Tuesday, April 17, 2012

In die veilige hawe van God se wil. ‘n Christen in Auschwitz.


Georgie O'Keeffe se aangrypende Swart Kruis.



Edith Stein, gebore Jodin, het, nadat sy in 1921 Christen geword het, haar weer aan haar akademiese skryfwerk toegewy. Na 1933 het haar situasie drasties versleg. Omdat sy egter gebore Jood was, is haar aanstelling in akademiese poste en die publikasie van haar werke in Nazi-Duitsland geweier.

Sy skryf in die tyd oor haar groeiende besef dat daar nie vir haar enige geleenthede meer in Duitsland was nie, want die Nazi’s se anti-Semitisme het haar as gebore Jood “n vreemdeling in die wêreld gemaak.”

Met die verslegtende situasie en die gevare wat dit ingehou het, het haar geestelike begeleiers haar nie langer gekeer om in ‘n Karmelitiese klooster te gaan bly nie.

Toe sy in 1933 daar aankom het sy vir die leier gesê: “Mense kan ons nie meer help nie, net die lyding van Christus kan ons nou red. En ek verlang om daaraan deel te hê.”

Net voordat sy tot die klooster toegelaat is, het sy haar ma en familie gaan groet. Sy is saam met hulle na die sinagoge. Haar ma, in trane, het vir haar dogter gesê dat sy niks teen Christus wil sê nie. Wat haar betref kon hy ‘n goeie mens wees. Maar, het sy uitgeroep, waarom het hy homself God genoem?

Van buite, van die staat, maar ook van binne, van haar familie, is sy in lyding gedompel. Vir Edith was die terugreis na die klooster daarom vol gemengde gevoelens. Sy was nie opgewonde nie, want haar ervarings by haar familie was vir haar verskriklik.

En tog, skryf sy, het sy ‘n diepe vrede ervaar omdat sy gevoel het sy leef in die veilige hawe van God se wil.

Sy sou hierna elke week vir haar ma ‘n brief skryf – al het sy nooit van haar ooit ‘n antwoord gekry nie. Haar enigste kontak met die familie was met haar suster. In 1936 is haar ma dood en al het sy nie weer van haar gehoor nie, skryf sy dat sy weet haar ma se geloof tot aan die einde sterk was. Des te meer het sy geglo dat haar ma ‘n genadige God ontmoet het en vir haar as haar dogter intree sodat sy ook daardie bestemming kan bereik.

Teen 1938, vier jaar na haar intrede in die klooster, skryf sy in ‘n steeds verslegtende situasie: “Ek begryp al hoe meer dat die kruis die bestemming van God se mense is. Ek voel dat mense wat die kruis van Christus verstaan, die kruis namens ander op hulle moet neem. Beter as ooit verstaan ek wat dit beteken om aan die Here in die teken van die kruis te behoort. En tog kan ‘n mens dit nooit ten volle verstaan nie, want dit is ‘n verborgenheid.”

In die klooster het Stein gedurig vir haar Joodse geloofsgenote in gebed ingetree. Vir haar was dit ‘n roeping wat God vir haar bestem het. Sy het hulle nooit opgegee of vergeet nie.

Haar lewe was toenemend in gevaar – selfs al was sy ‘n Christen. Toe die verskrikking van die Jode-vervolging in 1938 losgebars het, is Edith in die geheim na Nederland geneem waar sy en haar suster in Echt in die klooster van die Karmeliete weggesteek is.

Daar het sy geskryf, weer eens met die Joodse volk voluit in haar hart: “Ek aanvaar die dood wat God vir my voorberei het in totale onderhorigheid en met vreugde as God se heiligste wil vir my. Ek het die Here gevra om my lewe en my dood te aanvaar sodat die Here deur sy volk aanvaar sal word en dat sy koninkryk in heerlikheid mag kom, sodat Duitsland gered kan word en vrede na die wêreld kan kom.”

In 1941 skryf sy dat ‘n mens alleen maar kennis van die kruis kan opdoen wanneer ‘n mens die kruis volledig ervaar het. Daarvan is ek oortuig en daaroor sê ek met my hele hart: ‘O kruis, enigste hoop.’”

In 1942 is sy gevang deur Nazi’s wat woedend was oor die kerk wat die Jode-slagting veroordeel het, terwyl sy en haar suster in die kapel saam met haar mede-gelowiges aanbid het. Haar laaste woorde in hulle teenwoordigheid het sy vir haar suster gesê: “Kom, ons gaan namens ons mense.” Ook in hierdie oomblik, terwyl sy geweet het wat kom, het sy haar eie mense nie vergeet nie.

Sy sou skryf: “Ek het nooit kon dink mense kan so wees nie, en nooit het ek kon droom dat my broers en suster so moes ly nie. Ek bid elke uur vir hulle. Sal God my gebede hoor? God sal hulle sekerlik hoor.”

Nadat hulle twee dae lank in ‘n groep van 987 Jode en Joodse Christene op reis was, kom hulle op 9 Augustus in Auschwitz aan waar sy en haar suster in die gaskamers vermoor is.  Sy, die begaafde vrou, toegewyd aan Christus en aangegryp deur die kruis, het haar lydensweg, in navolging van Christus, voltooi in ‘n plek wat net so ru, net so vernietigend en net so godverlate was soos die donker kruisnag op Golgotha.  




No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive