer was. Liefde was vir haar die begin en einde van alles wat sy gesê het. Met aandag en toewyding was hierdie vrou reg om die liefde te ontvang wat haar eie hart en die harte van almal wat na haar geluister het, vermurwe het.”
Mense sukkel om te verklaar waarom Porete verbrand is. Dit word nog ‘n groter geheimenis as ‘n mens die boek self lees. Die Spieel is ‘n boek wat pragtig en besonder helder geskryf is en wat vertel van ‘n gesprek tussen die volmaakte liefde, die siel met al sy twyfelvrae oor die liefde en die verstand met sy neerbuigende houding teenoor die liefde. Hoe spesiaal die boek is, word duidelik uit die feit dat vir eeue lank mense gedink het dit die werk was van Ruusbroec, die beroemde Vlaamse mistikus.
Vir Porete is liefde die enigste sekerheid in ‘n mens se lewe. Wanneer ‘n mens deur God geraak word, word ‘n mens gevorm soos wat ‘n klok gemaak is: ‘n mens laat klink die liefde wat jou aanraak na buite. God herstel ‘n mens se vervalle toestand en vorm mens in die beeld van God se liefde.
En hierdie goddelike liefde verdring en vernietig alles. Die siel word niks en leef nie meer volgens sy eie wil en rede nie. Dit beteken dat die mens al hoe meer sy/haar eie wil prysgee en in God se wil lewe.
Vir die liefde is die belangrikste om in God se teenwoordigheid te wees. So intens leef die liefde in God se teenwoordigheid dat selfs eredienste, preke, vastye, gebede en allerhande rituele onbelangrik begin word.
Trouens, die siel vind nie vreugde in die gawe’s wat God aan die mens gee of selfs in die trooswoorde waarmee God die mens troos nie. ‘n Mens het God nie lief omdat God vir jou iets kan gee nie. ‘n Mens bemin God ter wille van God self.
Porete haal in die verband 1 Johannes 3:7-16 aan. Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God. En elkeen wat lief het, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, ken God nie. Want God is liefde en die mens wat in die liefde woon, woon in God en God in hom.
Porete het van die belangrike gedagtes van mistici beklemtoon: aan die eenkant het haar werk gewaarsku teen mense wat so maklik oor God praat en wat so goed van God weet. Haar boek toon juis dat ‘n mens se verstand eintlik net kan vasstel wat God nie is nie. Hoe meer die siel God se goedheid ervaar, hoe meer besef die siel dat hy eintlik niks van God weet nie. Aan die ander kant laat die liefde ‘n mens ook al hoe nader aan God kom. En wanneer dit begin gebeur, laat ‘n mens alles wat oor jouself gaan los. Jy is nie meer ingestel op jou self, jou eie dinge nie. Wat saak maak is om by God te wees. Daarom het ‘n mens geen sin meer aan jou eie dinge nie. Die liefde help jou om te laat gaan. Jy kan dinge laat los, jou verlangens na jou gewone behepthede prysgee. Wanneer ‘n mens met God verenig is, word jou eie bestaan vir jou niks.
Die mens se eie dinge word dus laat vaar en gaan tot niet. Wanneer die mens so, in navolging van Christus se woord, alles prysgee, is God aan die werk. Dit is dan dat ‘n mens weet dat dit God is wat ‘n mens bring tot hierdie een groot ervaring: dat ‘n mens niks behalwe God nodig het nie. “Aldus verstaan die siel niks behalwe God nie; dus bemin die siel niemand behalwe God nie; prys niemand behalwe God nie; want daar is niemand behalwe God nie. Want wat ook al bestaan, bestaan om God se goedheid alleen.”
Sölle sluit haar bespreking van Porete af met die woorde dat die wete dat ‘n mens verenig is met die Een wat so ver is en tog so naby is, bring ‘n mens daartoe om jouself te verloor om God te kan ontvang: die siel verloor sy naam in God net soos wat die rivier in die see vloei.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.