Ek het onlangs geskryf oor die briljante Joods gebore Edith Stein (1891-1942) wat gelowig geword het o.a. deur die reaksie van Adolf Reinach se weduwee toe hy in die oorlog gesterf het.
Haar bekering tot die Christendom in 1921 het nie sommer uit die lug geval nie.
Lank vantevore en nog tydens die eerste wêreldoorlog het Edith Stein ‘n katedraal besoek. Terwyl sy daar was het ‘n vrou die katedraal binnegekom. Sy het haar inkopie-sak by haar gehad. Toe Edith sien dat die vrou in die kerk kniel en bid, was sy verbaas gewees. Vir haar, skryf sy later, was dit iets heeltemal nuuts. Sy het vantevore sinagoges en Protestantse kerke besoek. Dit was plekke waarheen mense gegaan het om eredienste by te woon. Hier egter, het ‘n vrou uit ‘n besige winkel die leë kerk ingegaan asof sy ‘n intieme gesprek met God wou voer.
Sy skryf later dat dit iets was wat sy nooit sou vergeet nie.
Haar bekering tot die Christendom was ook vir haar ‘n herontdekking van die wat voorheen kosbaar was. Dit was vir haar ‘n terugkeer na geloof wat deurtrek was met die lewe. Dit het haar gebring tot die vaste oortuiging dat niks toevalligs is nie. Haar hele lewe, tot op die kleinste detail, was vir haar uitgespel in God se voorsienigheid. Alles wat met haar gebeur het, het sy geglo, maak totale en volmaakte sin in God se alsiende oë.
Haar bekering was nie buitengewoon dramaties nie. Dit het gebeur toe sy in 1921 by ‘n vriendin van haar gekuier het. Hierdie vriendin het sy al sedert die dae dat hulle albei studente van Husserl was, geken. Anders as sy, wat nie meer haar Joodse geloof vasgehou het nie, het die vriendin en haar man Protestante geword. Tydens haar kuier by hulle begin sy ‘n lewensverhaal van Teresa van Avila lees. Sy kon die boek nie neersit nie en het dit in een nag deurgelees.
Sy vertel dat toe sy die boek toegemaak het, sy vir haarself gesê het: “Dit is die waarheid.” Op die manier het die lewe van Teresa van Avila, eeue na haar dood, mense, nie-Christene, nog geïnspireer.
Die vriendin was aan haar sy toe sy op 1 Januarie 1922 gedoop is. So diep was sy deur Teresa beïnvloed dat sy in ‘n klooster wou gaan woon, maar haar geestelike begeleiers het haar afgeraai om dit te doen. Op die manier sou sy ontdek dat ‘n lewe in die geloof nie beteken dat ‘n mens aardse dinge moet prysgee nie. Sy skryf: “Langsamerhand het ek geleer dat ander dinge van ons verwag word. Hoe nader ‘n mens aan God kom, hoe meer sterf ‘n mens jouself af deur in die wêreld in te gaan en die goddelike lewe daarin in te dra.” Daarom het sy in die volgende paar jaar verskeie akademiese werke oor belangrike geestelike denkers geskryf. Haar akademie het vir haar die kans gegee om, soos sy geskryf het, ‘n instrument in God se hand te wees. Vir haar het haar werk vir haar geleenthede gegee om mense na God te lei.
Maar 1933 sou ‘n dramatiese ommekeer in haar lewe bring. In hierdie jaar sou haar kruisweg begin. Hieroor later meer.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.