Monday, April 09, 2012

Soms is dit onmoontlik om God se wil te soek…

Dit klink goed en vroom om te vra wat is God se wil vir ‘n mens se lewe. Hierdie vraag kan egter in sommige omstandighede niks anders as skynheiligheid wees nie.

Dit gebeur wanneer ‘n mens God se wil vir sekere sake soek. Mense vra byvoorbeeld graag wat God se wil vir hul toekoms is. Dan dink hulle aan sulke groot besluite soos ‘n beroep, ‘n woonplek of ‘n verhouding.

Soms, het ons gesien, word ons vraag na God se wil ingeperk deur die norme en waardes van ons samelewing. Ons vra net na God se wil oor sake wat onseker is, terwyl ons nie daaraan dink dat dinge wat ons as vanselfsprekend beskou, ook buite God se wil kan wees. Dit kan byvoorbeeld nie God se wil wees dat vroue minderwaardig is nie – wat ‘n situasie is wat enkele dekades gelede nog feitelik die geval was toe vroue net sekere beroepe mag beoefen het. Vandag het dit my weer getref toe ek ‘n bietjie nagelees het oor hoe so ‘n skerpsinnige, begaafde vrou soos Edith Stein in die eerste helfte van die twintigste eeu nog in Duitsland uitgesluit is van enige aanstelling as professor bloot net omdat sy ‘n vrou was.

Maar daar is sekere ander dinge buiten die vanselfsprekende wat ons nie graag toets of dit binne God se wil is nie. Dit het te doen met die hardhede en die slegte gewoontes in mense se lewens.

Ons sluit naamlik soms bewustelik sekere dinge uit in ons soeke na God se wil. Dit is ‘n saak van onmoontlikheid: hieroor praat ‘n mens nie onnodig nie, laat staan nog om dit te toets teen God se wil.

Daar is in ‘n mens se lewens dikwels gevestigde gewoontes wat ons nie eers dink om te toets of dit is wat God van ons vra nie. Dit gaan om ons verslawinge, om ons afbrekende gewoontes, waarvoor ons altyd baie verskonings kan uitdink. Sommige mense noem dit boesemsondes.

Dit bly opvallend hoe ons kan saamleef met sulke gewoontes in ons lewens sonder dat ons daaraan dink om dit aan God se wil te toets.

Trouens, dit kom nogal as ‘n skok wanneer ‘n mens op ‘n dag na die slegte dinge in jou lewe kyk en begin dink dit is nie bloot ‘n swakheid waaraan ek skuldig is nie, maar dit is doodgewoon iets wat God nie in my lewe sal wil sien nie.  Dit wat jy weggesteek het en in jou lewe verdra het, word nou ‘n skandvlek of ‘n kwelling wat jou verkneg en pla.

Dit gebeur wanneer ‘n mens bereid is om alle plekke van jou hart, ook die donker, onbereikbare plekke, oop te maak vir God se ondersoekende Gees.

Wanneer ‘n mens in jou stiltetyd bestek opneem oor jou lewe, begin ‘n mens, trouens, hiermee. Die vraag in hierdie tyd van self-ondersoek en besinning is wat daardie verborge, diep weggesteekte dinge is wat ek nie aan die lig wil blootstel nie?  Egte spiritualiteit beteken: Lank voordat ‘n mens in jou tye van hand-in-eie-boesem-steek God se wil en leiding soek oor dinge waaroor ‘n mens twyfel, begin ‘n mens na terreine in jou lewe soek wat jy normaalweg nooit aan God se wil (wil) toets nie.

Natuurlik sluit dit verslawings in – daardie skadelike gewoontes wat ‘n mens se lewens vernietig of ‘n mens se brein besoedel of ‘n mens se tong laat kwaad doen en waarvoor ‘n mens soveel verskonings aanvoer.

Maar dit kan ook “onskuldige” dinge insluit – soos liefdeloosheid of ontrouheid teenoor my maat, afskeep van ‘n gesin, roekelose omgang met geld, twyfelagtige besigheidspraktyke, afknouerige geboelie en gevaarlike spel op die sportveld – dinge wat by ons ongetoetste lewenspraktyke en –gewoontes geword het.

Die kleinskrif is duidelik: ‘n mens kan nie net selektief God se wil vir jou lewe soek nie. ‘n Mens moet in die eerste plek bereid wees om juis daardie dele van ‘n mens se lewe wat ‘n mens eerder van God wil wegsteek, eerste te toets aan God se wil. Dit is moeilik. Dit is swaar. Dit is onmoontlik.

Juis daarom gee God ‘n mens die Gees, die Gees van vernuwing wat ‘n mens aanspoor en bekragtig om die mees verborge dele van ‘n mens se lewe aan die Lig te bring. Wat ons nie kan nie, sal God doen – maar dan alleen wanneer ‘n mens soekende is.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive