Tintoretto: Christus was sy dissipels se voete
‘n Voorste Suid-Afrikaanse bank het hul senior bestuur se bonusse met 71 % verhoog. Die top-amptenaar, Maria Ramos, kry ‘n R20 miljoen rand vergoedingspakket. In die lig van die huidige ekonomiese omstandighede, sê die bank, is dit wonderlik dat sy goedgunstiglik ingewillig het dat die bonus eers oor die volgende drie jaar uitbetaal word.
Intussen word, as ons die berigte moet glo, byna 3 000 werkers van die bank stilletjies afgedank. Boonop word ook aandag gevestig daarop dat daar geen sinnige ekonomiese rede is waarom mense so ‘n enorme verhoging in bonusse moet kry nie.
Sommige kommentators wat daarop wys dat die inkomste van die bank slegs met 1% gestyg het en dit terwyl die bestuur ‘n styging van 71% in hul bonus-betalings kry, noem dit “plunder op sy beste”.
In ‘n land waar meer as die helfte van die mense onder die armoede-grens leef (van R432 per maand in 2006), is hierdie syfer meer as vulgêr. Party mense beweer dat meer as die helfte van die bevolking leef van minder as R144 per maand.
Ek gesels hierdie week met ‘n ouer persoon wat vir 'n karige salaris in ‘n garage werk. Hy vertel my, rustig en sonder verwyte, dat hy R800 per maand net aan sy petrol werk toe en terug spandeer. Hulle as gesin het nou ‘n punt bereik dat hy vir sy vrou gesê het hulle sal nie sommer net winkel toe kan ry om iets te koop nie. Hulle sal net sekere tye kan ry wanneer dit absoluut noodsaaklik is.
Natuurlik is hy welaf in vergelyking met die miljoene wat nie eers R800 per maand verdien nie, laat staan nog om dit op petrol te kan spandeer.
Maar dit neem nie weg dat armoede onder mense, swart of wit, aan die toeneem is en dat dit een van die grootste redes is waarom mense se waardigheid en lewenskwaliteit aangetas word.
Vergelyk dit nou met R20 miljoen rand se bonus. Vandaar die brak smaak in die mond.
Ek dink nou ook aan die beelde wat vanaand op die televisie afspeel van mense in oproer oor die 77 jarige pensioenaris, vroeër ‘n apteker, wat homself om die lewe gebring het in ‘n park in Athene omdat hy binnekort, skryf hy in ‘n brief, kos by die vullishope sou moes gaan soek.
Op die vooraand van Goeie Vrydag, die groot Dag van self-opoffering, laat die gedagtes ‘n bitter smaak in die mond agter. Soveel jare na die koms van die Ontfermer in ons midde, is daar nog ongekende ongelykheid en lyding, vulgêre self-verryking en ongevoeligheid.
Op Goeie Vrydag breek ons die brood in gedagtenis aan Sy pogings om ons te bring om met mekaar te deel, bevry van ons selfsug. Ons onthou sy gebreekte liggaam, verbrysel deur die magtiges van die land.
En hierdie gedagtenis aan sy offergawe inspireer ons om soos Hy te bly gee, voluit, sodat mense die beloofde land kan ingaan – nie net vry van sonde nie, maar ook vry van alles wat hulle van hul waardigheid en menslikheid stroop.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.