Die kerklike lewe is vol van opsienbarende en minder opsienbare dinge. Dit is gewoonlik die buitengewone, wonderlike gebeurtenisse wat die massa’s aantrek en kerkgeboue laat vol loop.
Wanneer ‘n
mens van Paulus se briewe lees, kom ‘n mens agter dat hy baie sensitief was
hieroor. Hy het geweet van die groot aansprake van die belangrikes in Korinte
dat hul geestelik so sterk en buitengewoon geleef het.
Paulus
moedig die besondere gawes van die Gees aan. In 1 Korintiërs 14:1 spoor Paulus
gemeentelede van die kerk in Korinte aan om veral die gawe van profesie te
soek. Dit is vir Paulus iets besonders om te kan profeteer. Dit is ‘n “geestelike”
gawe. Paulus herhaal trouens hierdie aansporing aan die einde van die gedeelte in
vers 39. Hy onderstreep op die manier hoe belangrik die tema vir hom is.
Op dieselfde
manier prys Paulus ook die gawe van spreek in tale hoog aan. Paulus wens dat
almal in die gemeente in tale sal praat. Nog meer, skryf hy, sou hy wou hê dat
almal sou profeteer.
Hy hou
daarvan dat die Korintiërs ywerig soek na geestelike gawes, lees ons in 1
Korintiërs 14:12.
Maar daar is
ook ‘n ander kant. Paulus is duidelik bekommerd oor die nadele en die skade van
geestelike gawes. Paulus skryf juis in vers 29 dat profete en hul profesieë nie
sommer maar net aanvaar moet word nie. Hy voeg by dat as twee of drie profete
spreek moet die ander onderskei/oordeel. Dit beteken dat die gemeente sommige
profesieë verwerp het. Ander profesieë sou sekerlik aanvaar word.
Die baie
belangrike begrip van die onderskeiding van die geeste in spiritualiteit kom
van hierdie vers en is al dikwels bespreek.
Paulus maak
veral duidelik in 1 Korintiërs 14 dat profesie ‘n gawe van God deur die Heilige
Gees is waardeur ‘n boodskap in verstaanbare vorm aan mense gegee word. Reeds
hieruit kan ‘n mens aflei dat Paulus groot waarde daaraan heg dat ‘n profesie
mense op ‘n sinvolle manier op hulle geestelike reis begelei.
Maar hoe
reageer mense nou sinvol op ‘n profesie en hoe kan ‘n mens die waarde van ‘n
profesie onderskei?
Sommige mense
sê dit gaan om die inhoud van die
profesie. In die lig van die boodskap daarvan kan ‘n mens besluit hoe
aanvaarbaar ‘n profesie is. Gedurigdeur in 1 Korintiërs 14 val die klem op
verstaanbaarheid.
Nog ander wys
op ‘n tweede belangrike punt: Die inhoud van ‘n profesie is aanvaarbaar en gesaghebbend
wanneer almal in die kerk dit inderdaad as ‘n profesie onderskei. Elkeen in die
gemeente het ‘n verantwoordelikheid om te deel in die onderskeiding (vers 26).
Ook belangrik is dat ‘n profesie tot opbou van
die kerk moet wees (vers 12). Dit was ‘n belangrike maatstaf in die proses van
onderskeiding: watter rol speel ‘n profesie om mense in ‘n kerk in ‘n intieme
geloofsgemeenskap saam te snoer en te verenig. ‘n Profesie wat verdeel, onmin
saai, mense teen mekaar opsweep, hooghartig is, veroordelend werk is nie eg nie.
Wat waar is
van profesie, is waar van alles wat die kerk doen: gedurig, in elke aktiwiteit,
gaan dit om die geestelike vrug wat ‘n mens moet kan onderskei. Bring ‘n
profesie ‘n mens nader aan God en laat dit ‘n mens die vrug van die Gees dra,
dan is dit sekerlik ‘n gawe van God aan die kerk.
Altyd weer,
dus, moet die kerk waaksaam wees: in alles, maar dan ook alles, moet ‘n mens
God se teenwoordigheid kan onderskei. Anders werk dinge nie reg nie…