Wednesday, April 25, 2012

Onderskeiding deur 'n leraar

Die Siro-Fenisiese vrou kom na Jesus sodat haar kind deur Hom genees kan word 


Jesus weier: die brood wat hy breek, gaan na die kinders. Dit is nie goed dat die kinders se brood vir die honde gegooi word nie. 


Die vrou is 'n Griek en daarom het sy nie dieselfde status as 'n Jood nie. Hy bring sy boodskap aan Jode, nie Grieke nie.


Die vrou verdra Jesus se skerp woorde. Sy aanvaar dat sy minder as die Jode is. Maar sy aanvaar nie dat daar nie na haar kant ten minste broodkrummels sal kom nie. Jesus, weet sy te goed, is immers die "Here" - soos sy Hom aanspreek.


Jesus gee toe. Hy hoor haar versoek en verander sy standpunt.


Daarom antwoord Hy:


"Oor hierdie woord"  kan sy teruggaan na haar dogter wat intussen genees is. 


Sy het 'n woord gespreek tot Jesus en dit het Hom beweeg om haar te help. Sy leer Jesus om te onderskei, om die regte ding vir haar te doen.


Hoe groot is Jesus, die Groot Leermeester. Hy lewer nie net die groot woorde nie, maar soos 'n briljante leermeester, kan hy ook luister en leer. 


Net soos in die tuin van Getsemane leer Hy om die wil van die Vader beter te leer ken. In die tuin bid Hy dat God se wil in sy lewe sal geskied, nie sy wil nie. 


Dit was nie die eerste keer dat Jesus God se wil vir sy lewe biddend sou ontdek nie.


In Tirus het 'n vrou, as sy eenvoudige, maar wyse leermeester, vir Hom gewys wat God se wil is. En God se wil is dat almal, selfs die vroue as die mees misrekende mense, die goddelike genade en boodskap moet ontvang. 


Die vrou was 'n leermeester van die Leermeester.

Blog Archive