Daar
is baie bande wat ons aan ander bind en hierdie verbintenisse het ‘n besonder
houvas op ons. Hulle bly by ons, begelei ons en bekragtig ons bo wat ons ooit vermoed.
As
‘n mens bietjie begin nadink hieroor, ontdek ‘n mens dat dit liefdesbande is.
Dit
is lekker wanneer jy by vriende is. Die tye is goed wanneer ‘n mens sommer 'n aandjie kuier, wanneer 'n mens mekaar
raakloop, toevallig, in die straat, die impromptu geselsies op die straathoek
op ‘n laat somer-dag. Met ‘n vol hart loop jy die res van die dag in.
Die
familie wat met ‘n spesiale geleentheid bymekaar kom en die los, goedige gepratery
oor alles en nog wat. Die groot dinge wat ons andersins kwel en bedruk, is
vergete.
Ons
hou daarvan om die goeie dinge saam te beleef, met mense van ons bloed, vriende, kollega's. Ons speel graag saam, maak ons
grappige en ligsinnige draakstekery. Hoe besweer ‘n mens nie hierdeur die
deurlugtige belangrikheid van die swaargewigte met hul openbare opinies en
slimmighede nie.
Ons
praat vrolik voor die televisie wanneer ons die golf kyk, trots op ons
landgenoot wat die hele wêreld beïndruk. Vergete is die frustrasie, die
skelmstreke, die korrupsie wat so maklik die boe-mens word wat ons verskrik en
op die vlug wil laat slaan.
Saam
bekyk ons die foto’s van die vakansie, onthou die goeie tye saam. Verdring is die donker dinge wat soms so
verstikkend oor ons hang.
Wanneer
‘n mens hieraan vashou, kry ‘n mens plesier aan jou lewe. Die goeie dinge word
‘n rede om bly te wees. Deur vreugde skep ons ‘n veilige wêreld wat nie
ingeneem kan word nie.
Maar
steeds weer is die voorwaarde om die liefde te herken. En dan ook nog om die
liefde te vier. Steeds weer moet ‘n mens jou daaraan herinner.
Dan,
bewus hiervan, deel ‘n mens. Deur vriendelikheid, vreugde, skoonheid. En dit
maak ons vry van die verslawing aan ons vrese. Dit omvorm ons in vryheid.
God,
die Liefde, kom tot hulle wat verlang daarna – en kom in oormaat, in soveel
oorvloed dat ‘n mens in vreugde woon.