Liefde is 'n onderwerp waaroor ons baie en graag praat. Die saak van liefde hou ons gereeld besig.
Maar: liefde is nie bloot net 'n pragtige saak waaroor 'n mens graag praat nie.
Liefde gaan oor verhoudinge waarin 'n mens betrokke raak en betrokke is, oor bande wat mense aan mekaar bind.
Hierdie bande is nie oppervlakkig, geskoei op gevoelens van jammerte en op sensitiwiteit vir ander mense nie. Liefde is nie iets wat 'n mens "moet" bewys nie, wat ek as 'n swaar verantwoordelikheid beleef nie.
Wanneer 'n mens lief het, gaan dit om 'n verhouding van goedgesindheid waarin 'n mens vir ander die allerbeste toewens. Jy wil graag dat hulle 'n vol, ryk, gelukkige lewe moet voer.
As 'n mens vir ander omgee, wil 'n mens graag dat dit met hulle goed gaan.
Maar dit is net een deel van die prentjie. Daar is 'n dieper dimensie aan die liefde.
Egte liefde is baie sterker as goeie wense. Egte liefde is geanker in 'n dieper visie van wie ander mense is.
Om lief te hê, beteken om na ander deur God se oë te kyk en om vir ander om te gee soos wat God vir hulle omgee. Daarmee word 'n mens deel van 'n verborge, mistieke ervaring. Wanneer 'n mens in 'n verhouding met ander is, is dit 'n verhouding wat deur die onsegbare, deur die onuitspreeklike gedryf word.
Dit besef ek weer die week toe ek lees hoe God, ongeag die houding van die Joodse volk en die eerste Christene in Handelinge 10, die Heilige Gees oor alle mense uitstort - of hulle nou gebore Jode is of nie. Kornelius is maar een van baie voorbeelde van mense wat ook hul Pinkstermoment gehad het. God het ook vir Kornelius aangeraak en vir hom nadergetrek om die geestelike weg te loop.
Met watter oë van genade het God tog nie na hierdie soekende mens gekyk nie.
God se liefde is nie halfhartig nie en beperk tot sommiges, tot die uitverkorenes, die gelukkiges nie.
God se liefde word nie in die algemeen, so in die lug, verklaar nie.
God se liefde word bewys, word prakties uitgeleef. 'n Mens sien en beleef dit. Die goddelike liefde gaan uit na mense wat ongerekend is, wat buite staan. Hulle word konkreet ingetrek in en omring deur die liefde.
Wanneer 'n mens na ander kyk, sien 'n mens in hom of haar iemand vir wie God op hierdie manier lief het. Die liefde van God roer 'n mens om ook so lief te hê.
Daarom gaan dit in liefde om veel meer as die wens dat ander mense gelukkig sal wees. In liefde gaan dit om die vreemde geheimenis dat God aan die werk is in die hart van ander, soos dit ook in my innerlike gebeur.
Wanneer 'n mens dus na die ander kyk, sien jy veral iemand raak vir wie God omgee. Liefde vertel van hierdie ander, dieper Kyk.