Thursday, April 19, 2012

Die lasterlikhede in 'n mens se eie lewe.


Elke keer weer word ‘n mens tot stilstand gedwing by die boodskap dat godsdiens doodsgevaarlik kan wees. Trouens, soms, vertel die Bybel is daar iets demonies in aansprake van gelowige mense.

Dit ontdek ‘n mens wanneer jy die eerste dae van Jesus se bediening bedink en die kritiek wat Hy hom op die hals gehaal het.

‘n Mens kan jou moeiliker, in die gees van lectio divina, ‘n meer tragiese prentjie voorstel as die een wat Markus 3:22-23 voorhou:

Jesus is die Een wat mense bevry: Hy kom by iemand wat rasend, manies, verward en stukkend is. Deur ‘n blik van ontferming, deur ‘n vriendelik aanraking, bring hy die verwilderde mens tot bedaring. Met sy onpeilbare Teenwoordigheid bring hy die onstuimiges tot rus.

Op die manier, in hierdie ontaarde samelewing kry klompe mense nuwe hoop en breek daar vir hulle ‘n nuwe lewe aan.

Hulle word bevry en kom tot heelheid.

Dankbaar volg hulle die Een wat vir hulle die ondenkbare moontlik gemaak het. Hier, in Hom, ontdek hulle hoe kragtig ‘n mens se lewe omgekeer kan word. Nie eers die stukkendste lewe is verby alle hoop nie. Juis wanneer ‘n mens dink dat alles ‘n puinhoop is, kan nuwe lewe geskep word.

Hulle ontdek krag. En, meer nog, hulle herken in Jesus die Een wat hierdie krag verteenwoordig, uitleef en bemiddel.

En dan die tragiese:

Jesus gaan huis toe, na sy eie mense. Op pad na sy tuiste is daar vir hom geen ruskans nie. Sy reputasie veroorsaak ‘n samedromming. Soveel ellendiges versamel om hom, skryf Markus, dat hy nie eers ‘n kans kry om te eet nie. Die nood is groot. Vele herken hom as die Bevryder en wil naby hom wees.

En dan die reaksie van sy eie mense: hy het mal geword. Hulle herken nie meer hulle seun nie. Hulle sien ‘n malle. Iemand wat van sy sinne is.

Of die groter tragedie: die slim mense onder sy tydgenote is ook in die omgewing. Hulle huiwer nie om hul deurlugtige opinies te gee nie:  Hy is nie net mal nie, hy is besete. Hy word deur die Satan geïnspireer om sy reinigingswerk te doen. Sy genesing van die siekes en ellendiges is sataniese werk.

Die reaksie van Jesus is veelseggend. Volgens Markus 3:23 het Hy die skrifgeleerdes “nader geroep” en hulle “met voorbeelde” geantwoord. Lank praat Jesus met die mense wat hom belaster. Die krag wat die siekes in hom raakgesien het, vertel hy, kan tog nie demonies wees nie. Eintlik, vertel Jesus, beteken sy genesing van die besetenes dat Hy sterker is – want om duiwels uit te dryf beteken dat ‘n mens mag bo hulle het. Geduldig is hierdie gesprek waarin die inherente spanning en teenstrydigheid in die opponente se redenasie uitgespel word.

Die ironie tref ‘n mens in die gesig:  aan die een kant is daar die klipharde, volledig verinneweerde mense, keiharde sondaars wie se bestaan demoniese trekke aangeneem het en deur die ontmoeting met Jesus volledig bevry word. Hulle wat God verwerp, word nou volgelinge van die Een wat hom oor hulle ontferm het.

Maar – aan die ander kant, die vromes, hulle wat die Skrif deur en deur ken, wat aanspraak maak daarop dat hulle God se wil vir almal kan uitlê. Hulle word nou die afwysendes. Hulle kan nie dieper kyk nie. Hulle sien nie die ontferming en die genesende krag wat dit het nie. Hulle is blind vir die helende krag, onontvanklik vir die troostende werking van die Heilige Gees.

Wie blind is vir die heilige en hatig is oor ontferming, wie hard is van kennis en opgeblase is van slimmigheid, sal altyd skuldig bly aan die sonde. Hulle sal nooit vergifnis ervaar nie. Hulle bly tot in ewigheid verlore.

So godsdienstig sal hulle bly, maar sonder die krag daarvan.

So logies is dit.

‘n Mens kan die storie van die Skrifgeleerdes en die lastering teen die Heilige Gees afstandelik, onbetrokke en ook met ‘n self-verheffende genoegdoening (ek is nie so nie) lees. Veel wyser sou dit wees om die verhaal te lees as ‘n aansporing om die lasterlikhede in ‘n mens se eie lewe te herken en te ontmasker. 

Daar was, immers, nie net die Skrifgeleerdes nie.

Daar was ook 'n Judas, die een wat so vir die armes geskerm het.

En 'n Petrus, daardie rots onder die sterkes.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive